5/26/2011

Sani2C saam met my boet



So gebeur dit dat ek en my boet, eintlik 'n bergklimmer, aantree vir sy eerste stage race, die Sani2C. Nou kyk toe ek besluit het om saam met my boet te ry, het ek gedink dit gaan rustiger as tevore wees, die dat hy wat Werner heet net 'n jaar of wat gelede begin fietsry het vir so bietjie cross training vir die berge.

Werner bly in Richardsbaai waar dit net so plat is soos in Klerksdorp, hulle king of the mountain is blykbaar 'n suikerriet hoop. In Desember maak hy 'n draai en ons ry toe so ent saam net om die fiksheid te toets, en ek merk dis baie plat in Richardsbaai, sommer baie, baie plat. Ek verduidelik toe aan my boet dat hy so bietjie meer sal moet oefen, anders gaan ons die heel dag in die saal spandeer.

April maak hy weer 'n draai, ons ry so 70km draai met 'n klimmetjie hier en daar, en ek ry sommer met my Freedom kit en my tong hang uit om by te bly, neem toe maar aan dis die ekstra gewiggies wat ek saamry, maar kleinboet lyk heel oraait.

Dag 1 Sani2C

Ons spring weg met 'n lekker pas, nogal heel lekker sonder die Freedom kit, elke nou en dan vra ek vir boet hoe gaan dit en hy antwoord : OK
Op 'n kol vra ek hom wat sy heart rate is en hy antwoord toe "so 181" en dis toe wat wat ek die pas so bietjie stadiger maak. Ou Werries sê hy het die eerste dag bietjie getjop, so 4 valves gebrand en baie gesukkel met die hoogte bo die see, ek moes my boet maar die laaste drie bulte uitstoot. Gelukkig was ek glad nie haastig nie, die aand vra ek vir boet wat gebruik hy so op die race en hy antwoord toe :" Water en hy eet so ietsie by die waterpunte " Ek verduidelik toe die man van supplements en wat hy moet eet en drink en staan toe maar van my goedjies af vir die man, ek kan mos nie my kleinboet so laat suffer nie.

Dag 2 Sani2C

Met 'n krag kom ek kom toe agter, hoe goed my goedjies werk, daar is nie keer aan die man nie en ek moet jaag om by te bly, my boet is besig om my binne in my moer in te ry, en om die kersie op die koek te sit is my hanger gebuig en ek sit met net drie ratte, een grootte en twee kleintjies. Werries het Gummyberry juice by Asrix gekry en Obelix moet byhou selfs teen die lang afdraandes. Ek lyk soos 'n oos Iendies ingevoerde resies hoender soos ek spin om by te bly, en my boet ry, ek vermoed Commander Crous het iets in sy oor gefluister, daar is nie keer aan die man nie. Elke nou en dan vra hy my of ek OK is, gelukkig het ek die endurance en aan die einde van die dag het ons 72 plekke opgeskyf en my bene is lam.

Dag 3 Sani2C

Na R400.00 is my fiets gefix en vandag gaan boet moet byhou, ek is reg vir hom, maar toe ek my ogies uitvee toe gaat hy alweer, ek wou nog waarsku oor die nukkerige links draai toe is hy lankal al deur, die stof het nog nie eers gaan lê van die 2 girls voor hom wat nie die draai gemaak het nie. Ek besluit toe maar dat ek hom by die Heartrate bulte bietjie staal sal wys en dalk so videoclip of wat van die man kan neem, maar nee, daar is hy ook voor my uit. By die waterpunt besluit ek dat ek darem net vir my boet sal moet wys ek kan ook ry en dis mos meer afdraende van daar na die einde, ek skraap my laaste kraggies bymekaar en daar trek ons weg en ek ry dat die rook op my draai.

Boet is vir 'n slag bietjie agter en ek voel baie beter, deur 'n lang afdraande kom die man weer verby my teen die opdraande en ek hoor die magic woordtjies " Nou's ek klaar " Ek beduie toe maar vir boet om bietjie agter my in te val en hy maak so. Teen so klein klimmetjie beduie hy iets van hy het nie ratte nie, ek dog eers sy bene is lam maar toe sien ek sy ratkabel het gesnewel en die bunch van 30 snel verby.

