6/23/2013

Dag 8 Elandsberg - Struishoek 'n laaaaang dag

So deel ek mos gisteraand 'n kamer met die Baas snorker, en as ek baas se bedoel ek GROOT BAAS, baas van alle base. Nou ek self kan ook 'n balk of wat saag, maar smaak my die man saag die wêreld se bome af. Ek dog toe maar by myself, self is ek baie moeg en gaan dalk nie die man hoor nie, jy moet blykbaar baie moeg wees om nie te kan hoor nie.

So staan ek toe maar moeg op, moeg om hard te ry, moeg om net te ry en sommer moeg vir alles. Ek dink die flippen koue dra ook by tot my moegheid. Ek besluit om vir my 'n doelwit te stel, kyk ek het 'n goeie slaap nodig. Ek jaag die Baas snorker en sy twee trawante om lewendige bome te kan sien, ek gaan 'n plan moet maak, nog 'n aand van min slaap gaan nie werk nie. Amanda van Stuutgaurd laat my met haar twee prinsesse, hulle het 'n troue bygewoon op die dorp en die twee prinssese sorg nou vir my, ek haal boet Werner se briefies uit sy box en verlang sommer weer na my boet en met huimwee val ek alleen in die pad.

David het die roete verander en ons volgende stop is Grootdam, 'n heel ander onbekende pad en ek jaag om die pad in daglik te aanskou, nie nou tyd om op vreemde terrein verlore te raak nie. August het my darem verseker dat die pad darem nie te moeilik is nie. Laaste lig kom ek by Grootdam aan en ek vind 'n hele groot groep manne wat die Baas snorker insluit, ek gaan verseker nie vanaand luister hoe die Baas snorker die plek afbreek nie en bel toe maar die Baas van die Struishoek Hotel, dadelik reël hy vir my kamer en rus en vrede.

Oom David en tannie Verity is die beste ! Hulle is nie tuis nie, iewers in die Baai, maar vir my maak oom David gou 'n plan, my gewone kamer sal vir my gereed gemaak word en ek is hulle ewig dankbaar vir die opoffering. Streishoek bly 'n bliksem, dis nie ver af teen die berg nie, maar besaai met klippe en die ongelykte klippe vreet tyd, sommer baie tyd.

'n Brandende kamerlig begroet my by die Struishoek Hotel, my tafel is voorberei, my bed gemaak, my beker loop oor, na rus en vrede word ek begelei, vanaand gaan ek lekker slaap, sommer baie lekker.

More gaan 'n nuwe Marnitz opstaan !!!

6/22/2013

Dag 7 Brostelea - Elandsberg

Staan 4H30 op, Andrew is reeds weg, weet nie of hy dalk nie saam met my wou ry nie, of dalk 'n ent wou ry voor ek hom vang, maar ek vreet die pad op soos 'n ontspoorde vrag trein. Voor die eerste afdraai kry ek vir Andrew, sê hy sal maar sien hoe dit gaan, sy gewrigte is baie seer, ek moet maar aanstoot, as hy beter voel sal hy my later probeer vang, hoor later hy het toe genoeg gehad.

Die groot voordeel van die race al 'n paar keer gery het, is dat jy die roete ken. Die nadeel is jy dink jy ken alles, en dan ken jy nie alles nie. Volg die volgende racing snakes Martin en Jeanie se spore en draai te vroeg links, gelukkig net 'n klein foutjie op Aasvoëlberg gemaak, my seker ander half uur gekos tot groot vemaak van David en sy bende wat my vordering groot oog op die tracker sisteem dophou.

Ek ry nou onder die radar, vertel niemand van my planne nie, al planne word oor die lug uitbasein, net Meryl en my liewe Ingelse vrou weet wat ek wil aanvang.

Laas met die boere komando het Generaal Crous besluit ons doen nie Elandsberg in die nag nie. Wel vanaand het ek weer, en ek kan eerlik sê sonder 'n vol maan is dit nie maklik nie, draai te vroeg af op 'n verlore padjie wat vir my vaagweg bekend lyk, amper Glen se slaap plek by hom oorgeneem. Besluit die verlore pad lyk glad nie bekend nie en draai om, om die regte pad te vind wat lei na 'n lekker bed en warm kos by Elandsberg.

