7/12/2014

5 Freedom Challenge's die vol sirkel.....

Van die begin het ek die gevoel gehad dat dit seker my laaste Freedom Challenge in 'n baie lang tyd gaan wees.........

Hierdie Challenge, my laaste een in 'n lang tyd moes dus sy merk maak, ek was nooit gepla oor wen of enige poduim posisies nie, die doel was net om my eie persoonlike beste 15 dae rekord te breek en daarom moes ek elke dag verder ry as wat ek in die verlede kon doen. Ek moet sê my pogings om voor die jaag duiwels Graham, Glenn en die res te bly was ook 'n aansporing, ek weet hoe voel dit om iemand te jaag, hom te ruik, sy vars spore te sien, die warm bed te voel waarin hy minute gelede geslaap het en hom net nie kan vang nie.

Daar was tog tyd in die dolle jaagtog om plekke te besigtig en kwaliteit tyd te spandeer op spesiale plekke om dit vir 'n laaste keer in te neem, een was die Maria Zell kerk, moet sê dit was regtig die moeite werd. 'n Ander een is bo-op Bontehoek, dis nogal 'n spesiale plek vir my, Klerksdorp is maar 'n plat plek, miershope is ons hoogste berge, afgesien van die mooi is dit vir my die skeiding tussen regte berge en platter wêreld vorentoe, baie makliker en vinniger vir my.

'n Ander baie spesiale ding vir my is die sterre, ek het regtig elke aand geniet wat ek buite geslaap het, dis wonderlik om jouself wakker te hoes, jou oë oop te maak en vir 'n oomblik die hemelse skoonheid van die sterreprag in te neem en dan verder te slaap. Die sterre op die Freedom Challenge is regtig so naby, jy kan hulle pluk, jy voel ook sommer baie nader aan die Hemelse Vader en die gerustheid dat Hy op jou neerkyk, bring 'n rustigheid in jou hart wat jy net op die Freedom Challenge kan ervaar.

Die sterre en die volmaan het my al baie per geleentheid na my slaapplek gelei, ek onthou spesifiek my 2de Challenge toe ons sonder ligte teen Lehana's uit is. Dit was 'n wonderlike ervaring, so asof jy met elke tree nader aan die sterre en die Here klim. Die sterre het my ook vyf keer in 'n ry na Elandsberg gelei.

Vuurwerk vertonings, die verskietende ster, 'n helse bol vuur wat die wêreld verlig is ook heelwat beter op die Freedom Challenge, dis so asof jy moet koes vir die vallende ster....

Dit het my 5 jaar geneem om te besef die Freedom Challenge gaan eintlik oor 'n baie hegte vriende kring, dis soos weermag, net die manne wat daar was kan saam praat en die ervaring oor en oor deel. Vriende ja, in tye van afkak word hegte bande gesmee en die Freedom Challenge is 'n baie warm yster, maar daar word nie net hegte bande tussen deelnemers gesmee nie, ook tussen die support stations, ek dink aan mense soos Christo Botha, die Freedom Challenge is half leeg sonder die groot man.

Dan is daar ook vriende wat familie geword het, Andrè en Joyce van Slaapkranz het my nuutste familie geword en het 'n baie spesiale plek in my hart. Dit was altyd 'n groot voorreg om by hulle oor te slaap, hulle was altyd behulpsaam, besorg en vertroosdend en genesend, ek het hulle altyd met 'n warm gevoel en nuwe lus verlaat. Dan is daar ook Danie van Moordenaarspoort, altyd gereed met 'n plan, Sandra en Diederick van Kranzkop, Geloof Hoop en Liefde is al wat ons nodig het. Stefnie en Wil van Roomansfontein, ek kon altyd op Wil staatmaak vir iets van sy fiets in 'n noodgeval. Amanda van Stuutgaurd geseles die Freedom Challenge borrelend aan die brand, Oom Gawie van Gansvlei in die Schufteberge, my lewensredder beskermer van 'n ontmoeting met Rageltjie de Beer.