Vinnig besef ek dat ek baie vinnig moet planne maak vir daai laaste bult, en terwyl Werries weer die K@#$ uit die aarde ry met sy nuwe singlespeed soek ek 'n gegewe klippie om in die derailer te druk sodat hy darem 'n bietjie makliker rat teen die bult het. Op die teer posisioneer ek die klippie in die derailer en boet het darem 'n bietjie makliker rat en daar wil hy al weer gaan, ek verduidelik toe aan hom van die groot bult aan die einde en hy skaal so bietjie af. Ouboet kon darem weer vir so stukkie vir Kleinboet die opdraande uitstoot en so maak ons klaar.

Werries sê hy's baie bly dat hy nie die vorige dag soos ek net met 'n paar ratte moes ry nie, dis blykbaar nie baie lekker nie, maar dis darem baie lekker om vir Ouboet weg te ry.....

Ter opsomming

My boet was baie fikser as wat ek gedink het, ek is seker Carl het iets in sy oor gefluister, want hy haal dieselfde nukke as die man uit, ek het nou heelwat meer beenspoed as wat ek gedink het. My boet is 'n baie kompeterende donner, dit loop maar seker in die familie. Jy benodig Astrix se Gummyberry Juice as jy vir Obelix wil wegry.

Volgende jaar maak ons weer so !!!!!!!

5/10/2011

Pofmuis se maatjie Oom Pofadder




So ry ek toe mos Sondag om die agterstewe bietjie gewoond te maak aan die saal en vind toe vir Oom klein Pofaddertjie in die son lê en bak, ek dog eers een Oom Boer se bakkie het hom moertoe gery, want sy agterkant was maar baie plat. Ek toets hom toe so met die voorwiel en niks gebeur nie, toets toe maar weer en steeds niks nie, net toe ek hom wou optel ontwaak Oom Pofaddertjie.

Blykbaar baie die bliksim in omdat ek hom uit sy slaap gehaal het, dis toe wat ek hom toe maar afneem om vir die manne en vroue van die Freedom Challenge te wys hoe lyk 'n regte Pofadder, hulle praat mos altyd van die "snakes" racing snakes en Cobra's en Podadders en nog 'n paar DIK snakes.

Boys en Girls, hier is nou 'n regte, Freedom Pofadder, verradelik vinnig, tantjies nog so bietjie min vir my voorwiel, maar oorgenoeg om jou in jou spore te stop, wees maar op die uitkyk vir die outjies.

Ek hoor daar is 'n hele paar snakes op die Freedom

4/26/2011

Ons Pragtige land Suid Afrika !!!!

So gaan kamp ons die lang naweek, ja dieselfde lang naweek met die vooruitsigte van baie reën, sommer netso 30 km buite die dorp. Ek is opsoek na rus en vrede, 'n plek waar ek net na die bos TV kan staar en na plekke verlang wat ek nie ken nie, ek wil nie 'n radio hoor nie en ek gaan verseker mal word as ek enige telefoon hoor lui.

Ons kamp by Buisfontein, so 30 km van my huis, tussen die Makwassie rante soos Oom Wessel Jooste ons vertel, dis asemrowend rustig en mooi. 'n Selfoon werk nie op die plek nie, dis net die natuur se eie geluide, die gekabbel van die buisfonteinspruit, gewoonlik 'n droë loop, nou 'n spruit in vloed, die gelag van die apies in die bome, wat wag om beit te maak van al die lekkernye is sig, so nou en dan 'n blaf van 'n bobbejaan in die rante net om te sê hulle is ook daar en dan die kersie op die koek, die brul van 'n leeu tot in jou binneste terwyl jy die bos TV binnestaar.

Man ek geniet die plek, net jy en jou gesin, 'n paar pêlle en die natuur, wat wil jy nou meer hê ? 'n Jong Njala bul kom peusel so 10m weg tewyl ons so om die vuur sit en gesels, nie eers in die minste gepla met wat ons aanvang nie, my jongste wil net weet of ons maar die bokkie kan huis toe vat. En so begin dit reën soos hulle voorspel het, en dit reën meer as wat hulle voorspel het, die manne voorspel mos, dis mos eintlik 'n skatting, dit kan minder of meer wees, hoe moet hulle nou eintlik weet wat gaan gebeur ?

