So trek ek weg 21H00 met 'n krag net om 22H00 weer te begin omdat ek my waterbottel vergeet het. Die Rush se BB het opgepak, gelukkig het Werrie een spaar ingepak, die beplanning is om laat nag weg te trek, ek is moeg en het rus nodig. Swartbergpas is snot glad en ek gly gly die opdraande uit, gelukkig word dit vrek koud en die koue bring ryp, die wêreld is spierwit geryp, iemand het besluit dis tyd om die pad na die Hel te skraap en die vars nuwe pad ontaard in 'n morsige modderspil en dit tap energie en tyd.
Klaas Vakie oorrompel my 20km van die Hel en hy boek my sommer in die "Road to Hel" se Hotel waar ek amper 'n boom uitgehaal het met die modderspil. Nou wanneer jy in die Boshotel slaap hoef jy nie 'n wekker te stel nie, of die koue of jou kniee sal jou wakkermaak. 8H00 val ek in die Hel se kombuis is dis -4 en vrek koud vir 'n plek wat hulle die Hel noem. Daar is 'n groep van omtrent 12 challengers wat gister in die storm vasgevang was en toe maar in die Hel oornag het, ek ontmoet 'n paar ou gesigte asook 'n paar nuwes, Scott hulle het deurgedruk Rouxpos toe. Die manne vra my uit oor die "Battle van Ketroorskop" David en Johann was blykbaar in die slagveld betrokke met die reg van weg oor die leer, daar is blykbaar lemmietjiesdraad gespan by die ingang van die leer en dan is daar ook 'n elektriese heining wat omseil moet word.Gelukkig klink dit vir my of ons nogsteeds die reg het om deur te gaan. Die groot groep val in die pad terwyl ek my ontbyt geniet en ek hoop om hulle weer later te vang.
'n Wyle later val ek in die pad en ondek die nuwe elektriese heining vir die eerste keer, die plan is om iewers onder die heining deur te kruip, my plan is klim sommer bo-oor, solank ek nie met my kaal hande vat nie behoort ek veilig te wees. Ek pak die draad met my nat handskoene en kry die skok van my lewe, Die draad vat my met geweld en toe onthou ek water gelei mos elektrisitei, en die ligte gaan aan en ek maak die skokkende ondekking dat ek net die slot moet oopmaak, dan kan ek rustig deurstap.
Ek jaag die groep voor my, hulle bly in sig, maar smaak my die manne jaag weg vir my, gedink ek sal hulle bo-op die leer vang, maar hulle wil my blykbaar nie deel van hulle groep maak nie. Stop bo-op die leer, ek moes eers met Mel praat bo-op die leer, mis haar vreeslik baie, sommer plegtig belowe om nooit weer die malligheid aan te pak nie. Eet gou iets en sit die jaagtog voort, ek wil graag deel word van die bende voor my, die alleenheid begin nou vat aan my en geselskap sal nou lekker wees al is dit net tot by Rouxpos, en so jaag ons mekaar opdraand op en afdraand af tot by Rouxpos. Dis 15H30 en ek probeer van die manne oorreed om die jaagtog voort te sit, maar hulle go is uit en na 'n vinnge bord kerrie en rys, wat afgesluk word met 'n wafel val ek weer alleen in die pad.
David het die roete verander, ek vind dit eers 5km verder uit toe die boer my stop en omdraai na die teerpad en die helse lang pas, dis 'n uitmergelende klim, smaak my ons gaan eers tot in die hemel klim voor ons afdraai na Anysberg. Ek het nie 'n kaart van die nuwe ompad nie, gelukkig het die boer reg verduidelik en my roete word bevestig met ons ou koffie kuier plaasopstal langs die pad. 'n Man begin nogal bietjie worry as jy nie 'n kaart of roete aanwysings het en dan 'n nuwe paadjie in die donker alleen moet aanpak, niks so gerusstellend soos 'n bekende padjie nie.
Die sandpadjie na die Anysberg hek tap my, ek maak 'n koffie en beskuit stop by die hek, beskou die sterre hemel en wonder hoe laat my moeë lyf Anysberg gaan bereik, behoort op die laaste middernag daar te wees. Tim se kronkel padjies oorval my, Klaas Vakie trek my oë toe en ek sal seker maar weer van die Bos Hotel gebruik moet maak, alles net om Sondag klaar te probeer maak.
No comments:
Post a Comment