6/20/2011

Dag 3 Banchory - Malekholonyane

Ek en August staan lekker uitegrus 4H00 op, dis weer vrek koud, August is die keer gewapen met ordentlik handskoene, vorige ervaring het hom geleer dat blou mediese rubber handskoene nie voldoende beskerming bied nie. Ons vorder goed, August se knie pla baie, maar die geselskap maak op vir die seer, ek en August vang 'n blaaskans op ons ou plek net na die Klein Umzimvubu rivier, hy weet nie of hy verder as Masakala gaan maak nie, maar ek glo ons gaan.

Die dag omvou tussen jaag en stotter, ek jaag om Malekholonyane te maak, en August met sy seer knie klu soos 'n bosluis om by te bly, stop vinnig my Masakala om vorraade aan te vul, nie tyd vir eet nie, ons moet malekholonyane vandag nog maak. August kry sy mediese voorraad en ons val in die pad, daren baie meer plat en nie te ver om te ry nie. Stop vir 'n vinnige Coke by Queens Mercy voor ons die tog hervat, wil so na as moontlik aan Malekholonyane  kom voor die donker ons vang.

In ligdag van die Mpharane kruin af net om vas te val in 'n gevreesde modderspul net voor die Gladstone opstal, August verloor sy skoen in kniediep modder, delf hom na 'n paar minute se gesukkel uit die modderskul uit en met laaste lig betree ons malekholonyane se stoepe. August se knie is gaar en ons tog van twee dae is klaar, hy gaan dit more stadiger vat en ek is weer op my eie. Hoor Andrew barnes en Martin Dreyer is op my spoor, sal heel moontlik laat nag die kamer saam met ons kom deel, hulle is iewers tussen Queens Mercy  en Mpharane. Ek sal my fokus moet opskerp en my gat roer as ek in my 12- 13 dae doel wil slaag, selfverseker met 'n nuwe plan raak ek aan die slaap. 1H00 word ek wakker, dis Andrew en Martin, hulle het vieslik verdwaal op die Mpharane kruin, vir 2 ure in die donker rond geploeter, eindelik die pad gevind en toe in dieselfde modderspul gaan vassit, Andrew is duidelik nie baie gelukkig met die stand van sake nie. My beplanning was om 3H00 weg te val in die pad, maar met Andrew en Martin op my hakke besluit ek dis 'n goeie tyd om sommer nou weg te spring, 'n ekstra uur slaap gaan nie 'n verkil maak nie, ek roep August vaarwel en val in die stuk donker nag so op my eie in die pad, nie eers 'n skaduwee om my te begelei nie.

Voel baie beter, August se knie nog nie heeltemal reg nie, ek verlaat my goeie vriend van 17 dae.

Nevermind  Generaal Crous my vrou het gepraat, iets van Alex is besig om vir my weg te jaag en dan is daar nog 'n spul wat my jaag ook. Voel heelwat beter, net die hoesie wat nog pla. Vandag was n baie voorbeeldige dag, Crous sou baie trots op ons gewees het, so reguit soos n naald na die plekke gery !!!

Dag 2 Centocow - Banchory


Baie vroeg oggend in die ysige koue val ek in die alleen in die pad, die Kruger broers dink ek is mal, maar ek weet alleen beweeg ek baie vinniger as saam met iemand, Marie het my laat weet August wag by Ntsikeni, sy kniee is nie lekker nie, maar my aansporing sal hom dalk motiveer om die dolle jaagtog voor te sit. Ek geniet middagete en August kom te voorskyn, hy het Ntsikeni amper in een haal gehaal maar betaal nou die prys met 'n baie seer knie. August is half moedeloos, maar ons jarelange vriedskap van 15 dae spoor hom aan, my plan was om Masakala te haal, maar Banchory saam met 'n lewenslange vriend sal doen, more voel hy beter en dan kan ons weer jaag.