Ek gooi nog nat hout op die vuur, dit reën nou al vir dae, net om seker te maak dat die vuur nie dood reën nie en loop lê in my tent. Vannaand het ek nie Klaas Vakie se sandjies nodig nie, ek het die geritsel van die reën op my tent en gou vergeet ek van die harde week agter die rug, die strawwe oefen sessies, die telefone wat nooit ophou lui nie, die gejaagde wêreld waarin ek leef, wat sal ek veruil om vir altyd in die bosveld paradys te kan wees ?

En dit reën, en nog 'n bietjie meer, en dis nat moddernat, maar dis lekker sommer moerse lekker. Saterdag oggend is ek vroeg op, pak nog so paar nat stommpe op die oorblywende rooi kole en ek sit en wonder, wonder oor hoe bevoorreg ons is om hier te wees, wonder oor hoe ons gaan fietsry in die modder, wonder oor alles wat ek gisteraand gesê en gedoen het, die vog van die wingerstok het weer gevloei en ek het nie baie nodig om verkleur mannetjie te speel nie en daar begin dit weer liggies reën, en ek dit aan Anton Goosen se song " Die perske reën van veertien dae in die Wes Transvaal, en dit reën bietjie , bietjie in die Wes Transvaal ....."

Vandag gaan ek nie ry nie, ek is nie lus nie en ek gaan nie, ek gaan net hier om die vuur sit en die niks geniet en so pak ek die ou keteltjie op die vuur vir 'n bietjie ou boeretroos. Eduard is dorp toe om 'n paar lorries se ruite te plak, Herman moet 'n tand gaan regmaak, wat nou al 40 dae neuk en vandag herstel moet word en Arlene moet die tent se dak loop soek van die nuwe karavaan, kyk'n tent kant twintig kante hê, maar sonder 'n dak is hy niks werd nie. En so sit ek en Wally om die bosveld TV en ek geniet 'n koppie of ses boeretroos, en die skonegeslag lê in, op 'n staduim wonder ek of hulle nie dalk vasgelê is nie. Wally stel voor ek diens my kreunende fiets, tewyl ons nou nie in die modder gaan speel nie, so gesê so gemaak en na 'n uur of wat het ek weer 'n spik splinternuwe fiets met 'n paar letsels van vorige skermutselings. Terwyl ek in die diens ding is diens ek sommer Danielle se oorgrote fiets, want die reën en die modder pla haar nie, sy wil ry, ry in elke modderplas en elke stroom wat sy kan kry, en so jaag sy en haar sussie Alison die hele plaas op hol en Danielle kry dit reg om niks raak te ry nie......

Uiteindelik trek ons Maandag oggend weg om 'n draai te gaan ry, deels omdat ons skuldig voel dat die kinders nou al meer as ons gery het en deels omdat dit in ons bloed is. Die twee dae van niks doen het my baie goed gedoen, die lug is skoon gereën, misbanke staan op en die pad wink en ek is weer lus om die Freedom te ry, ek smag daarna.....dis so asof ons 'n deeltjie van die Freedom ervaar, en ek weet weer hoekom ek so hunker na die Freedom en ek kan nie wag nie.

3/16/2011

Joco Strydom jou Yster

So praat ek toe mos met Jaco Strydom, veteraan Freedom Challenger. Kyk die Freedom Challenge is nie genoeg vir die man so op sy eie nie, hy het nog so ekstra week of twee van vryheid nodig en begin dan sommer in Beitbrug. Jaco was verlede jaar sterk op dreef en moes toe onttrek as gevolg van 'n gebreekte enkel, vanjaar is hy meer as oorgehaal om die epiese tog te voltooi.  Alles het mooi volgens plan verloop en die man het 'n DIK base vir hom gebou, waarop hy kon voortbou vir die Freedom, en so word Jaco met Kanker gediagnoseer in Januarie. Menige van ons sou tou opgegooi het met die nuus, maar nie Jaco nie, hy het 'n doel voor oë en hy gaan sy doel bereik.

