5/16/2015

Die Hyena's en Operasie Cycle Ops

Oor 'n maand trek die Hyena weg op die Freedom Challenge, die bene voel goed, die kop is reg, ek is versigtig maar nie bang nie. My pa het nie bang kinders groot gemaak nie, versigtig ja, maar glad nie bang nie.

Ons is die heel laaste batch wat wegspring, die sweepers of in Afrikaans die Hyena's, bly voor ons en jou kos is veilig, vang ons jou kan ons dalk die lekkernye in jou boks opvreet......




Dis die jaar van die Hyena's, ek glo die wenner gaan een van of dalk al die Hyena's wees, daar mag 'n donker perd iewers in die donker skuil wat dalk 'n opskudding in die trop kan veroorsaak, net tyd sal leer........

Al wat ek weet is dat ek my gat af oefen, 'n heel ander oefen program die jaar gevolg. Aan die begin van die seisoen wat vir my eers laat in Januarie begin het, het ek gefokus op lank en vrek ver, tyd in die saal, brei die boude en maak die spiere wakker ritte. Die vrek ver brei die boude oefeninge is gestaak na die 361 in Outshoorn, na die 361 was die boude leer en ek glo die spiere wakker en ek was so half gatvol vir lank en ver, dink die toestand van ons verkrummelnde paaie het ook iets daarmee te doen gehad.

My spanmaats het iets gedoen wat hulle HIIT noem, blykbaar klim jy op 'n fiets en bliksem jouself goed op vir so 3 of 4 sessies van 12 minute met 'n klein bietjie rus tussen in. Vir my het dit soos 'n goeie army opfok geklink, ek was in die army vir 'n lang tyd, gedurende die eerste jare was ek aan die ontvang kant en latere jare aan die uitdeel kan, en klink vir my ek was 'n baie vernuftige en bekwame uitdeler.

Ek het voor 'n keuse gestaan : Lank en ver op ons lank vergete opgeneukte paaie of ek reël  my eie army opfok vir myself, eintlik maar 'n maklike keuse gewees te kyke na ons paaie.......

Ek beskik oor 'n kapstok wat op 'n baie gelyk vloer staan, hulle noem dit 'n Cycle Ops of so iets, die ding staan stil op een plek, jy sweet verriklik op een plek en sonder om 'n tree te beweeg fok jy jouself lekker op. Ek besluit toe maar op Operasie Cycle Ops, die ander manne noem dit HITT's, stof die ding af en begin die watts maak. Ek trap die rook uit die aarde uit, kyk jy kan nie ophou trap nie, want as jy ophou bliksem die ding jou oor die handle bars vir jou straf, iemand praat iets van ek moet vir 'n uur lank trap en dan die gemiddelde Watts kry wat ek vir die load shedding opgewek het.

En ek trap die kapstok, en ek sweet 'n plas bloed wat my plankvloer wil oplig en na 'n uur kry ek 'n gemiddeld van 130 Watts, en ek vra die slim manne en hulle sê ek moet kyk of ek dit nie kan opstoot na 140 of einlik 160 Watts gemiddeld in 'n uur nie. Heel trots op myself besluit ek om meer kundigheid in te win oor my nuwe opfok Opersaie Cycle Ops oefen program en dis toe ek uitvind dat ek of heeltemal kak is of daar is groot fout met my kapstok.

Die hoog leraars beweer ek behoort baie maklik 500 Watts te kan trap met my piekante lyfie as ek net opstaan en trap, ek begin fout soek en vind uit die kapstok beskik oor batterye, wat seker nie meer goed werk na sewe jaar se kapstok werk nie en dan moet die kapstok nog gekalibreer word ook en dadelik weet ek hoekom die ding 'n kapstok geword het !

Ek kry toe nuwe batterye en leer hoe om die kapstok te kalibreer en walla Operasie Cycle Ops neem volle swang en op 'n gereelde basis fok ek myself op, Melanie en die kinders sê ek maak baie snaakse geluide tydens die sessies en ek verseker hulle ek was die meester van 'n army opfok, dit moet so klink.

Werk dit ? Ek weet nog nie, net die tyd sal leer en as dit nie werk nie, is ek besig om vir my 'n ordentlike opfok te reël tot in Rhodes waarna ek weer my normale self sal wees........

No comments:

Post a Comment