7/01/2014

Final Push


23H00 trek ons weg by Good Hope, dit voel of ons nog 30 min langer vat om by trappieskraal uit te kom, ma nou ja ons maak darem nou klaar.
Net voor die teerpad mik Klaas Vakie vir my, ek dodge hom en sak sommer net daar in die veld neer vir 'n 30 min uiltjie.
Met die opstaan slag voel ek sommer goed en storm die teerpad, ek ry lekker en die pad is stil. Net voor Klipbokkop trek 'n bakkie agter my in, ek dog die man wil gesels, maar hy bly net daar en gooi sy ligte die hele pad vol sodat ek mooi kan sien. My ligstraal van die nag verlig die pad tot by die Brandvlei tronk pad, waarna hy links draai.
Ek jaag opsoek na sein, soekend na my wonderlike vrou se motivering, wil net graag haar stem hoor, dis al wat ek nodig het. Die mis hang dik, dalk 'n teken van wat vir ons wag by Stettyns.......

Graham is so uur of wat voor my by Trouthaven en vergeet die Yale Lock aan. Met my aankomslag vind ek die plek gesluit, klop en roep, maar as 'n man moeg is hoor jy nie sommer nie.
Aangesien ek soveel kere buite geslaap het, lyk die tafel vir my na 'n goeie slaap plek en ek sak sommer daar neer. Na 40 min is ek wakker, probeer weer vir Graham wakker te maak en die keer hoor hy.
8H15 trek ons weg na Stettyns, die eerste helfte gaan baie goed, netso oor die 2 ure, en daarna moes ons maar die Bell Bull Dozer inspan. Hulle het die plek so baie water gegee, die rivier het amper weggespoel. Ek oorweeg dit op 'n staduim om in die rivier op te ploeter. Die padjie wat daar was het toegegroei en die twee perde wat voor ons daar was moet verskriklik uitgeteer wees, rietskraal is dalk die regte woord, want hulle het nie 'n pad gemaak nie.

Nou kyk ek was een van Sean Badenhoert se buffels voor die aanvang van die slagting, ek is dalk nou 'n Blouwildebees, die sogenaamde arm man se buffel, maar beslis nie rietskraal nie. Dan is ek ook nog deur Bell ingespan en ek maak 'n PAD, Graham kyk met 'n hamburger smile reg rondom die kop na die pad wat ek maak. Gewoonlik by die punt in die race neem die woede in die buffel in my oor, my liggewig 17kg mtb word deur die lig vorentoe gewerp met 'n paar Afrika karate krete en die pad word lekker breed gebou vir almal om te kom.

Graham belowe om die volgende pad te bou en sy beurt breek by die laate rivier kruising aan. Die keer staan ek met die hamburger smile ten aanskoue en aanhoor van sy Afrika karate krete. Dis hoekom mens twee moet wees in die duiwel se speel plek, humor is 'n goeie ding, dit hou mens aan die gang.

Uit die kloof soekend na sein bel ek my liefste vrou, ek is klaar, nog net so 10km van Du Toit's Kloof pas en dan afdraande tot by die huis. Ek belowe my vrou die keer is ek regtig klaar, en ek is, my voete is klaar, my kniee is gaar, my gat is so seer ek weet nie of ek moet staan en sit nie. My kop is moeg, dis 'n harde uitdaging gewees, buite slaap is nie grappies nie, nooit koud gekry nie, maar kos, water en higiene stel ander uitdagings.....

Die pas is klaar nou net die laaste woers warts afdraande, die trane spoel in my oe, ek herleef die hele challenge, ek mis my vrou en kinders, dis donker en die volgende oomblik is dit pikdonker. My battery is pap en net my flou kopliggie bly oor, hy is so flou as ek te vinnig ry, ry ek bo-oor die skynsel. Voel voel my pad in die donker, vind ek die Diemersfontein hek. My goeie vriend, nou bloed broer in die race Glenn wag my in, altyd bly om die broer van my te sien volg ek sy ligsoor na die einde.

My wiele rol oor die eindstreep en my pa en ma wat my reg groot gemaak het, groot gemaak het om dinge soos die aan te pak, te veg en te oorwin wag vir my by die einde !
1ste Graham Bird 12 Dae 13H00

2de 14 Dae 13H20

Tyd om die kombers te geniet.......

Dankie Ma en Pa dat julle van my 'n oorwinnaar gemaak het, hierdie kombers is vir julle, vir al die kosbare tyd en opofferings wat julle in my ingeploeg het en vir die mens wat julle van my gemaak het. Sonder julle insette sou ek nooit so hardegat mannetjie kon gewees het nie......

Dankie Ma en Pa !!!!








No comments:

Post a Comment