9/20/2011

Wildcoast Wildrun 2011


Ek het nie gedink daai maer beentjies van my gaan dit maak nie, maar soos hulle sê
" The Body goes where the Mind goes"

Dit was 'n wonderlike ervaring, elke dag se laaste 10 km was maar hard en moeisaam en ek het met tye gedink aan die malligheid van volgende jaar, ek en my boet op die Bloutrein. Soos ervarings maar werk onthou jy mos gewoonlik net die baie mooi en die hard en op die race was daar altyd mooi, ek moes maar net my kop optel en my oë oopmaak, is dit nie maar ook hoe die lewe werk nie ?

Duiweltjies en groen mannetjies, die goeters wat my laat voortbeur - uitdagings. 'n Mens se hele lewe is gepak van uitdagings en om elke hoek en draai word jy beproef, of deur 'n duiweltjie wat vir jou vertel jy kan dit nie doen nie, of deur 'n groen mannetjie wat jou jaag, of wat jy jaag. Deur die kompeterende aard ondek jy gewoonlik waartoe jy werklik instaat is, soms tot selfs meer as wat jy verwag het en dis die soeke na selfverwesenliking wat my gewoonlik tot hoër hoogtes aanspoor.

Die Wildrun was vir my 'n moerse ervaring, iets wat ek graag met die Ingelsman en die kinders sal wil deel, eendag sal ons as gesin dit saam kan geniet en dit sal die beste ervaring ooit wees al kom ek heel laaste.

9/17/2011

Wildrun The Haven - Hole in the Wall

Om die waarheid te sê het ek gedink ek gaan meer spier seer hê, die spiere is ok, maar my super gripper no slip eelt op my groot toon is verbysterend seer en die ongelykte beespaaitjie wat nie vir twee nommer 12 skoene gemaak is nie help nie juis veel nie.

Die kop medisyne doen sy ding en ek hol deur die pyn, die laaste dag is baie meer op en af as die vorige twee dae, laat my baie aan Lehana's pas dink, gelukkig is ek 'n ou vir die op, maar my lyf wil nie so lekker vinnig af soos op 'n MTB nie. Dis regtig mooi, elke keer as die pyn ondraaglik raak tel ek net my kop op en sien die mooi raak en dan vergeet ek weer.

Die tweede laaste bult is egter 'n killer met min mooi om raak te sien, my linker heup skiet van die pyn as gevolg van die skuins hellings waarteen ons hardloop, ek is weer terug in die beskawing as jy dit 'n beskawing kan noem, herrinner my baie aan die laaste 10 km teer op die Freedom. Jou hele lyf smag na die mooi herrinneringe en natuurskoon agter jou en jy wil nie laat los nie, maar die einde is aan die anderkant.

Netso toe daar nou niks meer oor is om te sien nie verskyn daar 'n string groen mannetjies in die verte en die duiweltjie spring op my skouer, hulle sal my nie wen nie, maak nie saak wat nie en ek beur voort en daar verskyn dit, die Hole in the Wall en ek vergeet van alles en maak gatskoon vir die einde.

Ek maak 44ste kaar in 5H32 en algeheel 46ste, baie trots op myself, my eerste stage offroad run en ek voel goed, ek kan nog loop en spring en dinge doen, ek moet net nie op my super gripper land nie..........


9/16/2011

Wildrun Kob Inn - The Haven 36 km

Asemrowend mooi ! Ons begin met 'n lastige polle klim, nie my bene, kniee of enkels is lus vir die klimmetjie nie.

Gelukkig ontwaak die lyf en voetjie vir voetjie vorder ons, die mooi maak op vir alles ! Die klein duiweljie klim op my skouer en Crous se hardegatgeit skop in. My lovehandles is deurgeskaaf, so ook my tjommie en my alie, die inner van my broek dien as 'n sandvanger met die rivierkruisings en skaaf alles moertoe.

'n Groen mannetjie steek my verby en die tor val af en ek besluit seer of nie hy gaan my nie wen nie, met my shuffle jaag ek hom, ek lyk soos 'n seekat wat skulpe optel, maar jaag, jaag ek. Ek moes seker verskriklik gelyk het, want die groen mannetjie begin hol, ongelukkig vir hom het hy nie geweet ek kan swem nie en by die laaste rivierkruising steek ek hom verby.