Daar is nog drie manne wat Elandsberg met my deel, twee het besluit die een slaap in sy eie kamer, hy saag nie balke nie, hy breek hulle en dis nou my voorreg om die gebreek van balke met hom te deel. Slaap kom gewoonlik vinnig op die Freedom, maar die man breek die balke so erg, dat hy Klaas Vakie heeltemal verwilder en die nodig rus wat ek so nodig het kom glad nie gou nie. Toe ek wel van erge moegheid oorgee aan die gebreek van balke en slaap kry, besluit die manne dis tyd om op te staan, ek besluit toe maar om 'n uur te steel en nog vir 'n rukkie in te lê sonder die gebreek van balke.


6/21/2013

Dag 6 Slaapkranz - Brostelea

Trek 4H00 weg, die sterre is prentjie mooi, verskietende sterre om te vang en ek vang hulle en ek maak my wense. Die wind waai sommer al vroeg vroeg, en dis nie 'n spelletjies wind nie dis 'n Regte Wind.

Met die wind weet ek sommer dit gaan 'n lang dag wees, want as jy nie mooi kyk nie waai hy jou sommer van jou fiets af. Gelukkig ken die Westransvaal se winde en hierdie een is maar net 'n niggie. Ek vang my eerste dooie racing snake net voor Rossow, dis ek alleen teen die wind en David se rankings en dis genoeg aansporing om hard te ry. Stop vinnig by Danie van Moordenaarspoort vir 'n lekker ete om nuwe kragte teen die wind in te neem, Andrew het gisteraand daar geslaap en as ek my gat roer teen die wind kan ek baie inhaal op hom.

Kom laaste skemer my Sandra aan, ek het nog nooit daar geslaap nie en sy is baie oortuigend en gasvry en dan maak sy nog smul lekker kos ook, teen my sin gee ek toe ek kan mos teen middernag weer wegspring en hopelik het die wind dan weer gaan lê. Ek laat weet vir Meryl van my planne net om 'n oproep van haar te ontvang dat Andrew by Brostelea gaan oornag, sy gewrigte is baie seer en hy gaan bietjie briek, hy wag vir my, en eensklaps verander my planne. Saam kan ek en Andrew die rankings klim, Andrew is 'n baie aangename man en dit sal 'n groot voorreg wees om saam met hom te kan ry.

18 uur se stoei met die wind is nie grappies nie, ek wou al vanaand op die fiets slaap, maar hou nog nie my oë lank genoeg toe nie.

Kom laat nag by Brostelea aan, Andrew slaap reeds, dis 'n nood stop en ek is op my eie kos oorgelewer, Andrew sal my seker wakker maak wanneer hy opstaan.

Wat gaan more oplewer ?

6/20/2013

Dag 5 Rhodes - Slaapkrans

David lig my vanoggend 3H00 in, nadat ek vir sy slim plannetjie alternatiewe roete geval het, en 'n 6 uur day light penalty vir vinniger fiets moes uitsit, dat ek nie eers deel van die rankings is nie, bekleed dalk 15de of 20ste of iets....

Ek is vroeg op, jaag 'n ontbyt deur en lus vir die pad, Robbie paat iets van sy hartklop is nie lekker nie, ek het genoeg gewag en val met 'n mededingende wildheid in die pad, Robbie sê hy kom later.....

Ek is so half ontsteld oor David se woorde, maar hy praat die waarheid, ek is nêrens op die leaderboard te siene nie en al manier om dit reg te stel is om my plek terug te wurg en ek is baie lus daarvoor, elke keer as ek spoed verloor weergalm david se woorde in my kop en die woorde spuit nuwe krag in my bloed. Al ry ek myself vrek op die race, ranking sal ek kry voor ek vrek. Die pad snel verby en voor ek weet bevind ek myself in Andrè en Joyce se warm kombuis, more gaan ek meer inhaal op my verlore tyd.

Ek weet nie of ek die pedigree het vir rankings nie, maar Rhodes - Chesney World 5H20 en Chesney World - Slaapkrans 4H00. Seker maar average vir 'n snake, sal maar sien wat hier uitbroei.....

