7/01/2011

Prince Albert - Hel - Rouxpos


Die Swartberg pas bied lekker beskerming teen die helse wind, maar die wind bring reën en teen die reën is daar geen beskerming nie en my pogings om Tim te vang word deur die modder meegesleeur, die modder en my gekrokte fiets wat nou drie rye spore gly.

Kom 17H00 aan in 'n baie nat Hel, die misreën vang my met die laaste klim. Kry Tim weer by die kombuis, hy wag dat ek klaar eet en ons trek 30 min later daar weg. Ek dink toe maar so by myself al waarvoor die wind goed is, is vir my prostaat, dit laat dit lyk of ek baie ver kan pee !

Nou kyk my pikante lyfie is gebou vir downhills, nie vir nuut geskraapte modderpaaie met die duiwel se wind van voor nie. My diff sak weg en dit lyk of ek op een plek klits en so begin die gemors. Die wind het my go weggewaai en ek sukkel die leer uit, het nie bene nie en ek sweet soos 'n vark in Palistina. Die leer is 'n bliksem in die nag en wanner dit nog reën ook word dit net erger, dis soos 'n doolhof elke padjie wat jy vat loop op 'n doodloop uit, al genade wat oorbly is boontoe, iewers bo sal ons 'n meer deurtrapte padjie vind. Ek laat weet Tim hy moet gaan, ek hou hom terug, my gawe partner verseker my dat ek netnou weer sal beter voel, ons deel 'n biltong en 'n coke by die uitkykpunt. Tim sê hy gaan solank en met die wegtrekslag sal ek sien my voorste derailer is deur 'n een van David se takke op die Leer uit posisie gebuig.

Sukkel sukkel maak ek die ding reg en trek toe weg, Tim se liggie is reeds vir my verlore. So karring ek aan, die pad is ook deur die Sondvloed verspoel, ek kom by 'n 30m krater wat uit die pad gespoel is al genade is die ompad en ek reken dis so 5km langer en besluit toe maar om die krater aan te val. Dis 'n goeie 5m diep besaai met moerse klippe en opdrifsels, ek spring van een klip na die volgende met my gekrokte fiets, vat my seker 'n goeie 15 minute om ander kant uit te klim. Die laaste 10km na Rouxpos voel soos 'n ewigheid, dit wil net nie klaar nie, en met my aankoms by Rouxpos vind ek dieselfde Sondvloed het ook hulle pad verspoel, die keer seker 'n hele 100m, ek is by Rouxpos ek sien die ligte en tog is ek nog nie daar nie en so ploeter ek deur die gemors tot teen 3H30  eindelik Rouxpos bereik. Tim was net na middernag reeds daar en hy sê ek moet gou slaap en saam met hom in die pad val maar ek reken niks gaan nou gou gebeur nie, ek het mos al die foutjie begaan en ek gaan nou eers rus en dan 9H00 in die pad val......

No comments:

Post a Comment