Jaco moes gaan vir sewe weke se bestraling, iets wat as dit met my gebeur het, my seker dood in my spore sou laat stop het, en so bel ek maar my ou vriend net om te hoor hoe dit gaan.
Praat toe vandag weer met Jaco, en groot was my verbasing om te hoor die man is op sy fiets oppad terug huis toe nadat hy sy bestraling ontvang het by die hospitaal, selfs die mense by die hospitaal ka dit nie glo nie. Jaco klink gloed en hy's baie positief en ek dink hy is 'n moerse voorbeeld vir ons almal.

Ons kla tog so maklik oor die geringste dingetjie en hier is 'n man wat bestraling ontvang wat nie genoeg van die lewe kan kry nie, soos ek al gesê het : " The Body goes where the Mind goes " en hier is 'n sprekende voorbeeld. Jaco is besig om hom met positiewe gedagtes besig te hou, en is dit nie lekker om eerder die mooi as die lekike raak te sien nie !!!!!

Ou Maat bly Positief dink, SIEN net die MOOI in die lewe, geniet jou lewe, jy is in ons gedagtes en gebede,
en jy is vir ons almal 'n MOERSE INSPIRASIE

Ek bid jou 'n spoedige en volkome herstel toe, en mag dit met jou so goed gaan dat jy my sommer vanjaar wegry !!!

Sterte ou maat sien jou op die Freedom

2/26/2011

2011 Miles for Smiles Pledge

Pieter Cordier from Design Layout and Print made it possible for me to once again partake in the 2011 Freedom Challenge.

Design Layout & Print has established itself as one of the leaders in the advertising for retailers and wholesalers industry.  They have a huge digital library with the latest groceries, non-food, hardware and cosmetic images.  They are also on-line with Quick Cut in Johannesburg that also supplies digital images.  They have the latest CANON D7 digital camera.  Design Layout & Print have seven designing stations with the latest hardware and software.  Design Layout & Print make use of the biggest printers in Johannesburg and delivers to all their customers Country Wide !

Design Layout and Print will be my Primary sponsor for the 2011 Freedom Challenge, and in doing so Design Layout & Print has made it possible for me to do a fund raise for Miles for Smiles.

About the Cipla Miles for Smiles foundation.

The Cipla Miles for Smiles foundation was formed to assist Operation Smile in creating awareness for the plight of children born with cleft lips and palates and raise funds to perform corrective surgery on them.

The foundation has a fundamental aim, to inspire and challenge individuals to go out and make a difference in the lives of those around them, by challenging themselves to achieve the impossible and by doing so make a difference.

For all enquiries

please contact media@milesforsmiles.co.za

Help Us Make a Difference

For every R5,500.00 donated to Operation Smile South Africa we can facilitate corrective facial surgery on a child and give them their God-given right to a smile.

With a simple operation of some 45 minutes a child's life can be changed forever.

So now I need Challengers, challenging me to finish in a certain time with your pledge ( any amount of money ) Any amount of money will do, it is up to you, and if I made the challenge, you will have to donate youp plegde into the Miles for Smiles account.

You can make your pledge  by replying to this post, all pledges will be shown on the blog.

So start Challenging !!

2/02/2011

Ottosdal Nag Marathon


                                                Hano Oberholtzer, Marnitz en Pieter Cordier


      
 

2/01/2011

Ottosdal Nag Maraton

En so pak ek die Ottosdal Nag Marathon aan na 4 maande se harde oefening, wel ek glo ek het hard genoeg ge-oefen. My mikpunt 4H30 en so trek ons weg, dis nou ek, Hano Oberholtzer 'n Ysterman en Anton Schoeman wat vanjaar vir sy 15de Comrades aantree, ek bly maar by die slim manne.

Ons trek weg teen 'n pas van 6 minute 'n kilo en alles voel lekker, Anton is soos 'n fyn ingestelde horlosie en op die 6 minute maak ons 'n kilo, die manne sê ons stap deur die waterpunte en ek maak so. Iewers hoor ek Frans Lotter se bekende gesegde : " Fly now Pay Later " en ek maak seker ons hardloop nie vinniger as die beplande 6 min/km nie, ek wil nie later betaal nie en ek weet hoe ek voel op 36 km die verste wat ek nog gehardloop het.

Net so voor die 21 km draaipunt begin ons van die Fly manne inhaal, ons draai op 2H11 stadiger as wat ek gedink het, maar ek voel goed en ons kap dit flou.

