6/26/2017

Trouthaven - Diemersfontein


Die ander manne is vroeg op hulle wil 5H00 ry, Tim is nie lus om die heel dag met Stetteyns te stoei nie, safety in numbers soos hulle sê, ons is sewe en 'n paar gaan bosbrekers word, padmakers vir die ander. Theo het 'n roete oopgekap tot halfpad waar die moeilikheid begin. Ek wil alleen wees, ek wil alleen die laaste ervarings opslurp en alles in neem en ek talm, die ander manne val in die pad teen 5H00 en ek eers 'n half uur later so op my eentjie.

Oppad na die damwal besin ek oor my roete, ek speel tussen die Waterval en Theo se roete, indien ek die waterval roete vat, gaan ek hulp nodig hê om die fiets oor 'n paar kranse te kry, alleen gaan ek 'n tou nodig hê, iets wat ek nie het nie en daar verskyn 'n pak bakstene met banding straps en ek vat so twee van hulle, die besluit is geneem, die waterval roete....

Die Heyna haal die anner manne vinnig in ek sien hul liggies in die verte so kilometer voor my en hulle spook om voor te bly, portage is my ding en ek gaan die manne 'n ding of twee wys, last in en first out......

Dit word stadig lig toe ek die laaste nek voor die kloof en al sy almag homself voor my ontbloot, links van my lê Theo se lyn, voor my die kloof wat met hakia besaai lê en op die ingewing van die oomblik besluit ek op Theo se lyn, so vir 'n laaste keer en net ingeval ek myself dalk in die toekoms per ongeluk in die nag weer hier bevind.

Ek breek deur die stukkie hakia to by die rivier en begin met die moerse klim, in my kop speel Theo se getekende kaart, ek onthou ek moet aan die regterkant van die ridgeline hou, iets van 'n alleen boom en dan die stappers paaitjie, ek onthou ook dat Tim vir my gesê het dis moer hoog en glad nie plat as jy bo is nie, maar daar is nie hakia nie en so klim ek en klim ek......

Halfpad bo is ek gelyk met die nek waar die anner manne moet uit en ek vorder goed, kry die alleen boom oor die waterval stroompie en klim annnerkant uit, vind die stappers padjie en wonder waar die ander hulle bevind, maak 'n breek by die volgende stroompie, neem 'n pyl vir oulaas, wonder of ek weer gaan terugkom, oë soekend na teken van die ander manne, ek kan die jeeptrack sien vanwaar ek sit, asem elke laaste greintjie van die ervaring op en val in die pad na Diemersfontein.

Op die jeeptarck soek ek na spore enige tekens van die ander manne, en vind niks in die klipperige padjie, in my hart glo ek, ek is voor en ek jaag na die einde, sommer heeltyd uit die saal, net om by die einde te kom en hulle almal daar te vind. My roete was stadiger, maar verseker die moeite werd, ek ken nou nog 'n nuwe roete, iets wat punte sal tel as ek terugkom.

Die trane wel op in my, so ook die verlange, verlange na my vrou en my kinders, 'n knop kom op in my keel en in die stilligheid stort ek 'n traan, was dit my laaste keer ?


6/25/2017

Anysberg - Trouthaven


Net na een val ons weer in die pad Tim nog nie heel lekker nie, ek so ent voor hom, sy liggie so ent terug vol my, by die Touws rivier herenig ons weer en so ent aan is dit weer tyd vir my vir 'n visgraat maneuver, wat nou 'n heel irriterende beweging word, ek moet die enjin voer, maar sodra ek iets sensitief voer wat blykbaar omtrent alles is moet dit uit. Tim nogsteeds net met sy voorbriek is bietjie versigtig vir Oubergpas, dis weer 2.Moer koud en net voor die pas begin vat ek 'n vinnige catnap net om die slaapmonsters te verjaag sodat ek wakker kan wees teen die afdraande.

Na so 25 minute in die snerpende koue vlieg ek op, my lyf opsoek na hitte, ek ry my soort van warm teen die laaste paar opdraandes en met 'n slaapmonster op die rug bevlieg ek die pas, slaap slaap snel ek verby Tim, dis 'n 30 kilometer afdraande waarvan die eerste 15 kilometer redelik steil af is. Traantjies vries weer op my gesig en asof dit nie genoeg is nie ry die slaapmonsters my ook bloots, die koppie knak en netso voor elke skep draai skrik ek myself wakker in die sewende hemel in, gooi 'n slaapmonster af, net om plek te maak vir die volgende een. Hierdie keer is ek gewapen met al my klere aan, reënjas galore, maar die koue, nou my vriend wat die slaapmonsters weghou, byt in my siel in, op 'n stadium weet ek nie wat erger is nie, die slaapmonsters of die koue wat my vingers weer heel van vooraf vries. Al wat oorbly is om te trap om by Mantagu uit te kom en net na 6 val ek by die Bath Hotel in waar ek vermoed ons bly. Ek vra uit oor waar die ander manne se fietse staan en dit tref my dat ons nie daar slaap nie, ons is stop is by die Bos so ent af in die straat. Ek kort Barone's vir energie en 'n pakkie twak om my vingers warm te maak en hulle beduie my na 'n kafee op in die straat en ek vat pad, los die fiets eers daar, en so dwaal ek van die een kafee na die volgende tot ek in die Spar eindig en my aankope maak.

