6/24/2013

Dag 9 Struishoek - Bucklands

'n Lang dag, eers brand die son die wit waks uit my en toe die wind.

Dood moeg 5H20 tot 22H50 aan 220km gery........

Na 'n baie goeie nagrus val ek 5H20 in die alleen pad, die mikpunt : Bucklands of dalk Hadley. Alleen ry is presies wat dit is alleen, jy hou jou besig met jou eie gedagtes, ek is baie meer gefokus op wat gedoen moet word en mens verloor so bietjie perspektief op die mooi om jou en so maal ek en my gedagtes die pad in. Ek ken nie die nuwe stop Gegun nie, onbekende mense vir my en terwyl hulle onbekend is ry ek verby na Toekomst. Snaaks hoe mens vorige jare herleef tydens jy tog, verlede jaar het ek en Tim saam gery, die jaar voor dit was dit ek en August warm op Crous se spoor en die jaar voor dit was dit weereens ek alleen in die toe baie onbekende wêreld. So met die malende gedagtes en die herlewing van vorige Challenges raak die pad korter, iemand het my landmerk Singer naaimasjien wat ek drie jaar gelede op die grensdraad maak hang het, geneem, dis dalk nou 'n landmerk in iemand se huis of dalk as skroot yster verkoop, wie sal weet ?

Ek moes nogal sê ek was baie verbaas om die Singer die vorige Challenge steeds op die draad te sien, my eie landmerk van herrineringe, nou sal ek maar iets nuuts en uniek iewers op die pad moet vind wat as 'n nuwe landmerk van herrinering kan dien. Die pad is nou so reguit soos 'n naald, geen verdwaal sessies of wonder afdraaie nie, nee ek ry reguit na Toekoms toe, Phillip het ons stop geskuif van sy huis na sy lodge en oppad na die lodge op die koppie bel my goeie vriend Eduard my, net om te hoor hoe dit gaan in die alleningheid en my in te lig oor waar ek myself op die ranglys bevind en waar die manne wat ek jaag vannaand moontlik gaan slaap. Ek is nou warm op Scott James se spoor, hulle gaan moontlik op Hadley of Cambria oornag en my mikpunt skuif na Hadley.

Phillip Henderson het voorwaar 'n prag lodge op die koppie gebou, in my alleenigheid geniet ek die asemrowende landskap, bekyk die Gwaas vallei uit die verte en wonder of ek dit in die lig gaan maak Perdepoort toe, die wind waai alweer die rook uit die aarde uit en al wat vir my oorbly is om die wind maar aan te val en te oorwin. Snaaks hoe die plat stukkie aarde langs Darlingtondam 'n man se tyd kan opvreet, dis plat, maar tydrowend, ek betree die Gwaas in helder daglig, dis nog 'n stukkie pad wat knaag aan die tyd, ek wil graag die Perdepoort in die dag sien, maar die Perdepoort wil my nie in die dag sien nie en met die kwynende lig oppad Perdepoort toe, gee ek toe maar oor, ek sal maar moet terugkom om die stukkie aarde in die lig te sien.

Dit voel altyd of die pad na Kleinpoort afdraande moet wees, maar dit is nie, daar is 'n paar stywe klimme en wildshekke wat uitgeklim moet word voor mens Kleinpoort se liggies sien, daar aangekom maak ek vir my 'n boeretroos en in die stilligheid geniet ek Tim se geselskap in sy afwesigheid van die vorige Challenge. Van Kleinpoort is dit defenitief afdraande Buckands toe, behoort my net meer as 'n uur te vat, maar wat behoort te gebeur en wat in die werklikheid gebeur is nie altyd eens nie. In my dolle jaagtog na Bucklands bekruip Klaas Vakie my, ek zero nie my kilometer lesing nie, kyk nie kaarte nie, lees nie roete aanwysings nie, niks nie en op die reguit pad wat ek veronderstel is om te ry, besluit ek in my slimmigheid om 'n afdraai te neem. Sewe kilometer verder besef ek, dat ek besig is om nou ernstig te klim en die ernstige klim lyk nou vir my baie onbekend en ek begin twyfel, die kaart wat ek by my moes hê, het ek besluit is nie nodig om te pak nie, die roete aanwysings is onduidelik soos altyd en ek is besig om baie tyd en energie te mors, bel toe maar vir Hannes wat na 'n lekker grinnik my op die regte pad na Bucklands toe plaas.

22H50 betree ek Bucklands se stoepe, ek moes al 20H00 daar gewees het, maar nou ja aap vang sy baas met sy slimmigheid, pak maar die kaarte en die roeteaanwysings al het jy die race nou al 'n paar keer gery, kaarte lieg nie en die probleem met kaarte op jou slim foon is, dat jou foon glad nie so slim is wanneer sy battery pap is nie.

My planne vir Hadley vlieg vlieg soos my pap slim foon by die deur uit, Scott en sy bende sal maar nog 'n dag moet wag........

1 comment:

  1. Marnitz ek sal nooit daai blikkie Coke vergeet wat jy so op my 2l boks vasgemaak het nie. Ek is nou nie naby nie maar ek wens vir jou iemand oor jou pad met so 'n yskoue blikkie Coke. Dit het gehelp vir die kop, vir die moee bene en vir die koue. Dink aan jou!

    ReplyDelete