My sadis vriend Eduard het verspieders op die roete, ou Frankie keer my voor op 28 km net om te hoor hoe ek voel en of ek al enige pyne ontwikkel het, sodat hy vir Eduard kan laat weet hoe gaan dit. Man alles gaan voor die wind en ons voel nog almal goed, Anton haal sy kopliggie uit sy backpack om vir ons lig te maak, hy kom ook met 'n koekie of wat te voorskyn om die kraggies net op vlak te hou. Anton start twee cylumes op die backpack sodat ons hom mooi kan raaksien in die donker en ons pas bly 6 min/kilo soder dat die man eenkeer op 'n horlosie kyk, ek glo vas hy het 'n ingeboude tikker.

Nou my groot vriend wat my tot al die malligheid inspireer enne Mnr Eduard Herselman het my vooraf gewaarsku om nie te vinnig te begin nie, hy het ook iets gepraat van 'n negative split, blykbaar hardloop jy vinniger terug as toe jy gegaan het, en dan het hy ook iets gewaarsku dat die draaipunt van 'n maraton op 32 km is en nie 21km nie

Ek neem al die goeie raad ter harte en besluit om te Pay now en Fly Later, so ons begin teen 6 minute per kilo tot op 32 km, wat die draaipunt is, en Fly dan teen iets vinniger as 6 minute per kilo wenpaal toe, dan split ons nou mos mooi negative in die middel op 32 km.

Man en ek voel goed op 32 km die draaipunt en ons hardloop lekker en daar staan 'n moerse 4 km bult voor ons op, dit voel vir my soos 10 km, maar ons gaan die Fly manne verby in die hordes en ek voel goed en bitter bly ek het my Sadis pêl se raad gevolg, met die negative split gebeur daar niks, ons bly konstant @ 6min/km.

En so hol ons aan 36 km, 37km en toe kom 38 km en my broek skaaf my dat ek bang raak alles gaan afgeskaaf word en dat ek dalk vroulik mag wees na die race, maar ek byt vas,  dis dan net 4 kilo's oor en toe kom 39 km en my regter knie raak seer, en 500m verder raak my voetjies seer en toe my heupies en dit word bliksems harde werk om vorentoe te gaan. Hano praat iets van my tanne in die teer slaan, maar ek dink die teer het tussen my bene geslaan en dis besig om die lewende hel uit my te skaaf. Dit kan dalk wees dat my postuur so bietjie verander het met die moegheid en dat my bene as gevolg van die knock knees nou nader aan mekaar is, tot my lae maagspiere is nou al seer. Maar ek Fly en niemand gaan my verbysteek nie, ek sal die verbysteek werk doen, Hano gooi 'n invisible towrope uit en ek byt so hard ek kan, net so voor 41 km los ek die tou en Hano verdwyn in die donker en ek dink aan die Freedom en ek maak klaar in 4H43 en ek kwalifiseer om Comrades te hardloop !!!!!!!!

Terwyl ek nou so terug dink onthou ek iets van 'n moontlike 4H00 met die negative split teen 5min/km terug van die 21 km draaipunt, kyk op 40 km het ek die gedagte heeltemal verban. Ek het ook so sêding oor die Argus, " Dis vir onfiks mans en huis vroue en bykans almal kan dit klaarmaak met die minimum oefening " in my onkunde het ek ook so iets geopper oor die Comarades, ek trek dadelik alles terug. Jy moet regtig oefen vir die Comarades en dis vir baie fikse mans en huisvrouens wat die heeldag oefen anders gaan jy dit nie maak nie.

Eduard se eerste vraag na die wedloop aan my was " Nou wat nou van die Comarades ?" My antwoord " Is jy bedonnerd, jy moet die hele jaar vir die ding oefen, ek weet hoe ek op 42 km gevoel het, dan moet ek nog 'n 42 km doen plus nog 'n 4 km wat ek nie weet waar ek die krag vandaan gaan kry nie."

Ek het nou moerse respek vir enige man of vrou wat die Comarades klaarmaak om nie te praat van Andrew Barnes nie, en so besef ek weereens dat my 90 kg piekante lyfie eerder vir downhill racing gebou is as hardloop .......

Sal ek dit weer doen, JA en as ek klaar is met die Freedom gaan ek verseker oefen vir die Comarades....... en die Ysterman en ek weet nog nie wat volgende nie.....