Ek kry vir Tim in die straat en so herenig ons weer saam met die ander manne by die Bos, hulle is haastig oppad Trouthaven toe, ek moet batterye laai en spring eers onder 'n warm stort in net om lewe in die gebeendere te kry, so halfuur later val ek weer in die pad. Die huimwee pak my beet, is hierdie werklik my laaste Freedom Challenge en ek probeer elke laaste krieseltjie ervaring opraap.

Net na die rooibrug pak die moegheid my weer, daar's 'n lappie groen gras langs 'n huis en ek sak neer vir nog 'n catnap, sommer so langs die besige pad. Kyk as 'n man moeg is, is jy moeg en slaap kom maklik, dis soos 'n skakelaar wat jy afsit, jy hoor sommer hoe raak jy aan die slaap. Baie van die ander vra altyd hoe kry ons dit reg om so vinnig aan die slaap te raak, baie maklik as jy werklik moeg is maak jy net jou oë toe en slaap. So slaap ek vir 'n halfuurtjie of wat, tot 'n bakkie met 'n bekommerde vrou my wakker maak, is ek oraait, ja antwoord ek, rus net bietjie......

Dis toe sommer ook my que om in die pad te val, by McGregor aangekom word die batterye eerste gelaai, ek maak vir my 'n lekker boere ontbyt, die selfoon word ook gelaai, ek bel vir Melanie, hulle is al by Diemersfontein, wag vir my en ek sit en top of ek Stetteyns in die nag gaan aanval, om daarvoor te voorsien moet die batterye vol gelaai word en ek vat so 40 minute breek op die bed in die sonnetjie.

Dis nog 108 km na Trouthaven en 'n nuwe pad, gelukkig het ek myself bewapen met 'n gevalle makker se kaarte en aanwysings, Boet werrie het my verseker die pad is nie te moeilik nie, moet sê die nuwe deel is nogal mooi seker omdat dit 'n nuwe roete insluit. Net voor die Villiers pad stop 'n boer my en vra my of ek aan die Freedom Challenge, ene Els as ek reg kan onthou, ons raak aan die gesels oor die race, hy baie belangstellend, sê hy's te oud, 50 jaar is glad nie te oud nie antwoord ek dis net die regte ouderdom om te begin, hy bied koffie aan by sy huis so entjie terug, maar ek wil klaarmaak en val weer in die pad die donker nag in.

Naby Brandvlei bel Boet Werrie weer, kry wer die versekering dat ek goed doen, die ander manne het nou net by trouthaven ingetrek, gaan ek Stetteyns die nag aanval ? Ek is nog nie seker nie, Trouthaven sal bepaal, ek gaan of my waterval roete of Theo se roete vol die hakia roete wat Martin gevang het gaan ek te alle kostes vermy, al probleem is ek het eenmaal 'n handgetennde kaart van Theo onder oë gehad en ek is nie heeltemal seker oor die roete nie, die waterval roete is moerse steil en nie vir die nag bedoel nie. Ek kan die kans met Theo se roete vat, maar dan het ek ook al vir Tim sien rond dwaal in die nag op die roete, Trouthaven sal bepaal, dit en die hoeveelheid lig wat ek het, glad nie lus om sonder lig in die kloof gevang te word.

22H10 stap ek by Trouthaven se deur in, my gewone slaap plek op die bank is gereserveer, ek eet iets, drink twee koppies koffie en gee toe aan my bank, more maak ons klaar.......

6/24/2017

Gamkaskloof - Anysberg


Die nagrus was so lank ek droom ek's klaar en spring verward op toe my horlosie alarm afgaan, Gerhard het vir my 'n lekker koppie Boeretroos gemaak, toe ons by die ander manne kom slaap hulle nog heel snoesig, ons trek toe maar so bietjie later as die beplande 5H00 weg, eintlik goedso want dis 'n mooi deel van die aarde die. Met eerste lig kry ek die geleentheid om vir Gerhard die leer in daglig te kan wys, dis 'n steil klimmetjie wat ons so 45 minute neem tot bo, ook maar goedso want toe knak my kniee en raak ek dringend opsoek na 'n bos......

