6/18/2013

Dag 3 Die Blou trein ontspoor...

So gebeur elke ding met 'n doel en dis die Liewe Vader se doel gewees om die trein vandag te stop.

Ons staan eers laat op, baie later as wat enige Freedom Challenger veronderstel is om op te staan, Ons mikpunt vandag : net Masakala, ek moet Werrie kans gee om te herstel, Rome is nie in een dag gebou nie en die Freedom Challenge word ook nie in een dag oorwin nie. Die kwelling in my is besig om te groei, hopelik kry Werner se knie kans om te herstel, al probleem is dat elke dag op die Freedom Challenge moer hard is en al vat jy dit stadig dit bly moer hard. Stadig bekruip ons die opdraandes, ek werk so bietjie harder om die lading van Werner se knie af te haal, al moet ek bloed sweet maar die ding gaan ons albei klaar maak. Ek dink dis die ekstra bloed sweet wat my konsentrasie tap en ek maak 'n foutjie in helder daglig, eintlik 'n moerse foutjie wat ons 'n hele paar ure terugsit. Ek draai te vroeg regs nadat ons die Mzimvubu rivier kruis, seker maar die stadige klim wat my vroeër laat draai, ek weet wragtig nie hoekom ek die foutjie begaan het nie. Terwyl ons besig is met die klim word ek onseker oor die pad en met ons aankoms bo, bevestig ek aan Werner dat ons te vroeg gedraai het, ons het 'n keuse om om te draai, of om links te draai en dan deur die veld te ploeter, ons behoort darem op dieselfde kontoer te bly en Werner se knie te spaar. Ons besluit op die tweede keuse en allles verloop goed tot die aarde voor ons oopskeur en ons teen die kranse moet afdonner en annerkant weer moet bobbejaan klim om bo te kom, ek neem beheer van die tandem en my gemoed word briesend vir myself en my dom fout. Dis nie hoe mens jou boet se knie spaar nie, hierdie is meer soos 'n army opfok, ek stoei die tandem teen die kranse uit,  Werner klim uit, bogekom sê Werrie vir my hy weet nie meer nie en voor hy verder kan praat prop ek hom vol pynpille en vertel hom die Freedom is met pyn besaai. Almal het pyn op die Freedom, dalk nie dieselfde graad nie, maar pyn sal daar altyd wees en om die pyn te oorwin moet jy nie net vasbyt nie, jy moet deurbyt en dis nou tyd om deur te byt.....

Werner byt vas en ons vorder goed, op die trein is hy okay maar wanneer ons moet stap is hy glad nie lekker nie, ek kan sien die man verduur baie pyn alhoewel hy dit probeer deurbyt. By die cooka shop net voor Gnolintaba koop ek 'n coke en 'n pakkie slegte sigarette, ek rook nooit op die Freedom nie, seker drie maande gelede al opgehou, maar die kwelling in my laat my toegee. Werrie vra my wat maak ek en ek sê dis nou tyd vir rook.......

Werner stoei Gnolintaba uit, eintlik kruip hy dit uit, teen die slakke pas kan ek nou al die trein baie gemaklik uitstoot, ons vang 'n blaaskans net voor die grondpad, ek teug aan 'n slegte sigaretjie en Werner staar die verte in en ek wonder wanneer gaan hy my sê, hy's nou klaar, gelukkig is Masakala nie ver nie en ons behoort 'n goeie rus vir more in te kry.

Op die laaste opdraande oppad na Masakala stoot ek die rook en al my frustasies uit die tandem tewyl Werner die opdraande uitstoei, 'n groot ou mamma prwel iets van Aikona en Werner besluit net daar en dan hy het genoeg gehad. Wat de moer nou ? Ek kan die tandem alleen ry, maar daar lê nog 'n paar berge voor en hulle gaan verseker hulle tol eis, ek bel vir Glenn in Rhodes om te hoor of ek sy fiets kan leun, geen probleem nie ek moet net daar uitkom oor Lehana's met die tandem.......