Dag 5 Malekgolanyane - Rhodes

Spring vroeg weg, dit help die die Freedom Challenge al 'n paar keer te gedoen het, navigation spot on !!!
Ek, Robbie en Gaeren Wilkonson breek die pad oop, Andrew King kry ons by Blackfountain, Andrew is 'n baie goeie pel van my en dis sommer lekker om hom saam met ons te hê, maar Andrew het ander planne, hy is lus vir jaag en ek het my lus vir jaag verloor met al die ontberings die laaste paar dae. Net voor Tinana besluit Andrew op 'n ander roete, hy regs en ons links en dit wakker die racing snake in my en dadelik besluit ek om te sien wie eerste in Vuvu aankom.

Op pad na Vuvu, soek ek heelpad Andrew se spore, hier en daar sien ek iets, maar dit lyk oud en ek vermoed hy is iewers agter ons, die pas verlaag bietjie en ons geniet 'n lekker coke net voor die Vuvu vallei.
Met ons aankoms by Vuvu is Andrew reeds daar, klaar ge eet en gereed vir Lehana's, ek wonder so bietjie of ek nie moet saam nie en besluit toe maar om by Robbie en Gaeren te bly.

Robbie se hy hou nie van fiets dra nie, ons moet dalk die alternatiewe (makliker volgens David) gebruik om Rhodes uit te kom. Hy wat David is wil ook sommer kyk wat die tyd verskil tussen die twee is. Die wat nou nog nie weet nie : " Ek's 'n sucker vir Punishment " stem toe maar in, net incase ons terug kom met die tandem en bang raak vir Lehana's

Robbie sê hy ken die pad, het dit op 'n vorige geleentheid saam met Tim verken en ons hoef nie te worry nie, hy sal ons die pad wys, met die afdraai na Lehana's wonder ek so bietjie of ek nie moet afdraai nie en besluit toe maar daarteen en val agter Robbie in. David se roeteaanwysings is nie altyd reg nie, en ek bevind my op baie onbekende terrein op 'n padtjie wat glad nie eers vir Robbie bekend lyk nie. Ek het glad nie kaarte of roete aanwysings van die deel nie, dit was glad nie deel van die plan nie, Robbie besluit ons is op die verkeerde pad en ons draai om, hy bel vir Tim wat bevestig dat ons nog 'n hele 5km of meer weg is van die regte afdraai.Kry toe die bleddie ingang na 1H30 se soek 5 km aan, net om uit te vind dis 'n 20km klim, in plaas van die 4km Lehana's klim, Sucker....... Sal nie weer so gevang word nie.

Ek is nie iemand vir wonder en ploeter nie, dit mors tyd en hoe langer ons in die donker rond neuk hoe later gaan ons by Rhodes uitkom, Robbie kry die regte bekende pad, nadat ek en hy oorleg met sy kaarte gepleeg het, bo op die plato vat ons weer 'n verkeerde pad, ruk die kaarte uit en kom weer op die regte pad.

Die duiwelse wind begin waai, Gaeren trek amps en dit word elke man vir homself en ek besluit tussen portage en 'n moerse styl opdraande teen die wind ry, kies ek portage " Fiets in die hoogvoor !!!" Gaeren se lig kwyn in die verte, Robbie is so ent voor my en bo op Naudes nek split ons paaie ook, 'n bulldozer is vir krag gemaak, regop teen die berg, nie 'n lang uitmergelende klim teen die wind nie, die ompad is 'n OMPAD met 'n moerse lang ompad en ons het baie tyd verloor, kon nou al in Rhodes gewees het.

2H30 in Rhodes na ons die moerse maklike 20km klim roete gedoen het....Andrew King is lankal in droomland, hy staan al amper op en ons kom nou eers hier aan en die bestel van alles is David wat vir my vra wat het van my ranking geword, ek is seker 20ste op die lys.........en dit wakker die tier in my gaan, more gaan ek nie wonder of rondneuk nie, more gaan ek race, die geploetery is nou verseker verby !!!!

David het seker gedink ek is 'n mushrooms, hou my in die donker en voer my poep....hierdie mushroom het gelukkig nou genoeg poep gevraat.



6/18/2013

Dag 4 'n Droewige dag Masakala - Malekholonyane

Ek het rooi miere in my gat en loop soos 'n hoender op warm kole in afwagting vir die fiets. Trane skiet elke nou en dan in my oë, die ding met my boet is nie lekke nie, ek sou graag wou he hy moet klaar maak, maar hy kan nie eers lekker loop nie.

8H30 en die Rush land, ons maak gou verstellings, nuwe bande, dra my saal oor, pak die fiets, nuwe casette en ketting en goeie wense.