Gelukkig is ek vandag gewapen met 'n rol witgoud, die visgraat maneuvers het my lam gelaat, die kraggies is maar min en ek bly maar bang om iets te eet, sip sip maar so aan die Game, ek en Gerhard gesels lekker en ek geniet die visterman van die Baai, dis 'n voorreg om 'n man se eerste ervaring op die Freedom te deel. By die selfoon sein punt bel Boet Werrie my, ons doen goed sê hy, my mening is die 13 dae beplanning is besig om stadig uit my hand te glip, maar nouja ek kan dit nog doen, gaan net 'n nagmars wees op in die kloof..... Tim het by die ou murasie net voor Sewe weeks kloof geslaap en as ek roer kan ek hom by Rouxpos vang, die man se maag was heelblyklik nog nie gesond nie en het hom vermoedelik terug gehou in die koue nag. Ek bel sommer ook vir Mel en die kinders, gaan 'n lang trek wees voor ek weer met hulle kan praat, Alison land more in die Kaap en ek wil bitter graag Sondag klaarmaak, ek weet dit gaan maar bars gaan, as ek net my maag intoom kan kry en krag in die bene in kan pomp en nie onder die bosse in nie.......

Die Rush se wiele sing weer, dis 'n lekker grondpad en ek klim sommer uit die saal teen die opdraandes, Gerhard is so entjie voor my en ek vang hom op die laaste opdraande by Horlosiekrans, kyk my pikante lyfie is mos nie gebou vir opdraandes nie, maar vir die platpad en afdraandes is hy heel geskik en dis dan wanneer 'n kombinasie van krag en gewig inskop. Ek vlieg verby Gerhard, mens kan gemaklik 70 km/h + haal teen die afdraande, maar vandag waai daar 'n windjie wat my bietjie terughou en ek aanvaar die 64km/h openhartig. By die Rouxpos afdraai groet mense ons vriendelik by die eerste huis, wil weet wie's die Hyena, 'n bynaam wat ek so paar jaar gelede gekry het, kyk die Hyena kom mos van agter en eet al die scrapies langs die pad tot hy voorkom. Ek het nie bokse nie, nie roete aanwysings nie en ook nie kaarte nie, die enigste kaart wat ek het is die een wat oor die jare in my peanut in ge-ets is en so nou en dan wenk ek ook maar af van die kaart......

Ander byname wat ek al oor die jare gekry het is Kommandant van die Boere komando in 2009 toe ons vir Alex die Ingelsman tot by die wenpaal gejaag het, daarna het ek die Nagapie geword, seker maar oor my grootoog deurnag ryery, Ivor het my Korporaal gedoop, seker maar omdat ek so kwaai was......

Hierdie jaar is ek blykbaar al die name, soveel manne wat weer ry oor verskillende jare en elkeen onthou 'n ander bynaam.

By Rouxpos geniet ons weer Tannie Ronel se lekker kerrie en ry en daai wafel en roomys, hulle vra my of ek weer volgende jaar gaan ry en ek antwoord soos elke jaar plegtig nee, maar die keer dink ek is dit regtig so, ek vat so 25 winks terwyl Gerhard sy fiets nagaan, eintlik gaan Gerhard sy fiets na omdat ek 'n 25 winks wil vat.

Ek en Gerhard val weer in die pad en die man is heel in vervoering oor die mooi stuk aarde waarheen ons nou ry, hy is ook heel verbaas oor hoe ek sonder kaarte en aanwysings ry, my peanut werk in landmerke en ek verbind net die landmerke met padjies aanmekaar, so maklik soos dit. Ons gesels oor alles, my vorige challenges, dat jy die race nie alleen kan aanpak nie, jy nodig jou Skepper en dan jou geliefdes, oor foute wat ek in die verlede gemaak het, oor hoe nederig die roete jou maak, my spesiale support station familie en oor David Waddilove se geniale visie om die roete uit te lê. Ek geniet die klong se geselskap, hy is 'n harde werker, lief vir sy vrou en kinders en avontuursoeker wat deur Hestelle van Damsedrift oortuig is om die race te doen. Hy neem hordes foto's soos wat dit hoort te wees en ek voel sleg oor die paartjies wat ek geneem het, snaaks hoe jy oor die jare verander, ek het die eerste jaar seker 500+ foto's geneem, nou soek ek elke dag net daai een spesiale foto wat my vorentoe beur.

19H15 val ons by Anysberg in, Bugs en die ander manne mik vir Montagu, my maag grom nog, Tim s'n ook, hy gaan oorslaap na die koue nag eskapades oppad na Rouxpos en eensklaps voel ek verplig om agter te bly. Ek skerts met Tim of ons die dubbelbed gaan deel, daars 'n dubbelbed en twee banke, ek soek nog 'n kombers vir my bank toe sê Tim ons kan die bed deel op voorwaarde ek gesels nie die heel nag nie, en so oomlike later betree ons rug aan rug droomland, eintlik nie droomland nie, daar's nie tyd vir droom nie, ons skakel net af, 1H00 sal ons weer in die pad val.