Met 'n somber hart ry ons die laaste stuk na Masakala, dit was 'n groot droom vir my om die Freedom saam met my boet te kon ervaar, die kwelling in my hart maak plek vir 'n skuldgevoel, dalk het ek my boet te hard gedruk, dalk moes ons dit rustiger vat, al wat ek weet is my droom lê aan skerwe. Ek bel vir David om hom in te lig van my situasie en sommer om die daglig straf te bespreek. Dis 15H00 by Masakala en ek kry 'n daglig straf van 6 ure wat betekin dat ek vandag 3ure moet uitsit en more van 6h00 tot 9H00 die oorblywende 3ure moet uitsit indien ek 'n ander fiets kry. Ek oorweeg my opsies, Glenn se single speed by Rhodes en dan 'n 6ure daglig straf, of Werner leun vir my, my ou fiets en hy reël iemand om dit te bring na Masakala en ek begin solank met my tydstraf. Ek maak die wyse besluit om vir my ou fiets te wag, op die stoep rook ek die een sigaret na die ander in afwagtig vir die son om te sak en my eerste 3 ure klaar te maak. Robbie sluit weer by ons aan, later die aand sluit Scott James en sy span by ons aan, en al wat ek kan doen is wag, Werner het gereël dat iemand  my ou Cannondale Rush vir my bring, hy behoort more vroeg hiet te wees. Werner is moedeloos moeg en seer en lê hinderlaag tewyl ek die Blou Trein ontspoor en ontneem van al sy parte wat ek gaan benodig vir die Rush, al wat oorbly is om die geveg more na 9H00 moedig voor te sit.

Dis nooit lekker om hard te werk vir 'n doel en dit dan nie te bereik nie, gelukkig het ek en Werrie nou 3 ekstra spesiale dae om oor te kan praat. Die Freedom Challenge is 'n harde race en dit het al klaar 'n paar groot manne in hulle spore gestop in die verlede. Werner het hard geoefen en sy voorbereiding was goed, hy het ons in 'n B seeding op die Sani ingery en glo my as hy kon aangaan sou hy.

Ek en hy het saam besluit om die race op 'n tandem aan te pak om geld in te samel vir 'n skool vir kinders met outisme. Die rede vir die tandem was om dit juis moeilik te maak vir ons, in 'n poging om te probeer ervaar wat 'n kind met outisme elke dag ervaar. En ek dink ons het 'n smakie daarvan gehad. Enigeen wat 'n donsie wil maak kan dit doen op www.ablecenre.org.z

En nou, wat maak ek nou ???

6/17/2013

Dag 2

Sent from my BlackBerry® wireless device

Dag 2 Klim klim klim Centocow - Banchory

Kom 2H00 by Centocow aan, dis -2 lekker koud, eet en slaap net om 7H30 weg te met die eerste klim. Die stoomtrein het nog nie lekker stoom opgebou nie, maar ek is vol vertroue !!

Maak 'n lekker koffie by die waterval net voor Ntsikeni, Werrie se knie is bietjie seer, maar hy se hy sal oorleef. Dis harde werk, die tandem maak dit nie maklik nie en ons stoei voort. Ons het vir Robbie McIntosh gisteraand in die donker verby gesteek en stil stil sluit hy by ons aan waar ons 'n koppie boeretroos by die waterval geniet. 16H00 by Ntsikeni eet en laat waai, wil graag die nuwe deel doen in die lig, hou nie van kringe in 'n bos nie. Al ooit probeer om 'n 200 kg + tandem in 'n toegegroeide jeeptrack in die nag regop te hou ? Faaaak dis moeilik.

Werrie raak moeg, sy knie raak seer en hy verander in 'n ventertjie en my bene raak moeg. Werrie se ek moenie worry nie want hy weet hy het vir King Kong voor op die trein.... Wanneer 'n man moeg raak maak jy maklik foute, net na Politiuqe ploeter ons in die donker rond opsoek na die jeep track, Werrie klim met sy seer knie amper oor die berg, ek vind die pad en roep hom terug vir die laaste tog na Banchory, hy is poegaai verby en wonder seker ernstig wat hom begewe het om toe te gee tot my malligheid.

Stadig bekruip ons Banchory is die donker, Werrie is doodstil, sy knie is vrek seer en hy verval in 'n diep slaap agter op die trein, die laaste opdraande is net te veel vir my en ek besluit dis tyd om liewer te stoot. Met die stopslag kap kleinboet se kop homself wakker teen my rugsak, Werrie is naby moertoe......