Ek vlieg weg met 'n stywe handruk van my broer, die race gaan ek vir jou en www.ablecentre.org.za se kinders klaarmaak. Agt kilo's weg onhou ek on het nie spaar brieke gevat nie, die grondpad van hel skud my saal los en my multitool is ook soek. 'n Mamma leen my 'n tang en ek maak vas so goed ek kan, ek moet nou spoed vang. Kry vir Robbie op Mparane ridgeline, Robbie soek rigting en is bly om my te sien, David se narative met so kilo te kort.

Ek is 'n spoedvraat vreet die pad op soos weeshuis kinders koekies verswelg, alles loop lekker tot die agterste derailer besluit om te gaan, gelukkig is Robbie by en sy multi tool naby en my speedster verander in 'n single speed. Ek verduidelik vir Robbie die pad en hy maak soos beesmis, val in die pad.

Die single speed is 'n nuwe uitdaging, snaak hoe die lewe werk, ek begin op 'n tandem, dan na 'n gewone fiets en nou sit ek op 'n single speed, dit vat my 7 ure tot by Malekholoyane. Die single speed is nie te sleg nie en uit ondervinding weet ek Glenn was nie te stadig op 'n single speed nie, dan moet ek dis mos ook kan doen.David kry my en kan sy lag nie inhou nie, wat volgende, single speed tot in die Kaap ?? David bied aan om unicycle te kry net om die verhaal mooi in te kleur.

Gelukkig kom Francois Riekert tot my redding en leen 'n derailer en shifter, werk tot laat nag onder 'n dowwe parafienlig om die nodige verstellings te maak. Martin en Jeanie Dreyer daag op, hulle is besig met hul "Honeymoon" , hoor wat my planne is en of ek nie dalk saam wil ry nie. My enigste plan is om seker te maak die fiets is reg, nogal sleg om op 'n fiets te ry wat nie gediens en voorberei was vir die Freedom Challenge stryd nie, weet nie wat more vir my gaan inhou nie, maar as dit beteken dat ek my fiets vir hardloop sknoene moet ruil sal dit seker ook maar oraait wees.....

More, wel more gaan ek bietjie loop net om die fiets te spaar....

Dag 3 Die Blou trein ontspoor...

So gebeur elke ding met 'n doel en dis die Liewe Vader se doel gewees om die trein vandag te stop.

Ons staan eers laat op, baie later as wat enige Freedom Challenger veronderstel is om op te staan, Ons mikpunt vandag : net Masakala, ek moet Werrie kans gee om te herstel, Rome is nie in een dag gebou nie en die Freedom Challenge word ook nie in een dag oorwin nie. Die kwelling in my is besig om te groei, hopelik kry Werner se knie kans om te herstel, al probleem is dat elke dag op die Freedom Challenge moer hard is en al vat jy dit stadig dit bly moer hard. Stadig bekruip ons die opdraandes, ek werk so bietjie harder om die lading van Werner se knie af te haal, al moet ek bloed sweet maar die ding gaan ons albei klaar maak. Ek dink dis die ekstra bloed sweet wat my konsentrasie tap en ek maak 'n foutjie in helder daglig, eintlik 'n moerse foutjie wat ons 'n hele paar ure terugsit. Ek draai te vroeg regs nadat ons die Mzimvubu rivier kruis, seker maar die stadige klim wat my vroeër laat draai, ek weet wragtig nie hoekom ek die foutjie begaan het nie. Terwyl ons besig is met die klim word ek onseker oor die pad en met ons aankoms bo, bevestig ek aan Werner dat ons te vroeg gedraai het, ons het 'n keuse om om te draai, of om links te draai en dan deur die veld te ploeter, ons behoort darem op dieselfde kontoer te bly en Werner se knie te spaar. Ons besluit op die tweede keuse en allles verloop goed tot die aarde voor ons oopskeur en ons teen die kranse moet afdonner en annerkant weer moet bobbejaan klim om bo te kom, ek neem beheer van die tandem en my gemoed word briesend vir myself en my dom fout. Dis nie hoe mens jou boet se knie spaar nie, hierdie is meer soos 'n army opfok, ek stoei die tandem teen die kranse uit,  Werner klim uit, bogekom sê Werrie vir my hy weet nie meer nie en voor hy verder kan praat prop ek hom vol pynpille en vertel hom die Freedom is met pyn besaai. Almal het pyn op die Freedom, dalk nie dieselfde graad nie, maar pyn sal daar altyd wees en om die pyn te oorwin moet jy nie net vasbyt nie, jy moet deurbyt en dis nou tyd om deur te byt.....