6/23/2017

Rondawel - Gamkaskloof Visgraat !!!!


Ons word die oggend vroeg wakker met die manne wat langsaan om die Breakfast tafel skarrel, hulle het ook 'n lang nag in die reën beleef, en so ontmoed ons vir Bugs, Andrew, Gavin en Gerhard om die tafel. Ek het dit voorheen al baie beleef wanneer ons sogenaamde racing snake die manne vorentoe van laat spaander hulle asof ons melaats is of dalk meet hulle hulself teen ons kragte, maar dit gebeur gewoonlik dat die manne jaag tot by die volgende stop en dan rus, ander as ons wat aanhou en aanhou.

Die manne doen ook hulle naam gestand en laat spaander, nie te lank nie toe vang ons hulle en ry mooi in gelit saam en toe tot my en Tim se verbasing pleeg hulle die visgraat maneuver, heel gesinkroniseerd een links een regs, en nog een links en nog een regs opsoek na sy eie boompie. Ek en Tim kyk verbaas na mekaar, kyk ek weet op die race kom jy na aan jou Skepper en Moeder Aarde en as jy die voorreg het om saam met iemand te ry skuur jy maar af aan mekaar, maar so gesinkroniseerde spulletjie het ek nog nie beleef nie.

Ook nie te lank nie toe ry die manne weer saam met ons en nie te lank daarna nie gebeur dieselfde gesinkronieseerde beweging een links en een regs, en nog een links en nog een regs, die keer nader aan die pad en met meer spoed, en ek dink so by myself my magtig maar die manne is op die bol, goed inge-oefende bewegings.

Vir die jonger geslag wat nou nie in die army was nie, 'n Visgraat Maneuver is 'n beweging wat jy uitvoer wanneer jy vyandig kontak slaan en dan soos 'n visgraat een links en een regs opeenvolgings versprei en dekking neem onder 'n boom, in die geval is dit vyandige kontak in jou maag wat teen hoë spoed moet uit om verligting te bring. Die probleem is net jy is op 'n fiets, jou maag gee eers 'n grom en maak dan so draai en dan spring jy af, los jou fiets net daar langs die pad, in die hol oppad na die bos raak jy ontslae van jou rugsak en dan begin jy met jou baadjie en die stoeipak en dan eers kies jy jou bos.......

Die eerste keer wat dit gebeur sien jy nog kans vir 'n ver bos, die volgende keer 'n nader bos en dan sommer hier teen die pad, skaamteloos word toiletpapier wat nou skielik baie waardevol geword het uitgeruil, tot op die punt waar jy jouself tot 'n paar blokkies beperk, omdat jy nie weet hoeveel blokkies jy nog gaan nodig kry tot by die volgende punt nie. Ek en Tim is baie geamusseerd met die gesinkroniseerde Visgraat maneuvers en tog te bly ons het nie van dieselfde water of kos ge-eet nie, want ons makeer absoluut niks nie.

By ons nommer een ondersteuner ene Kommandat Johann Rissik aangekom geniet ek sommer twee lekker koffies en 'n handvol beskuit, die ander manne is maar bang vir die koffie en beskuit. 'n Hele paar jaar gelede het ek vir die eerste keer vir Johann langs dieselfde pad ontmoet ook met 'n lekker koffie en bekuit, die man was nog net goed vir ons almal, Boeretroos vir die siel en mechanic vir ons moeë fietse. Ek en Tim val in die pad terwyl die ander manne Immodiums uitruil, gelukkig is my maag sterk ek het al dooie biologie projekte ge-eet en staan bekend as die kos stofsuier in die huis.

Ons eet soos konings by Ria en Lindsay van Dennehof, ons is bietjie laat vir Anysberg maar behoort Rouxpos te maak en nie te lank na ons aankoms verlaat ons die Koningshuis wees, ek moet sê met huimwee wat ek sou regtig daar wou oorbly, maar Diemersfontein wink.

