4/26/2011

Ons Pragtige land Suid Afrika !!!!

So gaan kamp ons die lang naweek, ja dieselfde lang naweek met die vooruitsigte van baie reën, sommer netso 30 km buite die dorp. Ek is opsoek na rus en vrede, 'n plek waar ek net na die bos TV kan staar en na plekke verlang wat ek nie ken nie, ek wil nie 'n radio hoor nie en ek gaan verseker mal word as ek enige telefoon hoor lui.

Ons kamp by Buisfontein, so 30 km van my huis, tussen die Makwassie rante soos Oom Wessel Jooste ons vertel, dis asemrowend rustig en mooi. 'n Selfoon werk nie op die plek nie, dis net die natuur se eie geluide, die gekabbel van die buisfonteinspruit, gewoonlik 'n droë loop, nou 'n spruit in vloed, die gelag van die apies in die bome, wat wag om beit te maak van al die lekkernye is sig, so nou en dan 'n blaf van 'n bobbejaan in die rante net om te sê hulle is ook daar en dan die kersie op die koek, die brul van 'n leeu tot in jou binneste terwyl jy die bos TV binnestaar.

Man ek geniet die plek, net jy en jou gesin, 'n paar pêlle en die natuur, wat wil jy nou meer hê ? 'n Jong Njala bul kom peusel so 10m weg tewyl ons so om die vuur sit en gesels, nie eers in die minste gepla met wat ons aanvang nie, my jongste wil net weet of ons maar die bokkie kan huis toe vat. En so begin dit reën soos hulle voorspel het, en dit reën meer as wat hulle voorspel het, die manne voorspel mos, dis mos eintlik 'n skatting, dit kan minder of meer wees, hoe moet hulle nou eintlik weet wat gaan gebeur ?

Ek gooi nog nat hout op die vuur, dit reën nou al vir dae, net om seker te maak dat die vuur nie dood reën nie en loop lê in my tent. Vannaand het ek nie Klaas Vakie se sandjies nodig nie, ek het die geritsel van die reën op my tent en gou vergeet ek van die harde week agter die rug, die strawwe oefen sessies, die telefone wat nooit ophou lui nie, die gejaagde wêreld waarin ek leef, wat sal ek veruil om vir altyd in die bosveld paradys te kan wees ?

En dit reën, en nog 'n bietjie meer, en dis nat moddernat, maar dis lekker sommer moerse lekker. Saterdag oggend is ek vroeg op, pak nog so paar nat stommpe op die oorblywende rooi kole en ek sit en wonder, wonder oor hoe bevoorreg ons is om hier te wees, wonder oor hoe ons gaan fietsry in die modder, wonder oor alles wat ek gisteraand gesê en gedoen het, die vog van die wingerstok het weer gevloei en ek het nie baie nodig om verkleur mannetjie te speel nie en daar begin dit weer liggies reën, en ek dit aan Anton Goosen se song " Die perske reën van veertien dae in die Wes Transvaal, en dit reën bietjie , bietjie in die Wes Transvaal ....."

Vandag gaan ek nie ry nie, ek is nie lus nie en ek gaan nie, ek gaan net hier om die vuur sit en die niks geniet en so pak ek die ou keteltjie op die vuur vir 'n bietjie ou boeretroos. Eduard is dorp toe om 'n paar lorries se ruite te plak, Herman moet 'n tand gaan regmaak, wat nou al 40 dae neuk en vandag herstel moet word en Arlene moet die tent se dak loop soek van die nuwe karavaan, kyk'n tent kant twintig kante hê, maar sonder 'n dak is hy niks werd nie. En so sit ek en Wally om die bosveld TV en ek geniet 'n koppie of ses boeretroos, en die skonegeslag lê in, op 'n staduim wonder ek of hulle nie dalk vasgelê is nie. Wally stel voor ek diens my kreunende fiets, tewyl ons nou nie in die modder gaan speel nie, so gesê so gemaak en na 'n uur of wat het ek weer 'n spik splinternuwe fiets met 'n paar letsels van vorige skermutselings. Terwyl ek in die diens ding is diens ek sommer Danielle se oorgrote fiets, want die reën en die modder pla haar nie, sy wil ry, ry in elke modderplas en elke stroom wat sy kan kry, en so jaag sy en haar sussie Alison die hele plaas op hol en Danielle kry dit reg om niks raak te ry nie......

Uiteindelik trek ons Maandag oggend weg om 'n draai te gaan ry, deels omdat ons skuldig voel dat die kinders nou al meer as ons gery het en deels omdat dit in ons bloed is. Die twee dae van niks doen het my baie goed gedoen, die lug is skoon gereën, misbanke staan op en die pad wink en ek is weer lus om die Freedom te ry, ek smag daarna.....dis so asof ons 'n deeltjie van die Freedom ervaar, en ek weet weer hoekom ek so hunker na die Freedom en ek kan nie wag nie.

No comments:

Post a Comment