Oom David en tannie Verity van Struishoek, dis nou wragtig spesiale mense, wag vir jou tot laat nag, jy mag eenvoudig nie verby sonder 'n kuier nie, oorslaap is eintlik 'n moet. Oom David het selfs per geleentheid terwyl hy in Suid Wes was vir my 'n oorslaap in sy Struishoek Hotel gereël, hulle is die mense wat my hart altyd baie warm laat klop het. My beplanning die jaar was om naby Gegun iewers onder die sterre te slaap, maar ek kon net eenvoudig nie verby Oom David hulle gaan nie, geweet as ek aanklop sou ek in my eie hotelbed by hulle moes slaap en kies toe maar die afdak langs die gerage. In my hart was ek naby hulle en het ek hulle liefde en ondersteuning ervaar, sal verseker weer 'n draai daar moet gaan maak.

Dan is daar ook mense soos Hestelle van Dam se Drift, waar in die lewe kry jy goeie kos en gasvryheid met 'n haarsny ? Die volgende baie spesiale mense is Johann Rissik altyd gereeld met 'n lekker koppie koffie al is dit in die baie vroeë oggend of laat aand ure van die Challenge, man so koppie koffie gee mens net weer nuwe moed vir die wind. Ria en Lindsey van Dennehof, in my oë die 6 Ster hotel van die Challenge, jy word op jou hande gedra vandat jy daar aan land tot jy weer vertrek, jy word letterlik vernuwe by Dennehof en dis met nuwe krag wat jy die laaste deel van die tog aanpak. Oom Gerhard en tannie Ronel van Rouxpos verdien ook 'n spesiale plek in my hart, altyd bly om ons te sien, gereed met lekker kos en die heel lekkerste waffels en roomys op die aarde !!!

Die  mooi van die Challenge, die eerste deel van die Challenge tot in Rhodes is altyd vir my die ergste, deels omdat ek van plat wêreld kom en jy in jou moer in klim en dan ook omdat alles al ewig afgebrand word, die enigste mooi deel is die deel van Blackfountain na Tinana en dan ook die sterreprag van Lehana's as jy dit in die donker aanpak. Dan volg die deel van Rhodes na die Baviaans waar die mense vir my die mooiste deel is, warm hart mense wat jou enige tyd sal in nooi vir 'n koppie koffie, 'n biertjie en selfs 'n skaap tjoppie, dis so asof hulle jou wil vashou en jou vol ware omgee mens wil prop. Sout van die aarde mooi mense en die mooi oorskadu die mooi van die naruur by verre.

En dan volg die regte mooi van die Freedom Challenge, die Baviaans en Gamkaskloof en net om dit baie meer aanliklik mooi te maak gooi David die Osseberg nou Modor genoem in, kyk om die mooi te geniet moet mens eers swaarkry en suffer en dis presies wat die osseberg doen, dog ook mooi in eie wese, maar dit bring 'n wildheid en vrees in baie challenger mee. Kyk daar wil jy nie verlore raak nie, al is dit hoe mooi, dis as die Osseberg jou verswelg, dit dreineer jou energie, vreet die tyd en dis ongenadiglik, die dorings verteer jou en dis so asof die plek jou siel opvreet, jy smag na lewe, na beskawing en al waaraan jy kan dink is dat jy daar wil uit.

Net wanneer jy dink jy is verswelg verskyn die Baviaans, ongeskonde mooi en nuwe lewe borrel deur jou are en jy spons die mooi op en vernuwe jou aanslag en dan kom die winde van verandering tussen Prince Albert en Willomore, 65 km per uur winde laat jou gou van die mooi vergeet en jy nodig iets soos die Swartberg pas en Gamkaskloof om weer nuwe lewe in jou in te blaas en dis presies wat dit doen. Dit tel jou op en plaas jou op 'n nuwe " High " jy weet die einde is nie ver nie, dis eintlik oogknippe en oomblikke ver en dan vind jy jouself in Stetteyns....

