Die droom om 'n Freedom Challenge suksesvol klaar te maak, is soos baie dinge in die lewe nie 'n gegewe werklikheid nie, dit neem baie harde oefening, voorbereiding, hardkoppigheid en deursettingsvermoë.
Terug in 2013 was my groot droom om die Freedom Challenge met een van my broers te deel, in my malligheid het ek sommer besluit om dit op 'n tandem saam met Werrie aan te pak. Die droom het sommer vinnig gesneuwel toe Werrie se linker knie oppak sommer in die begin van die race. Met trane in ons oë het ek en Boet Werrie van mekaar afskeid geneem in Masakala.
Plan B spring toe in werking in 2014, Werrie op sy eie MTB en ek twee dae later op my eie MTB, die groot plan was om Boet Werrie se kniee te spaar tot in Rhodes, waar ek hom dan sou vang en ons die tog verder sou aanpak. Werner het op voorstel van my 'n recce saam met Martin Dreyer gedoen.
Martin Dreyer is 'n tawwe kalant en hy het my die versekering gegee dat daar geen tekort aan Werner se kragte is nie. Werner was goed bekend met die roete tot in Rhodes.
Ons plan was goed aan die werk en Werner het goeie vordering gemaak, selfs dele stoksiel alleen gery.
Ek was goed oppad om vir Werner in Rhodes te vang, sy kniee het weer begin lol en Werner het besluit om die witvlag te hys voordat ek hom in Rhodes onder oë kon neem. Werner het die oggend net voor my aankoms 'n geleentheid uit Rhodes gekry. Die keer was ek stilweg de donner in, kwaad vir Boet Werner omdat hy weggeraak het voordat ek hom moed in kon praat, kwaad omdat my droom nie 'n waarheid kon word nie, sommer de moer in vir alles.
Nodeloos om te sê ek het opgegee in die droom, jy kan 'n donkie to by die water lei, maar jy kan hom nie maak trap nie, hy moet self die water proe, passievol wat ek is om my Freedom Challenge ervaring met Werner te deel het ek nooit opgegee nie, en Werner het water geproe....
Plan C tree toe in werking in 2016, Werner getrou aan die hardegatgeit van die Nienabers laat weet my hy gaan weer deelneem. Werner se voorbereiding was uitstekend, selfs van daai fancy akrobatiese Pilatus klasse gaan bywoon om die kniee sterker te maak, ek glo dit help seker vir hardegatgeit ook, want as ek so lank my lyf in snaakse posisies moet hou sal ek seker ook maar hardegat word....
Ek glo Plan C is onder streng toesig van ons Liewe Vader uitgevoer, ek verhuis na Vredendal ( naby aan die Freedom Challenge finish) en nog meer ek moet op 'n verpligte kursus by Toyota gaan waarvoor ek nie baie lus was nie. Onder die toesig raak dit vir my moontlik om Werner af te sien in Pietermaritzburg en wat 'n groot voorreg was dit nie. Twee dae later met die uitstapslag uit die vliegtuig in Kaapstad word ek ingelig my Boet het sy fiets vernietig, sy MTB se frame is nerfaf, planne word gemaak en hy kry 'n nuwe raam en sit sy tog voort. Ek hou my asem op vir Rhodes en Werner slaan hom weg met sy volgehoue hardegatgeit om foutloos verder in die roete af te beweeg, die kniee is seer, dis koud, maar dis lekker, Boet Werrie geniet homself en die smile op my bakkies word al groter en ek meng nie in nie, dis sy race en hy maak die besluite. So nou en dan vis ek langs die pad, net om seker te maak die man bly op spoed.
'n Paar dae later kry ek 'n benoude uitasem oproep van Werner, sy raam het weer gebreek, tussen niks en nêrens en daar is op die aarde niks wat ek vir hom kan doen nie. Hardegatgeit en deursettingsvermoë skop aan Werrie se kan in, hy keer 'n boer voor en maak 'n boere plan en sie daar gaan hy weer met sy gelapte MTB, hy vra my nog die tyd na Hadley en doen dit sommer in die helfte daarvan. Die Freedom Challenge familie se ratte draai en ek kr raad van alle kante, tot 'n nuwe raam word ingevlieg wat hy later in Cambria kan oorbou. Getrou aan Nienaber tradisie wys Werner die maklike oplossing van die weg en ry met sy gelapte MTB tot in Willomore waar ons ordentlike lap toerusting vir hom gereël het. Werner nou so hardegat en gemotiveerd om klaar te maak, neem die nodige reparasie materiaal, maar besluit dit gaan beter wees om met sy gemodifiseerde pyp fiets klaat te maak. Ouboet waarsku hom daarteen, maar aan 'n Nienaber is daar nie baie salf te smeer nie, dalk so bietjie skaap vetjies vir die omgekeerde jeep tyre lippies, maar dis al.....
Die rolle tussen ons broeders maak so ommekeertjie gedurende die Freedom Challenge, ek aan die begin blaf die bevele en Werrie moet uitvoer, aanhou en bekhou, ek besef dis nie my race nie, dis sy race en sy besluite en sy ervaring en die bevele verdwyn en dit verander in vrae van Boet Werrie, hoe laat dink ek hulle moet ry, hoe ver dink ek hulle moet ry en wat dink ek moet hulle doen ? en ek, ek begin Werner se eie ervaring meeleef, soos dit moet wees.
'n Dag voor Werner moet klaar maak, kry ek weer 'n uitasem oproep, hierdie keer meer bedonnerd, sy raam het op nog 'n plek gebreek, hoekom ? want hy het gertrou aan Nienaber hardegatgeit nie na my geluister en die eerste breek mooi herstel nie, en nou ? nou sit hy weer tussen niks en nêrens met sy finger in sy raam.... Gelukkig het hy die pakkie Freedom Challenge Bush Fix saam met hom en hy lap sy fiets net om 'n uur later weer nou alleen teen die storm wind te veg. Die geveg hou ek noukeurig dop tot in Trouthaven, vanwaar Werner die Freedom Challenge suksesvol kon klaar maak !!!!
16D 12H38
Welgedaan Boet ! Jy is nie net Marnitz se broer nie, jy is Werner Nienaber my broer !!!