6/23/2017

Rondawel - Gamkaskloof Visgraat !!!!


Ons word die oggend vroeg wakker met die manne wat langsaan om die Breakfast tafel skarrel, hulle het ook 'n lang nag in die reën beleef, en so ontmoed ons vir Bugs, Andrew, Gavin en Gerhard om die tafel. Ek het dit voorheen al baie beleef wanneer ons sogenaamde racing snake die manne vorentoe van laat spaander hulle asof ons melaats is of dalk meet hulle hulself teen ons kragte, maar dit gebeur gewoonlik dat die manne jaag tot by die volgende stop en dan rus, ander as ons wat aanhou en aanhou.

Die manne doen ook hulle naam gestand en laat spaander, nie te lank nie toe vang ons hulle en ry mooi in gelit saam en toe tot my en Tim se verbasing pleeg hulle die visgraat maneuver, heel gesinkroniseerd een links een regs, en nog een links en nog een regs opsoek na sy eie boompie. Ek en Tim kyk verbaas na mekaar, kyk ek weet op die race kom jy na aan jou Skepper en Moeder Aarde en as jy die voorreg het om saam met iemand te ry skuur jy maar af aan mekaar, maar so gesinkroniseerde spulletjie het ek nog nie beleef nie.

Ook nie te lank nie toe ry die manne weer saam met ons en nie te lank daarna nie gebeur dieselfde gesinkronieseerde beweging een links en een regs, en nog een links en nog een regs, die keer nader aan die pad en met meer spoed, en ek dink so by myself my magtig maar die manne is op die bol, goed inge-oefende bewegings.

Vir die jonger geslag wat nou nie in die army was nie, 'n Visgraat Maneuver is 'n beweging wat jy uitvoer wanneer jy vyandig kontak slaan en dan soos 'n visgraat een links en een regs opeenvolgings versprei en dekking neem onder 'n boom, in die geval is dit vyandige kontak in jou maag wat teen hoë spoed moet uit om verligting te bring. Die probleem is net jy is op 'n fiets, jou maag gee eers 'n grom en maak dan so draai en dan spring jy af, los jou fiets net daar langs die pad, in die hol oppad na die bos raak jy ontslae van jou rugsak en dan begin jy met jou baadjie en die stoeipak en dan eers kies jy jou bos.......

Die eerste keer wat dit gebeur sien jy nog kans vir 'n ver bos, die volgende keer 'n nader bos en dan sommer hier teen die pad, skaamteloos word toiletpapier wat nou skielik baie waardevol geword het uitgeruil, tot op die punt waar jy jouself tot 'n paar blokkies beperk, omdat jy nie weet hoeveel blokkies jy nog gaan nodig kry tot by die volgende punt nie. Ek en Tim is baie geamusseerd met die gesinkroniseerde Visgraat maneuvers en tog te bly ons het nie van dieselfde water of kos ge-eet nie, want ons makeer absoluut niks nie.

By ons nommer een ondersteuner ene Kommandat Johann Rissik aangekom geniet ek sommer twee lekker koffies en 'n handvol beskuit, die ander manne is maar bang vir die koffie en beskuit. 'n Hele paar jaar gelede het ek vir die eerste keer vir Johann langs dieselfde pad ontmoet ook met 'n lekker koffie en bekuit, die man was nog net goed vir ons almal, Boeretroos vir die siel en mechanic vir ons moeë fietse. Ek en Tim val in die pad terwyl die ander manne Immodiums uitruil, gelukkig is my maag sterk ek het al dooie biologie projekte ge-eet en staan bekend as die kos stofsuier in die huis.

Ons eet soos konings by Ria en Lindsay van Dennehof, ons is bietjie laat vir Anysberg maar behoort Rouxpos te maak en nie te lank na ons aankoms verlaat ons die Koningshuis wees, ek moet sê met huimwee wat ek sou regtig daar wou oorbly, maar Diemersfontein wink.

So halfpad op teen die Swartbergpas grom my maag vir die eerste keer, heel moontlik omdat ek myself oorbedien het aan die koningsmaal wat vir my gedek was, Tim is so entjie voor my en ek kies 'n bos heel ver van die pad af naby die ou tronk, my gebruiklike ou plekkie vir ontlading. weer op die fiets beur ek vorentoe op die pas, Tim het ook verdwyn en vir hom 'n bossie uitgesoek en toe begin die meerkat dans en ons verval in die Visgraat Maneuver, julle het al seker 'n paar meerkaaie gesien dans ? Die een kyk staan mos pennetjies regop opsoek van ver weerlig terwyl die ander een op die grond rondskarrel en dan ruil hulle om, nouja so gaan dit met my en Tim dan staan hy en beloer die wêreld en ek skarrel al nader aan die pad onner 'n bos en dan loer ek die wêreld en hy skarrel onner 'n bos. Tim trek onder my uit en ek wonder of ek moet omdraai, want my witgoud is klaar en dis nie baie moeilik om om te draai nie veral nie na Dennehof toe nie, net toe my moed my amper begewe daag Gerhard Dreyer daar op en help my met 'n handvol witgoud, hy het vermoed ons kan dit dalk nodig kry en so skuit-skuit ons die bult uit.

Bugs vang ons netso voor die laaste klim, hoe loop die gesegde nou weer ? Wie laaste lag, lag die lekkerste....... Ek voel hoe die kraggies minder raak want as jy iets eet ontplot dit net nou, self water maak nou al 'n plofbare lading, gelukkig maak ons Gamkaskloof net na laaste lig en ek besluit om oor te slaap en 'n prop vir my maak te maak. Daar's twee huisies, ek en Gerhard deel die een en Bugs, Andrew en Gavin die ander. Ek sluk nog twee Immodiums so kan ek nie aangaan nie, ek gaan myself dooddra aan witgoud, voor ek my bord kos verorber, Tim is ook daar en wil aangaan, maar ek gaan stop, want om 'n stoeipak in die die donker uit te pluk en met jou bas in 'n doringbos te eindig in die stikdonker kan nie lekker wees nie. Pieter Joubert laai 'n lekker vrag hout by ons huisie af en ons maak 'n lekker vuurtjie, ek tap vir my 'n bad vol water en dryf soos 'n baba seekoei tot die bed my roep, hierie gaan 'n lang slaap wees amper 7 ure, heel ongehoort........

No comments:

Post a Comment