2/13/2012

MONSTER !!!!!!

Monster fiets is al wat Stefan kan uitkry, oom dis 'n monster fiets !!!!!

Stefan is nog altyd sterker as ek, seker omdat hy 20 jaar jonger as die oom is, ek dink die 14 kg gewig verskil maak hom ook heelwat vinniger, en dan daai hoë cadence.....

Stefan weet nou wat dit beteken om in die huwelik te tree, hy het gister saam met sy oorgewig onfikse oom die Blou Trein geklim, en al wat hy uitkry is : " MONSTER oom, dis 'n MONSTER !! "
Ek dink as hy die monster vir die 4de keer klim en beheer oor sy bolyf kry gaan hy sien wat 'n monster die Blou Trein regtig is.

Ons doen die 78km in 2 uur 6 minute, die vinnigste wat ek dit nog ooit gedoen het, was bykans nooit uit big blade nie, maar heelpad, halfpad dood, en net as ek dink ons kan nie vinniger nie, dan voel ek die stoker hier agter my.

Soos Eduard my gister sê : " Net 'n week saam met Stefan dan sal ek fiks wees......" of  "dood" was my woorde. Stefan het leer praat, of stel dit so, hy het geleer om meer te praat as gewoonlik, hy het ook geleer om nie 'n stywe stok mannetjie agter op te wees nie. Stefan sê hy kyk net vir die oom se rug dan weet hy wat ek wil doen, armpies moet slap wees en die beentjies moet trap !!!

Stefan het ook geleer dat ons met 'n ketting verbind is, en hy moes maar by die stadiger cadence power training van oom Marnitz aanpas. Ek voel elke keer ons trap vinniger en vinniger en net voor ek soos 'n Oos Indies ingevoerde resies hoender voel dan change ek maar gears om by my asemhaling aan te pas.

Stefan beweer dis 'n goeie ding om saam met die onfikse oorgewig Oom Marnitz te oefen, want dit gaan hom nog sterker maak, ek is net bang ons breek die klankgrens en dan kom ons nooit weer terug nie.


Een ding wat ek nooit sal doen nie, is om Melanie in te ruil vir 'n ander partner, sy het haarself geleer wat om agter op die fiets te doen, sy is verseker baie mooier en netso kompeterend en ek het nie nodig om so hard te ry nie, sy praat ook heelwat meer......

Ek moet sê, ek geniet die tandem baie, dit vat 'n tydjie om gewoont te raak aan die nuwe soort huwelik, maar dis 'n moerse lekker huwelik. Ek sal dalk maar vir klein boet net vir 'n draai of twee moet vat voor ons die grote aanpak.

2/08/2012

My Kompeterende vroutjie !!!!!

So vermoed ek al vir 'n geruime tyd my Engelsman is baie kompeterend, maar vandag weet ek dit.

My Engelsman is baie kompeterend en ek like dit kwaai !!! So bou ek mos die Blou Trein met die oog op die Freedom, en die trein kan nie net staan nie, die trein moet gery word en aangesien Boet in Richardsbaai bly trek ek sommer vir Melanie nader.

Nou kyk ek het nou al gehoor hulle sê 'n tandem maak of breuk 'n huwelik, maar hierdie een is beslis baie goed vir ons huwelik !!!

So gaan ry ons nou die oggend en ek bespeur 'n rooi liggie 'n ent voor ons, vermoed dis Eduard hulle, lig Melanie dienooreenkomstig in en sy sê toe dat ons hulle maar dan moet vang.

Al probleem is dis 'n 15 km opdraande, ok Wes Transvaal opdraande, vir julle manne van die Kaap eintlik net 'n knikkie. Ek is voordurend bewus van my nuwe stoker, en ek moet trap om voor te bly en so jaag ons die liggie, en die liggie bly voor ons en ons jaag die liggie. Op 'n kol mompel Mel iets van die tandem is nie gebou vir opdraandes nie en ek vra of ons dit bietjie rustiger moet vat. Kry geen antwoord, maar my verhoogde beensped vertel my ek beter nou trap !!!

By ons Boompie draaipunt so 300m voor ons sien ons die nukkerige maat op sy mountain bike, en hy en ons weet sy moeilikheid is geboek, dis nou 'n lang afdraande met so paar " knikkies " tussen in. Ons draai daai  Blou Trein om, Melanie lê sommer in die draai om die draai korter te maak en die aanslag begin, en die wiele sing en die gears raak op en dit raak vinnig, vrek vinnig en ons haal die rakker in en ons vang hom.

Ons groet beleefd, hy groet terug en sê iets van ons jaag darem baie lekker en neem toe sy nuwe posisie in, reg agter Melanie en hy vang 'n DIK slip, en ek weet hier gaan ons hom nie afry nie, maar my stoker se bene dink anders en sonder om 'n woord spreek weet ek wat ek wat van my verwag word.

Kyk 'n tandem is 'n snaakse ding, jy weet van alles van jou partner, hoe jou partner voel, wat jou partner doen, wat jou partner beplan om te doen en wat jou partner dink, woorde is oorboodig en onnodig, jy weet alles. Nou kyk Melanie het nie nodig om vir my te sê sy hou nie van 'n opdraande nie, ek weet en voel dit, en teen die Wes Transvaal opdraande ( Kaapse knikkie) kom ons nukkerige ryer weer verby en ek voel my stoker gee haar alles, maar dis net nie genoeg nie. Ek kyk om net om so paar woorde van versekering te gee, maar ek sien daai Damion Booth oë, oë wat my vertel niemand ry in ons slip, en gaan ons dan teen 'n opdraande verby nie, en ek weet woorde is nie nodig nie, dis nou tyd om te trap !!!!!

En ons trap en ons gaan die nukkerige mountain biker verby, en ons gaan verby teen spoed, want niemand gaan weer in ons slip sit nie, en ons vang die afdraande en ons los die man. Die volgende opdraande "knikkie" word oor rompel en daar is geen keer nie, dis nou 'n weghol trein.

Die afstand word in 23 minute vinniger afgelê as wat ek gewoonlik alleen doen, die gloed van my stoker het my oorweldig, ek is bloedrooi en die sweet stroom my af en ek kry daai lekker gevoel hier diep in my hart, met die wete, my Engelsman is 'n kompeterende bliksem.

Dis lekker om saam met haar te oefen, al doen ons nie die afstand nie weet ek om elke hoek en draai lê daar 'n uitdaaging en wag.........