Maar o wee daar's 'n moerse afdraande wat wag na die afdraai na Bokspruit, jy sak af tot heel onner waar die gevriesde riviertjie en wit gerypde velde vir jou wag en eensklaps smaak dit my ry ek in Antartika in, dis vrek koud, eintlik 2.Moer koud, ek stap sommer die opdraandes net om weer bloed in die tone te kry, met die arms maak ek wawiele, klap die hande om hitte te genereer, maar dit bly koud en so stappende armswaaiende wawiele ploeter ek voort tot by die Sterkspruit afdraai. Nog 'n afdraande wat my verder opvries, traanjies vries op my gesig na die afdraande, die Buff voor my mond wat die koue lug moet uithou vries, Sterkspruit is vriesend en al wat oorbly is om aan die beweeg te bly, anners vries ek regtig......
So halfpad op die Sterkspruit pad kan ek dit nie meer hou nie, my vingers voel soos gevriesde pere, dooie goed wat in my handskoene hang, my tone is dood, wawiele en stap help nie meer nie, my waterbottel en camelback is gevries en ek soek 'n warm plekkie wat baie skaars is, nêrens brand 'n liggie nie, dis vroeg oggend en ek sou ook seker in 'n warm kooi vir die koue weggekruip het.
Ek kry 'n ou stal, maak vir my 'n bed van teff en spring met geweld in my bivvy, iets moet ek doen om warm te word, na 15 minute vries ek in my bivvy, doen so slaapsak hardloop in die bivvy, wil nie warm word nie, al wat oorbly is beweeg, klim toe maar uit en beweeg stadig op die fiets tot ek 'n rokie gewaar by een van die plaaswerkers huisies. Sonder om te aarsel draai ek dadelik af, klop hammer aan die deur, iets van :"Ek sien julle het vuur, ek wil inkom, ek vrek van die koue.....
Die duur swaai oop en ek storm in, pyl reguit na die konkavuur in die hoek van die kamer, ek omhels omtrent die skoorsteen, lyk behoorlik of ek die konka aanbid soos ek myself om die vuur probeer vou, alles is koud, my hande dreig om die koorsteen te gryp, groot oë staar my aan van die bed se kant, "Die Baas kry koud nê" en ek prewel iets in Spaans van "Ja fokken koud" en so aanbid ek die vuur al omhelsend in 'n poging om die laaste bietjie hitte aan te trek. In stilte waardeer ons die vuur en toe ek dink ek is warm genoeg toe val ek maar weer in die pad, dis die koue nag se laaste stuipe en die son behoort binne die volgende uur of wat sy kop uit te steek, maar dit smaak my dit word ne koue, al die stroompies langs die pad is hard gevries.
Na sewe ure in die koue hel word dit lig, die son steek nie sy kop uit nie, want ons is in 'n gevriesde vallei, in die verte sien ek die opdraande na die Bottelnek afdraai, warm sonstrale glinster by die afdraai en ek was nog nooit bly om die opdraande te klim nie. Bogekom pluk ek my handskoene uit rig die gevriesde blou pêre na bo in poging om warm sonstrale te bereik, die lewe keer terug in my vingers, ek wil skree en toe skree ek maar van die pyn en toe daar lewe is vat ek pad na Chesneyworld se warm Aga stoof.
Na nege ure strompel ek die deur in by Chesneyworld, van in 'n aanbiddende houding langs die stoof neer, dis - 11 gewees en dis nou 10H00 die oggend en die pype is nog gevries, ek is hipotermies, praat nie lekke nie en heel van balans af. Ek moet warm word en Minky se ma boender my die stort in en stadig ontdooi die straaltjie warm water my weer tot mens, my voetjies en my hande nog dood, maar ek kan alweer praat, JT en Leon het ook in die vroeë oggend ure heel gevries daar aangekom, hulle is nou-nou in die sonlig daar weg. Gewoonlik spandeer ek net 'n halfuur by 'n support station, maar nie vanoggend nie, eers nadat ek weer heel ontdooi het val ek weer in die pad.
klein Andrè van Slaapkranz begroet my te perd naby die Spitskoppe en so deel ons die pad na Slaapkranz, klein Andrè en sy Oom Marnitz, by Slaapkranz aangekom te 15H00 besluit ek om van Andrè en Joyce se gasvryheid gebruik te maak, ek het vanoggend naby aan verkluim gekom en in my ou kamer sak ek neer onder die warm donskombers, ek het hitte en rus nodig tewyl my kleurtjies gewas word, eintlik hoop ek Tim daag daar op en dat ons saam kan ry.....
Boet Werrie bel my later die aand op die landlyn, Tim is blykbaar oppad maar kan dalk oorslaap by Chesneyworld, my beplanning is om middernag te ry, Melanie bel my ook later heel onstoke omdat ek al 3 uur die middag gestop het en niks laat weet nie, selfone werk nie in die geweste nie en ek het amper verkluim probeer ek verduidelik en sy praqat iets van ek kan dit netsowel los as ek 3uur die middag wil stop. Ek besef Melanie se woorde, hulle is baie trots op my en wat ek vermag en wil graag net die beste hê, ek besef my slapgatgeit en dat ek myself moet regruk en begin fokus, van more af sal ek ry........
No comments:
Post a Comment