Met die moerse blase wat soos ekstra tone lyk slaan ek die 6x6 super grippers in die sand en die groen manntjie jaag my en toe maak ons maar saam klaar 5H01.

Ek is lekker seer, sal maar sien wie more my tor laat val.....
Sent from my BlackBerry® wireless device

9/15/2011

Wildrun Dag 1 Kei mond - Kob inn

Die verste wat ek nog gehol het, dis asemrowend mooi, dankie aan my pelle wat my in die maligheid ingepraat het. Redelik goeie voorbereiding vir die Freedom.

Baie goeie kop medisyne, net wat ek nodig het om die kop weer in plek te kry. Ek is baie happy met myself 49 ste overall, tyd 6H19, bietjie gesukkel oor die laaste 6 km, te veel staat gemaak op die liquid energy wat die pensvet uitmaak. Die bene voel ok, enkel pla so bietjie en die Freedom kniee het laat weet hulle is terug.

Oom Spikes het so houe toegedien, ek is blykbaar so rooi soos cherry konfyt, maar verder voel ek goed !

Gaan more vat soos hy kom !
Sent from my BlackBerry® wireless device

9/14/2011

Wildrun

Hier sit ek by Kei Mond, hopelik gereed vir die Wildrun en ek het nie bottervliee of pennetjie hare nie. Dalk kry ek dit more met die wegspring, dalk kry ek dit glad nie omdat ek geen verwagtinge het nie, of dalk omdat ek nie weet wat voorle nie.

More sal die verste wees wat ek nog gaan hardloop 45 km langs die wildekus. Ek gaan om dit te geniet en om 'n lewenslange ervaring op te bou.

Kom ons kyk maar wat gebeur.
Sent from my BlackBerry® wireless device

9/10/2011

Wildcoast Wildrun 2011

So besluit Comander Crous om vir 'n operasie te gaan die 15de September net om alles te herstel wat 1 Val en Kerm Batiljon ,Rugby speel tot jy 35 is en die Freedom Challenge opgedonner het. Wanneer Crous terugkom gaan hy ons 'n ding of twee wys, sterkte ou maat ek glo dit sal 'n baie suksesvolle operasie wees en dat jy net nog sterker gaan terugkom.

Met die operasie in plek besluit Carl toe mos, nou dat hy nie kan deelneem nie, om sy inskruiwing vir my aan te paas, wat ek natuurlik met opehande aangegryp het, ek kan doen met so bietjie Freedom en goeie geselskap vir 'n paar dae, netso om die kop en die lyf weer gewoont te maak........

Ek sien baie uit na die run, dis my eerste stage run en ek gaan met geen voorbedagte rade nie, ek wil net klaarmaak en die asemrowende natuur geniet saam met my pêlle, nie dat ek enigsins dink ek gaan by hulle kan hou nie. Kyk ek het altyd gesê die Comrades en Argus is vir oorgewig mans en huis vrouens, nie dat ek 'n probleem het met oorgewig nie, terwyl ek nou self bietjie meer gebou is vir downhills, maar dit het net altyd vir my maklik gelyk.

Nou tussen maklik lyk en doen is daar 'n moerse verskil, ek sien enige tyd kans vir 'n 100 km + ry, maar die hol ding is nie so maklik nie en terwyl ek nou nie 'n MTB het nie en wag vir die Blou Trein, het ek toe maar begin hol en offroad hol met 'n 5kg sakkie is nie so maklik soos offroad op 'n MTB met 'n 10kg sakkie nie.

Die Freedom Kniee het maar gepla, pla nogsteeds, maar elke keer as ek lekker seer en gatvol was en wou ophou het ek aan Crous gedink en besef al was Crouse nou seer en gatvol so hy nie nou ophou nie en dan maar deurgedruk.

Ek hoop maar ek het genoeg van Crous se hardegatgeit gekry om die 112 km klaar te maak, tyd sal sê....