Staan doodmoeg 7H00 op, Montagu is nog ver, dis 'n alleen pad met nog baie sandpaaie en droë lope wat gery moet word, ek mis vir Tim en sy sê goed. Die wind wikkel ook al weer so reg in die gesig. Besluit om hard te ry en te kyk of ek dalk kan inhaal op Tim wat my vroeg gelos het.
Stop die eerste keer by Anysberg ingang, maak 'n 2 minute noodle en laat waai, so 16H00 by Anysberg. Die GT is al weer stukkend, bout verloor op die flexplate en 'n tjier - tjier by die agterste derailer. Fix gou alles en val in die pad, besluit om 'n breuk te maak na die rivier oorgang, kan sommer dan warm aantrek. Maak vir my die lekkerste koffie ooit, verlang seker maar net huistoe.
20H30 oorval Klaas Vakie my toe ek Tim se kronkelspore begin naboots, ek is so moeg ek kan nie die fiets in 'n reguit lyn hou nie en Oubergpas is nie 'n plek om 'n fout te maak nie. Slaan hinderlaag, binne my slaapsak met al my klere en handskoene aan die keer agter 'n muur by die hek. n Boer kom verwonder hom oor die mal man agter die muur, seker een van die mal manne wat van PMB na die Kaap toe ry prewel hy.
'n 2H00 slaap verander in 'n 3H00 slaap, die pyn in my kniee en die koue jaag my eindelik 23H00 uit die slaapsak uit. Die Duiwel se wind waai nogsteeds, en stil- stil durf ek die donkernag en Oubergpas aan. Slaap is 'n wonderlike ding net 'n paar minute, of 'n uur of twee gee jou weer nuwe krag en moed vir die pad wat voorlê. Ouberg se rivierkruisings hou my wakker en ek maak Montagu teen 1H30. Eet, stort en slaap, net na 5H00 bel Tim my wakker, hy is nie seker oor die pad nie en vra raad, ek dink dis meer moegheid as onsekerheid en teen 7H00 na 'n lekker ontbyt val ek weer in die pad.
No comments:
Post a Comment