So halfpad op teen die Swartbergpas grom my maag vir die eerste keer, heel moontlik omdat ek myself oorbedien het aan die koningsmaal wat vir my gedek was, Tim is so entjie voor my en ek kies 'n bos heel ver van die pad af naby die ou tronk, my gebruiklike ou plekkie vir ontlading. weer op die fiets beur ek vorentoe op die pas, Tim het ook verdwyn en vir hom 'n bossie uitgesoek en toe begin die meerkat dans en ons verval in die Visgraat Maneuver, julle het al seker 'n paar meerkaaie gesien dans ? Die een kyk staan mos pennetjies regop opsoek van ver weerlig terwyl die ander een op die grond rondskarrel en dan ruil hulle om, nouja so gaan dit met my en Tim dan staan hy en beloer die wêreld en ek skarrel al nader aan die pad onner 'n bos en dan loer ek die wêreld en hy skarrel onner 'n bos. Tim trek onder my uit en ek wonder of ek moet omdraai, want my witgoud is klaar en dis nie baie moeilik om om te draai nie veral nie na Dennehof toe nie, net toe my moed my amper begewe daag Gerhard Dreyer daar op en help my met 'n handvol witgoud, hy het vermoed ons kan dit dalk nodig kry en so skuit-skuit ons die bult uit.

Bugs vang ons netso voor die laaste klim, hoe loop die gesegde nou weer ? Wie laaste lag, lag die lekkerste....... Ek voel hoe die kraggies minder raak want as jy iets eet ontplot dit net nou, self water maak nou al 'n plofbare lading, gelukkig maak ons Gamkaskloof net na laaste lig en ek besluit om oor te slaap en 'n prop vir my maak te maak. Daar's twee huisies, ek en Gerhard deel die een en Bugs, Andrew en Gavin die ander. Ek sluk nog twee Immodiums so kan ek nie aangaan nie, ek gaan myself dooddra aan witgoud, voor ek my bord kos verorber, Tim is ook daar en wil aangaan, maar ek gaan stop, want om 'n stoeipak in die die donker uit te pluk en met jou bas in 'n doringbos te eindig in die stikdonker kan nie lekker wees nie. Pieter Joubert laai 'n lekker vrag hout by ons huisie af en ons maak 'n lekker vuurtjie, ek tap vir my 'n bad vol water en dryf soos 'n baba seekoei tot die bed my roep, hierie gaan 'n lang slaap wees amper 7 ure, heel ongehoort........

6/22/2017

Damsedrift - Rondawel


Hestelle maak my wakker netso na 2H00, my horlosie het nie die job gedoen nie, as dit nie vir haar was nie het ek seker nou nog geslaap, want met twee, drie ure slaap 'n nag word 'n man maar lekker moeg. Ek het een van my armwarmers vermoedelik vir modor geskenk of iewers misgepak of baie die ingepak, gelukkig kon ek 'n plan maak met sykouse, sulke lekker dik swart skool sykouse wat Hestelle se dogter aan my afgestaan het en met 'n dubbel laag sykous op die een arm en 'n armwarmer op die ander pak ek die koue aan. Kort op my hakke is die lekker gesels slaapmonsters en so ent die kloof op oorval hulle my op 'n lekker leerbank by die baviaans Curio winkel en ek vat so 40 winks soos die ou mense gesê het. Bietjie meer wakker pak ek die volgende skof aan tot by Makedaats Grot, waar ek stop om 'n ietsie te peusel, eintlik opsoek na een van hulle lekker lemoene, ek vorder tot by die begin van Nuwekloof Pas waar ek weer deur die monsters platgetrek word, seker maar die gevolg van lekker gesels, ek het seker so 40 minute in die droë loop gedroom toe die eerste manne met hul fietse daar verbykom en my opwek.

Pak toe maar my goedjies en jaag hulle agterna, iemand het weer gesien ek's naby Willomore en die wind en reën knoppie aangesit, kyk in 7 jaar het ek nog nooit die stukkie aarde sonder 'n aardige wind beleef nie. Willomore is nog een van daai plekkies wat nie wil nader nie, jy kan hom amper sien, maar daar's altyd nog 'n draaitjie en nog 'n klimmetjie voor jy eers verby ry en dan die teer slaan, ek ry verby Willem WP se huis wat ek in my eerste Freedom ontmoet het, wonder of hy daar is en indien hy daar is of daar lekker koffie en musiek sal wees net om uit te vind hy's op die dorp. Die reën kom in sulke vlae neer, Runè het nogal gister gesê dit mag dalk reën nie dat hy enige voorspellings meer glo nie, maar dis nodig en dit sal hom glad nie pla as ons natreën nie, vir my ook nie, die aarde het water nodig en ek beur voort tot in Willomore, ek gaan verseker myself nie vermaak in die reën en wind nie, nie nog 'n keer nie, hier gaan ons eers halt roep.......