Stetteyns die plek wat jy met 'n baie heilige ontsag betree, heilige grond sê ek jou, dit worsel die laaste emosie uit jou uit, bring jou letterlik op jou kniee, slaan jou oë op na die Hemel en jy vra die Liewe Vader om jou tog net krag te gee om jou deur te sien.

Terwyl jy worstel, wonder jy baie hoekom David die deel ingebring het, jy verwens en vervloek David, gaan sy nek omdraai as jy eendag Stetteyns oorwin en jy swoeg voort, stoei, breek gooi en ploeter en stadig kom die einde in sig. Huil soms van moedeloosheid, soms van woede en soms omdat jy weet die einde is in sig en wanneer jy eintlik bo uitkom wil jy vir David soen en omhels van vreugde en nou weet jy eintlik hoekom hy die verswelgende deel ingesit het. Stetteyns dreineer jou, wurg die laaste emosie uit jou uit om plek te maak vir die Freedom Challenge ervaring, met 'n knop in jou keel pak jy die laaste deel aan, en emosies spoel oor en oor in jou heen, trane vloei vrylik en jy het 'n nuwe waardering vir die wêreld........


Die Du Toit's Kloof pas louter die nuwe ervaring, emosies word gesmee in vlees en bloed en 'n hunkering word gebore, dalk nie dadelik nie, maar in die komende weke sal 'n soeke ontstaan om jouself weer te ondek op die Freedom Challenge........

,
 Hoekom jy wil terugkom weet jy nie, maar jy weet jy wil terugkom.....

Die Freedom Challenge verander jou, verseker ten goede, jy bekyk die wêreld met nuwe oë en waardering en jy hunker om terug te kom om verder in die hoogoond van die Freedom Challenge gesmee te word....

Dankie my wonderlike vrou en kinders vir julle ondersteuning, dankie dat julle in my vermoëns geglo het en dat julle altyd daar was vir my. Ek hoop ek het julle nie te veel afgeskeep in die soeke na myself nie, maar ek kan julle een ding verseker sonder julle ondersteuning en liefde sou ek dit nooit gemaak het nie. Altyd net 'n oproep ver vir vertroosting en liefdevolle motivering, baie keer was ek soekend na sein, smagtend net om julle stemme te kan hoor. Saam is julle in my Freedom Challenge ervaring in murg en been gesmee, Melanie het die jaar selfs met die ervaring van die jare vir my 'n werkende sub 15 dae plan opgestel en dit maak werk. Ek kan nie genoeg dankie sê vir alles wat julle vir my betekin het nie !!!! Ek dra julle in my hart, julle bruis deur my are en julle was altyd in my gedagtes, sonder julle kan ek nie.



Sonder die hemelse Vader sou niks vir my moontlik gewees het nie, dankie Here vir die voorreg om aan die Freedom Challenge te kon deelneem, dankie dat U altyd u beskermende hand oor my gehou het, dankie dat U ook my kosbare familie beskerm het tewyl ek weg was. Here dankie vir elke dag se krag, dankie vir die voorreg om in U paradys te kon deelneem, dankie dat ek U kon ervaar in die sterre prag, in die majesteuse berge, in die wonderlike mense op die roete en in elke stap en trap. Here dankie vir gesondheid en die voorreg om die Freedom Challenge herhaaldelik te kon geniet, neem U ook nou my hand in my soeke na 'n nuwe avontuur. Amen


1 comment:

  1. Wel gedaan Marnitz. Jou stories so opreg en uit die hart het vele van ons na Freedom gelok, weet nie of dit jou bedoeling was nie maar dankie vir jou inspirasie. Sal jou stories in 2015 mis.

    ReplyDelete