Werner byt vas en ons vorder goed, op die trein is hy okay maar wanneer ons moet stap is hy glad nie lekker nie, ek kan sien die man verduur baie pyn alhoewel hy dit probeer deurbyt. By die cooka shop net voor Gnolintaba koop ek 'n coke en 'n pakkie slegte sigarette, ek rook nooit op die Freedom nie, seker drie maande gelede al opgehou, maar die kwelling in my laat my toegee. Werrie vra my wat maak ek en ek sê dis nou tyd vir rook.......

Werner stoei Gnolintaba uit, eintlik kruip hy dit uit, teen die slakke pas kan ek nou al die trein baie gemaklik uitstoot, ons vang 'n blaaskans net voor die grondpad, ek teug aan 'n slegte sigaretjie en Werner staar die verte in en ek wonder wanneer gaan hy my sê, hy's nou klaar, gelukkig is Masakala nie ver nie en ons behoort 'n goeie rus vir more in te kry.

Op die laaste opdraande oppad na Masakala stoot ek die rook en al my frustasies uit die tandem tewyl Werner die opdraande uitstoei, 'n groot ou mamma prwel iets van Aikona en Werner besluit net daar en dan hy het genoeg gehad. Wat de moer nou ? Ek kan die tandem alleen ry, maar daar lê nog 'n paar berge voor en hulle gaan verseker hulle tol eis, ek bel vir Glenn in Rhodes om te hoor of ek sy fiets kan leun, geen probleem nie ek moet net daar uitkom oor Lehana's met die tandem.......

Met 'n somber hart ry ons die laaste stuk na Masakala, dit was 'n groot droom vir my om die Freedom saam met my boet te kon ervaar, die kwelling in my hart maak plek vir 'n skuldgevoel, dalk het ek my boet te hard gedruk, dalk moes ons dit rustiger vat, al wat ek weet is my droom lê aan skerwe. Ek bel vir David om hom in te lig van my situasie en sommer om die daglig straf te bespreek. Dis 15H00 by Masakala en ek kry 'n daglig straf van 6 ure wat betekin dat ek vandag 3ure moet uitsit en more van 6h00 tot 9H00 die oorblywende 3ure moet uitsit indien ek 'n ander fiets kry. Ek oorweeg my opsies, Glenn se single speed by Rhodes en dan 'n 6ure daglig straf, of Werner leun vir my, my ou fiets en hy reël iemand om dit te bring na Masakala en ek begin solank met my tydstraf. Ek maak die wyse besluit om vir my ou fiets te wag, op die stoep rook ek die een sigaret na die ander in afwagtig vir die son om te sak en my eerste 3 ure klaar te maak. Robbie sluit weer by ons aan, later die aand sluit Scott James en sy span by ons aan, en al wat ek kan doen is wag, Werner het gereël dat iemand  my ou Cannondale Rush vir my bring, hy behoort more vroeg hiet te wees. Werner is moedeloos moeg en seer en lê hinderlaag tewyl ek die Blou Trein ontspoor en ontneem van al sy parte wat ek gaan benodig vir die Rush, al wat oorbly is om die geveg more na 9H00 moedig voor te sit.

Dis nooit lekker om hard te werk vir 'n doel en dit dan nie te bereik nie, gelukkig het ek en Werrie nou 3 ekstra spesiale dae om oor te kan praat. Die Freedom Challenge is 'n harde race en dit het al klaar 'n paar groot manne in hulle spore gestop in die verlede. Werner het hard geoefen en sy voorbereiding was goed, hy het ons in 'n B seeding op die Sani ingery en glo my as hy kon aangaan sou hy.

Ek en hy het saam besluit om die race op 'n tandem aan te pak om geld in te samel vir 'n skool vir kinders met outisme. Die rede vir die tandem was om dit juis moeilik te maak vir ons, in 'n poging om te probeer ervaar wat 'n kind met outisme elke dag ervaar. En ek dink ons het 'n smakie daarvan gehad. Enigeen wat 'n donsie wil maak kan dit doen op www.ablecenre.org.z

En nou, wat maak ek nou ???