Ek kom sommer so half kwaad en nat gereën by die Willows in, sommer reguit na die kaggel, kry vir Shane Cycles die Britse toeris ook daar, lag 'n bietjie oor my catnap langs die pad, bly om te sien die man het eindelik kom ry. Kry 'n baie dringende boodskap van Tim, hy is in een van die huisies en ek moenie ry voor ek met hom gepraat het, ry, waarheen in die wind en die reën, ek gaan nêrens heen voor die wind nie bedaar nie. Kry Tim onder 'n warm stort, iets wat ek ook nodig het, hy het 'n voorstel, ons slaap tot 15H30 eet 16h00 en ry dan, die wind behoort dan minder te blaas, net soos wat ek ook gedink het. Ek plaas 'n bestelling vir 4 van daai uiters groot Barone's en 'n vars pakkie regte pyle want in die wind gaan mens dit nodig kry.........

Teen 16H15 wag ons nog taamlik ongeduldig vir ons kos, wat ons toe eers bietjie later kry, seker ook maar goed want teen 17H00 behoort die wind minder te waai, wat toe vir my teen die tyd nie so voel nie. Die vorige keer wat ek en Tim saam gery het in 2011 het ek agter Tim geskuil vir die wind, die keer is dit my beurt om die wind vir Tim te breek, op 'n stadium kla Tim ek ry te vinnig, seker maar omdat ek aan Vredendal se storms gewoont is, deels ook omdat ek gatvol is en graag so gou moontlik by Rondawel en daarna Prince Albert wil uitkom. Die plan is Prince Albert sodat ek in 13 dae kan klaarmaak en Tim in 12 dae, maar die wind en die nat paaie vetraag ons so bietjie, die laaste 40 km is my go weer uit, ek's moeg en ons sak neer vir 'n vinnige catnap en vat toe maar die nat pad na Rondawel. Ons moes Meryl die versekering gee dat ons nie net daar gaan opdaag nie, sodat die mense nie verniet die heel nag vir ons sit en wag nie, daarom kan ons nie net verby hou nie en net na 1H00 vind ons onself op Rondawel se stoep met wagtende mens met lekker en ek bedoel baie lekker pasta voor 'n warm kaggelvuur.

Ek en Tim geniet die warm vuur en skep vir ons sulke hompe van die lekker pasta, ons gaan eerder slaap en dan vroeg weer in die pad val.

Ek is bly ons het gestop, nog 'n uur en dan was ek 24 uur op die pad, Tim is reeds verby die 24 uur kerf en slaap kom sommer gou vir hom. Ek aan die annerkant geniet eers 'n pyl en beskou die sterrenag wat plek gemaak het vir die onweers wolke, eintlik is ek bly vir die wind wat die reën gebring het, want van hier af is dit moerse sinkplaat sandpaaie en die reën gaan die pad net makliker maak.

Ons moes eintlik vanaand in Prince Albert onder die wit duvet's geslaap het, maar op die Freedom Challenge verloop niks nooit volgens plan nie, ek sê altyd jy moet elke dag bank en as jy goed voel dan bank jy meer, more (eintlik vandag) moet ons in Anysberg eindig en daar lê nog 'n laaang pad voor om die 13 dae te maak en ek bank toe maar op nog 'n pyltjie terwyl ek wag vir Klaas Vakie.......

6/21/2017

Hadley - Damsedrift

Ons vertrek netso voor 3H00 ek so ent voor Tim, hy sal my weer teen die klimme vang, ons ry teen tyd moet voor 13H00 by die Baviaans hek wees om begely te word vir die gevaarlike buffels, as die manne van die Baviaans maar net weet waar en tussen wat ons al alles deurgery het, maar nou ja dis vir ons eie veiligheid. As dit van my afhang het ek die hele deel uit die roete gesny, Modor is nie 'n lekker plek nie en dis so asof die katusse weet ons hou nie van die plek nie, want hulle word al meer......

Tim vang my teen die steil klim uit die Grootrivierpoort, ons ry so entjie in mekaar se spore tot by die volgende opdraande, ons doen weer die klere dans, trek aan, trek uit, trek weer aan en weer uit, snaakse weer, warm en vrek koud.

Dankie aan Expedition Africa se 160 spanne wat die Osseberg bietjie vir ons oopgetrap het, gewoonlik is die oorblyfsels van die jeeptrack so toegegroei dat jy meer teen die afdraande stoot as wat jy ry, ek is voor Tim met net sy voorbriek onder, ook maar net, sy handtering van 'n fiets met net 'n voorbriek spreek hoofstukke. oor die jare het ek al 'n weersin opgebou vir die stukkie aarde, die toegerankte oorblysels van 'n jeeptrack wat plek plek in 'n donga ontaard, die duisende dooie en lewendige doringbome wat die pad toegroei altyd gereed om jou 'n hou toe te dien, die riete soos die hakia in Stetteyns, altyd gereed om iets te gryp of te breek en die nuutste toevoeging die klou kaktus, die goedjies het die gewoonte om op te spring, jou 'n arsenaal brandende steke toe te dien en dan vir lewe en dood te klou, van die been na die hand na die anner hand en tussen dit alles ry jy tussen die wit beendere van Kudu karkasse wat seker van die kaktusse ge-eet het....

