6/22/2017

Damsedrift - Rondawel


Hestelle maak my wakker netso na 2H00, my horlosie het nie die job gedoen nie, as dit nie vir haar was nie het ek seker nou nog geslaap, want met twee, drie ure slaap 'n nag word 'n man maar lekker moeg. Ek het een van my armwarmers vermoedelik vir modor geskenk of iewers misgepak of baie die ingepak, gelukkig kon ek 'n plan maak met sykouse, sulke lekker dik swart skool sykouse wat Hestelle se dogter aan my afgestaan het en met 'n dubbel laag sykous op die een arm en 'n armwarmer op die ander pak ek die koue aan. Kort op my hakke is die lekker gesels slaapmonsters en so ent die kloof op oorval hulle my op 'n lekker leerbank by die baviaans Curio winkel en ek vat so 40 winks soos die ou mense gesê het. Bietjie meer wakker pak ek die volgende skof aan tot by Makedaats Grot, waar ek stop om 'n ietsie te peusel, eintlik opsoek na een van hulle lekker lemoene, ek vorder tot by die begin van Nuwekloof Pas waar ek weer deur die monsters platgetrek word, seker maar die gevolg van lekker gesels, ek het seker so 40 minute in die droë loop gedroom toe die eerste manne met hul fietse daar verbykom en my opwek.

Pak toe maar my goedjies en jaag hulle agterna, iemand het weer gesien ek's naby Willomore en die wind en reën knoppie aangesit, kyk in 7 jaar het ek nog nooit die stukkie aarde sonder 'n aardige wind beleef nie. Willomore is nog een van daai plekkies wat nie wil nader nie, jy kan hom amper sien, maar daar's altyd nog 'n draaitjie en nog 'n klimmetjie voor jy eers verby ry en dan die teer slaan, ek ry verby Willem WP se huis wat ek in my eerste Freedom ontmoet het, wonder of hy daar is en indien hy daar is of daar lekker koffie en musiek sal wees net om uit te vind hy's op die dorp. Die reën kom in sulke vlae neer, Runè het nogal gister gesê dit mag dalk reën nie dat hy enige voorspellings meer glo nie, maar dis nodig en dit sal hom glad nie pla as ons natreën nie, vir my ook nie, die aarde het water nodig en ek beur voort tot in Willomore, ek gaan verseker myself nie vermaak in die reën en wind nie, nie nog 'n keer nie, hier gaan ons eers halt roep.......

Ek kom sommer so half kwaad en nat gereën by die Willows in, sommer reguit na die kaggel, kry vir Shane Cycles die Britse toeris ook daar, lag 'n bietjie oor my catnap langs die pad, bly om te sien die man het eindelik kom ry. Kry 'n baie dringende boodskap van Tim, hy is in een van die huisies en ek moenie ry voor ek met hom gepraat het, ry, waarheen in die wind en die reën, ek gaan nêrens heen voor die wind nie bedaar nie. Kry Tim onder 'n warm stort, iets wat ek ook nodig het, hy het 'n voorstel, ons slaap tot 15H30 eet 16h00 en ry dan, die wind behoort dan minder te blaas, net soos wat ek ook gedink het. Ek plaas 'n bestelling vir 4 van daai uiters groot Barone's en 'n vars pakkie regte pyle want in die wind gaan mens dit nodig kry.........

Teen 16H15 wag ons nog taamlik ongeduldig vir ons kos, wat ons toe eers bietjie later kry, seker ook maar goed want teen 17H00 behoort die wind minder te waai, wat toe vir my teen die tyd nie so voel nie. Die vorige keer wat ek en Tim saam gery het in 2011 het ek agter Tim geskuil vir die wind, die keer is dit my beurt om die wind vir Tim te breek, op 'n stadium kla Tim ek ry te vinnig, seker maar omdat ek aan Vredendal se storms gewoont is, deels ook omdat ek gatvol is en graag so gou moontlik by Rondawel en daarna Prince Albert wil uitkom. Die plan is Prince Albert sodat ek in 13 dae kan klaarmaak en Tim in 12 dae, maar die wind en die nat paaie vetraag ons so bietjie, die laaste 40 km is my go weer uit, ek's moeg en ons sak neer vir 'n vinnige catnap en vat toe maar die nat pad na Rondawel. Ons moes Meryl die versekering gee dat ons nie net daar gaan opdaag nie, sodat die mense nie verniet die heel nag vir ons sit en wag nie, daarom kan ons nie net verby hou nie en net na 1H00 vind ons onself op Rondawel se stoep met wagtende mens met lekker en ek bedoel baie lekker pasta voor 'n warm kaggelvuur.

Ek en Tim geniet die warm vuur en skep vir ons sulke hompe van die lekker pasta, ons gaan eerder slaap en dan vroeg weer in die pad val.

Ek is bly ons het gestop, nog 'n uur en dan was ek 24 uur op die pad, Tim is reeds verby die 24 uur kerf en slaap kom sommer gou vir hom. Ek aan die annerkant geniet eers 'n pyl en beskou die sterrenag wat plek gemaak het vir die onweers wolke, eintlik is ek bly vir die wind wat die reën gebring het, want van hier af is dit moerse sinkplaat sandpaaie en die reën gaan die pad net makliker maak.

Ons moes eintlik vanaand in Prince Albert onder die wit duvet's geslaap het, maar op die Freedom Challenge verloop niks nooit volgens plan nie, ek sê altyd jy moet elke dag bank en as jy goed voel dan bank jy meer, more (eintlik vandag) moet ons in Anysberg eindig en daar lê nog 'n laaang pad voor om die 13 dae te maak en ek bank toe maar op nog 'n pyltjie terwyl ek wag vir Klaas Vakie.......

No comments:

Post a Comment