5/21/2012

Ons Eerste Oorlog

Die Blou trein na die Sani2C oorlog


Daar het jy dit, Werrie is nou 'n regte tandem stoker. Werner was baie onseker oor die hele tandem idee< hy het immers voor die Sani nog nooit tandem gery nie. Meer bevrees was my ma, sy dink mos ek is 'n tiran en dat ek almal wil opvreet vir breakfast, Melanie het haar egter verseker dat ek 'n baie bedagsame vredeliewende wese op 'n fiets is. Ek weet my lont is nie baie lank nie, maar ek glo baie weet dat ek heeltemal 'n ander mens is in die naruur, waar ek die werking en liefde ons ons Hemelse vader kan geniet.

Ek en Werner het baie goed bymekaar gepas, inaggenome die feit dat hy nog nooit tandem gery het nie, ons albei is baie kompeterend van aard en ons glo elkeen weet die beste. Gelukkig vir my het ek my senioriteit van 'n jong ouderdom op hom afgedwing, hy weet wie is BAAS en basta met die res.........ek het dan die stokke, die gears en die brieke, wat kan hy anders doen as trap en saam stem ?

Wel vir een :

Wanneer hy nie stilsit nie bepaal hy die rigting met sy meer pikante lyfie, alhoewel ek stuur kan hy met sy lyfbewegings die hele rigting van die tandem verander.

Hy kan ons ook uit die moeilikheid uit trap, daai pikante lyfie van hom berg 'n helse hoeveelheid energie, wat vir groot momentum sorg wanneer dit benodig word.

Die switchbacks, sonder sy lê in die draaie sou ek seker reguit afgedonner het.

Dan die humorsin, ou Werrie het altyd tyd vir 'n grappie en wanneer my lont kort word is so grappie nogal nodig.

Wat het ek geleer ?

  • Dat die tandem 'n effortless machine is, ek werk nie naasteby so hard soos op 'n gewone fiets nie, selfs teen die klimme het ons onder die gewone fietse uitgetrek. Dit kan dalk wees dat Werrie ekstra hard gewerk het en ek net geloaf het, maar ek sal hom nooit sê indien dit die geval was nie.
  • Die tandem soek oop paaie, hy hou nie van single track nie, single track maak jou verskriklik baie hard werk, jy moet myle vooruit dink, dink vir jouself en dan dink vir jou partner en die Sani se boom single track verander in 'n nagmerrie. Nie net moet ons vir die bome koets nie, maar ook vir die boomstompe en klippe en die gate en hobbels hier en daar.
  • Ek sal my bolyf baie sterker moet maak, sal maar die spinasie inryg sodat ek Popeye arms en skouers kan kry.
  • MY handjies, jy moet die handlebars vashou en jy gebruik die brieke, jou hande word eers lam en dan gaan hulle dood en jy weet jy kan nie die handelbars los nie.
  • Dat dit lekker is om saam met my boet te ry en dat ons 'n goeie team op die Freedom sal maak.            
Daar was 'n paar manne wat omgekrap was omdat hulle nie die single track kon geniet soos hulle graag wou nie, maar soos hulle tereg erken het, kon hulle ons nooit verbysteek na die single track nie, die blou trein het soos 'n pyl uit 'n boog onder hulle uitgetrek in die oop paaie. Maar die blou trein was goed ook vir hulle, waar hulle kon het hulle 'n lang slangetjie agter ons gevorm en die slip baie geniet, soveel so dat hulle ons eerste in die single track toegelaat het al was ons stadiger.

Oomblike van die Sani

  • Die waterbruggie op dag een, kyk my pa het nie bang kinders groot gemaak nie, maar ek was baie versigtig, ek hou van die koue maar swem waar die ryp spierwit lê was nie 'n opsie nie. Ons het dit gemaak, al het Werner die laaste paar draai met die voete die water geklits, die bruggie is nie heeltemal gebou vir 220 kg nie.
  • Werner het slapelose nagte gehad oor die single track af in die Umkomaas vallei, wel 'n paar gewone fietsryers het nou ook slapelose nagte, die Blou Trein het die Umkomaas bestorm en ek moes aan die briek hang, die ceramic downhill pads het bloumoord geskree, soveel so dat 15 man op 'n staduim na Nick's Pass ons gesmeek het om hulle verby te gaan.
  • Dag 2 op 50 km bonk Werner omdat hy besluit het dis 'n training ride en hy hoef nie te eet nie, kyk ek sukkel klaar om 100 kg teen die berge uit te sleep maar 220 kg was net te veel. Ek moes maar my broederlike plig doen en het in baie duidelike Afrikaans aan hom verduidelik om te eet, wat hy toe gedoen het.
  • Die bult in Vernon Crook wat Werrie nie met 'n gewone fiets kon uitry nie, het ons baie, baie amper met die trein uitgery, was dit nie vir die gladde gras 10m van bo nie het ons dit gemaak.
  • en dan die laaste 10 km na die einde, oop pad Blou Trein kos, die manne kon nie eers hak en 'n slangetjie maak nie ons was net te vinnig.
Dankie ou Werrie sonder jou sou ek nie alleen kon nie, en ek gaan dit verseker weer saam met jou doen.

No comments:

Post a Comment