Onner gekom gaan sit ek op my gaai, pluk my laaste pyl uit en vat 'n lang teug, ek weet wat vir ons wag..... Ek en Tim bespreek die stukkie aarde en ja dis prentjie mooi as jy doodstil sit en nie 'n poging aanwend om enigsins te beweeg nie, ek wys vir Tim waar ek die vreesbevange Jill heel van koers tussen die riete gekry het, daai gesig die een van vrees wat oorskakel in blydskap sal ek nooit vergeet nie. Ons bespreek die uithaal van die lappie aarde en ek en Tim verskil, Tim wil die deel behou en sê dis uniek, noodsaaklik en deel van die race, waaroor praat jy wanneer jy eendag klaar is ? Ek moet toegee hy het 'n punt, maar dis nie 'n baie lekker deel nie, seker maar soos Stetteyns enigste verskil is by Stetteyns kan jy sien waar jy moet uit, dis net om daar te kom.......

Gelukkig en voordelig vir my en Tim weet ons waar om te gaan en 11H40 val ons in by Kudu Kaya, ons raak nou aan die voorkant van die race en die oorblyfsels wat die anner manne gelos het word al minder, ek maak vir my twee dik geroosterde kaas en heuning broodjies vir die pad, en ons deel die res van die oorblyfsels tussen ons. 13H00 is ons by die hek, Jacques moet ons begelei met 'n bakkie en ek en Tim moet bymekaar bly en ek weet dit gaan maar bars gaan teen die klimme, die sweet loop strome teen my af, ek werk nie net hard om by te bly nie, dis sommer ongehoort warm ook. Die salpeter slaan my uit en in 'n poging om die peanut af te koel hang ek my hemet op die handlebars, die nadeel is die sonnetjie brand my bollakop laat hy lyk soos cherry konfyt, en so ploeter ons voort tussen die kuku wrakke en die droë veld, smaak my die buffels vreet als op en al wat oorbly is verlate vlaktes. Jacques se bakkie hou my aan die beweeg ek moet voor die ding bly en hy moet agter my bly en al wat oorbly is om te trap om by die oorkantste hek.......

Laaste lig kom ons by die hek aan, dis nou ek en die agtervolger, Tim wat so ent voor my was het by die hekwagte se vuur homself wag gemaak, die son wat dooierus op ons gevat het maak nou dat ons skielik baie koud kry en ons vertoef so paar minute om die lekker vuur. Ek val in die pad na die volgende plekkie wat nooit naderkom nie, Damsedrift, dis moontlik die stikdonkerte en die moegheid wat veroorsaak dat Damsedrift nie nader wil kom nie. Dis 'n grenslose sinkplaatpad en die Rush soek weer alkant 'n gelyk stukkie aarde op die hobbelpad, ek is uit die saal uit, gatvol soekend vir Studis Polies Stasie se ligte, want as ek die ligte kan sien weet ek is ek amper daar.

21H40 is ek daar, Tim het besluit om eers so ent verby te ry op die eentonige pad, Runè het vir ons vuur gemaak, Estelle die lekkerste kos en ek raak aan die gesels, Tim praat iets van middernag ry, maar ek gesels te lekker, Hestelle moet eers 'n doring val 'n val seker twee dae gelede uit my duim verwyder. Lekker plek die Damsedrift, naby aan my hart, my pyle is op en ek vra wetend dat niemand hier rook nie vir 'n pyl en Runè kom te vore met 'n verlore pakkie wat een van sy vriende gelos het en pyl vir pyl gesels ons 'n hond uit 'n bos uit. Runè vra my op 'n stadium of ek nie moet slaap nie en ek antwoord : Ek en Tim het vandag besluit dis ons laaste Freedom en daarom gaan ek die kuier geniet, want volgende keer gaan dit nie met 'n fiets wees nie, ek klim na die lekker kuier na aan middernag in die bed in, ongeveer dieselfde tyd as wat Tim my weer verlaat.

My selfoon het ek moertoe geval in die dubbele plaaskoop aksie naby Koedoeskop en is onbruikbaar verklaar vir alarm doeleindes, ek stel dis my horlosie en hoop om 2h00 deur hom opgewek te word....

6/20/2017

Gegun - Hadley

Middernag val ons in die pad, dis snaaks warm, ons het skaars 'n paar kilometers gery toe begin ons uittrek, snaakse weer wat ons het. Ek en Tim maak goeie vordering en in 'n oogwink groet die klipperige Jeeptrack van Karoopoort ons, dis 'n steil klim en dan 'n moerse gevaarlike klipperige afdraande, iets wat jy nie met kaal hande aanvat nie. Ek en die die 29er verstaan mekaar nog nie heel so goed nie, gewoond aan my klein nippie 26er, maar ek moet sê op die plat is die 29er 'n sneltrein.