Sy knie is nou verskriklik seer, en ek prop hom vol pynpille in die hoop dat hy gou sal herstel, diep binne my ontwikkel daar 'n kwelling, gaan my boet dit maak ?  Ek besluit om more maar af te sien van my beplanning en dit rustig te vat sodat Werrie kan moed skep vir die res van die tog, as ons net Rhodes kan maak sal hy fine wees. So laat ons weer vir Robbie by Ntsikeni agter en sluit ons weer aan by ons begin groepie van Charles Mansfield en Christo van den Heever aan.......

Gaan maar bietjie inlê sodat boet se knie kan herstel en dan maar more mik vir Masakala......

Hirogliewe van die eerste dag.

Sent from my BlackBerry® wireless device

Dag 1 Waaroor dit alles gaan

So besluit ek en kleinboet om die Freedom sommer op 'n tandem te doen. Hoekom ? Sommer vir die ervaring en om geld in te samel vir kinders met outisme www.ablecentre.org.za

Nou ja ek het geweet dis moeilik maar ek het nie geweet ek gaan 'n draai by die poorte van die hel maak nie. Die stoomtrein is swaar, vrek swaar en die Umkomaas vallei is goddelos en genadeloos en net om af te sluit gooi hulle ons met 'n beeetch van 'n klim aan die einde. Hulle noem haar Hela Hela en sy is 'n vet Beeeetch.

Klein boet brul bietjie, eintlik bietjie baie en dit veroorsaak dat grootboet ernstig voor op die tandem brul. Werrie moes seker maar bietjie harder ge-oefen het maar dis nou te laat. Ons maak Minerva en die wit salpeter oorval vir kleinboet, ons sal dit bietjie stadiger moet vat as wat ek beplan het, gelukkig is dit afdraande na die Umkomaas. Om die Umkomaas oor te steek met 'n gewone fiets is 'n bliksem, maar met 'n gelaaide tandem is dit die mother bliksem. Werner brul Hela Hela opdraande uit en al genade vir my is om die tandem die hoogtes uit te stoot sodat klienboet 'n blaaskans kan geniet en kragte kan wen vir die dag wat oorbly.

Kom laat by Allandale aan, Werner wil briek, maar daar is geen keer aan ouboet se wilskrag nie en in die donker val ons in die pad na Centocow. Werrie besluit om van agter te navigeer en ek vat 'n vroeë linksdraai net om die perfekte sirkel vir David in die bos te ry, sommer twee keer net om hom lekker te laat lag.....

Ek ontneem Werner van sy navigasie planne en ons beur die donker pad oop na Centocow om laat middernag daar aan te kom. Werrie het vandag hard gestoei, gelukkig weet ek, ek stoei ook maar die eerste dag en hopelik is kleinboet more reg vir die nuwe dag.

6/08/2013

'n Freedom Challenger Gebed

Philippians 4:6-7

 
Do not be anxious about anything, but in every situation, by prayer and petition, with thanksgiving, present your requests to God. And the peace of God, which transcends all understanding, will guard your hearts and your minds in Christ Jesus.

Dankie Here vir die voorreg om aan die Freedom Challenge deel te kan neem , dankie vir die talente, kennis en ervaring waarmee U ons toegerus het, help U ons om dit tot eer van u Naam aan te wend.
Here bring U kalmte in ons harte, panser U ons teen die gevare en wees U die lig vir ons pad.

Here behoed en bewaar U ook ons geliefdes by die huis, omhels U hulle met u ewigdurende liefde en beskerm U hulle teen die gevare van die wêreld. Dankie vir die voorreg  om die wonderlike roete, met hul wonderlike mense te kan geniet, Seen u die hande wat vir ons gaan sorg. Help U ons ook om helder te skyn vir U, vorm U ons in die ligdraers wat U graag wil hê ons moet wees.

Here dankie dat ons weet dat U met elke trap en tree by ons is, lei U ons en help U ons om elke oomblik tenvolle te geniet.

Ons vra dit alles uit genade.

Amen

5/20/2013

Vrot Freedom Challenge Skoene

Gebruik Sole Saver voor dit jou skoene oorkom !!!

Die modder druk die sool weg van die plaat wat jou cleat vashou en dan bars jou sool in stukke en dan sukkel jy lekker .........