My wiel het 'n klip opgegooi terwyl Tim in my slip gesit het oppad Kranskop toe, die moedswillige klip het sy agterbriek se brakeline heel onnodiglik morsaf geslaan, nodeloos om te sê, van daar het Tim geen agterbrieke nie en ek is nogal gespanne of Tim dit net met die voor briek heel op die fiets gaan afmaak tot onder, stap sal seker die beter opsie wees....

Ek dink nog so aan Tim toe donner ek die eerste keer neer op die klippe, staan heel verbaas op oor my sleg hantering en ry toe verder net om vir 'n tweede keer ordentlik neer te donner, amper so geval toe Ivor laas saam my gery het en ek 'n stuk aarde in Koedoeskop net so kilometer of wat verder gekoop het. Ek lê onder die getroue Rush wat bo op sy Baas tot stilstand gekom het teen 'n skuinste. Ek skop my ysterperd van my af, nou glad nie meer tevrede met my hantering nie, van onder vra Tim of ek okay is en ek antwoord in Spaans, Tim antwoord terug Aah no man.

Onder gekom draai ons links, Tim vertel myiemand het die grond gekoop en is aan die regmaak, ons vind 'n vreemde hek wat ons van geen kant ken nie, draai om want ons moes die afdraai na JD Ross gemis het, ry te ver terug, draai weer om, ek kan iets onthou van 'n kilometer in die pad af en ons soek die pad waar ons ingekom het wat nou net spoorloos in die donker nag verdwyn het, na 'n moerse gesoek kry ons die pad en ek met 'n kilo af, kom weer voor die vreemde hek te staan, klim bo oor en vind die afdraai na JD Ross nie eers 200m verder nie.

5H10 stap ons by Toekomst se deur in en 'n halfuur later weer daar uit, kry van die anner manne oppad uit wat by Koedoeskop geslaap het, op die lang entonige pad na Darlingtondam vat ons 'n vinnige 25 minute catnap en ligdag val ons die Gwaas aan, dit wil wil reën, snaakse weer. Ek los weer vir Tim die vinniger klimmer, ek weet die plan is Hadley vir my, Tim wil eintlik in die stikdonker nag Modor betree, maar ek is nie so lus vir sukkel nie. By Koffielaagte gewaar ek 'n paar fietse wat seker kom koffie drink het, ek is nie baie lus vir gesels en tydmors nie en hou verby tot ek skuiling van die wind kry oppad na Perdepoort, stop vir 'n rukkie, nuttig 'n pyl en 'n broodjie en val weer in die pad.

Met die afgaan slag gewaar ek iemand wat 'n catnap vat, lyk vir my soos Tim, wat beteken dat ek nou voor hom is en iewers ook 'n catnap kan nuttig, wat waarheid word by die Kleinpoort afdraai, nie te lank nie toe daag Tim op, sy plan nogsteeds Modor in die stik donker en ek laat hom gaan, die ander manne kom ook al laggend verby, baie snaaks die racing snakes wat verby jaag en dan onder 'n bos neerdonner, 'n rukkie slaap en dan weer verby donner.

Die pad van Kleinpoort na Bucklands is belaglik swak, ek en my Rush is die hele pad vol opsoek na 'n gelyk stukkie, om dit te vererger is daar 'n hewige headwind wat dinge verder vertraag, Bucklands soos Rhodes, Willomore en nog 'n paar plekkies is een van daai plekkies wat ook nooit nader kom nie, jy gee jou alles maar die plek kom net nie nader nie. 15H40 val ek by Bucklands se deur in, Hannes is nie daar nie, maar ek en sy wederhelf gesels lekker, haar dogter is bevriend met 'n jongman wat ek baie goed ken, so tussen die gesels deur hap ek aan iets om net 'n halfuur later weer die tog aan te pak na Hadley, 'n plekkie waar ek nog nooit 'n voet neergesit het, ek het 'n idee waar dit is maar die onsekerheid wel op in my, waqt gebeur as ek verby donner, wel dan donner ek maar aan tot in Modor sal seker vir Tim iewers daar vind.

'n Bakkie kom verby, toevallig 'n buurman van Oom Bennie, dis soo plus minus11km aan, afdraai regs die berg in en ek ploeter voort tot ek die afdraai kry, snaaks ek het die plek altyd voorgestel as 'n rondawel met 'n kers en hier bevind ek my by die vriendelikste mense, by 'n huis met krag omring met die mooiste sterre en Tim se fiets op die stoep. Tim het besluit om Modor is in die nag te los, ons kan 3H00 ry en dan behoort ons dit te maak, wat 'n welkome gedagte !!!!