Die pas is stadiger, maar die geselskap is uitstekend, ek verloor bietjie fokus, maar tyd saam met my bloedbroer is baie beter, in die stilligheid hoor ek op 'n spoedige herstel vir August, ek weet hy kan, maar ek sien ook die knie pla maar baie. Met laaste lig besluit my agterste ratkabel besluit om die gees te gee so 15 km van Banchory, 'n klippie om die derailer te spraq sodat ek die regte rat kan kry sal moet doen tot ek herstelling kan maak in die lig by Banchory. Die teespeod ry my, eers die duikboot sessie in die Umkomaas en nou sommer die gebreekte kabel op my tweede dag, Banchory sal maar moet doen.

Gelukkig het ek 'n spaar kabel en in die koue van die aandlug herstel ek gou die probleem, dalk beter vir August om 'n blaaskans te vat, klink my Alex beplan om in Masakala te slaap, darem nog nie te ver voor my nie. August het gereel vir medikasie in Masakala, nou vir lekker warm slaap en more kan ons uitgerus weer vir Alex jaag.



6/16/2011

Dag 1 Marnitz leer swem PMB - Centocow

Die 3de jaar wat die die Freedom Chellenge aanpak, die vorige twee jare het my baie geleer en groot gemaak vir die jaar, ek is amper oorgereed, ek weet ek kan dit in 12 dae doen. Die fiksheid soos nog nooit tevore bruis deur my are, ek is selfverseker en gewapen met 'n slaapsak, gereed vir die aanslag, die jaar is my jaar......

So trek ons weg, ek en Alex Harris, en dit met n moerse spoed, die longe is maar nog lekke toe van die verkoue van die vorige week, jy sien net snotbolle trek soos ek die landskap dekoreer. Besluit toe maar om terug te val, August het iets gepraat van ek's nog jonk en ek het nog groen koring op die land wat moet groot.

Soos ek gedink het maak Alex die pap dik aan en gou-gou vang ek die manne wat saam met hom weggejaag het. Ek los hulle by die sement afdraande oppad na die Umkomaas, soos gewoonlik probeer ek die rivier op ons gewone plek oorsteek, die rivier is in vloed, volgens David is daar blykbaar al 'n paar manne wat die rivier suksesvol vroeer die week oorgesteek het, daar is 'n alternatiewe langer roete wat David eerder voorstel. Ek is vol selfvertroue, my beker loop oor en 'n rivier in vloed gaan my nie stop nie, alles gaan goed kniediepte word heup diepte en die volgende oomblik verander ek in n duikboot met 'n fiets op my rug.

Die spulletjie dryf nogal lekker en ek spoel toe maar weer aan die verkeerde kant uit, ek nat en my sak en my goed papnat. Ek weier volstrek om oor te gee en probeer weer met die selfde resultaat, steeds weier ek en probeer 'n derde keer en toe die rivier my onder die water in die takke van 'n doringboom vaskeer en ek vir lewe begin veg gee ek oor. Papsopnat stert tussen die bene klim ek die wal uit, die nat sak maak nogal n aardige verskil in rygerief, blykbaar heelwat stadiger, die ander manne het my weer verby gesteek, ek vang hulle by die Hela Hela brug en met my ekstra nat gewig bekruip ek die Hela hela pas. Hulle dink ek is mal om die rivier in vloed te trotseer, is seker maar bietjie mal, maar 'n mens moet seker maar bietjie mal wees om aan die Freedom Challenge deel te neem.

Gelukkig kon ek vir Glenn en Tim waarsku om nie my truuks te probeer nie. Vroeg lugdag by Allandale, en tewyl ek wag vir my slaapsak en klere om droog gemaak te word geniet ek Dana se lekker rooster broodjies. Die Kruger broers besluit om saam met my die tog aan te pak na Centocow, die verdwaal deel het ek gegoogle, gekaart en gedroom, August het die deel vir my verken en ek is seker ons gaan nie weer verdwaal nie. Maak Centocow teen middernag op die regte pad vir die eerste keer met net n klein detour, Alex se fiets wag ons in, hy was al 18H00 daar, ek weet nie wat sy planne is nie, kom ons kyk maar wat more oplewer.

6/12/2011

2011 Freedom Challenge met bottervlieë

 
Pieter Cordier van DP&L my borg vir vanjaar se FC

Verlede Donderdag klaar gemaak met die gevreesde antibiotika, man kyk dis net goed vir een ding en dis om jou gesond te maak, glad nie vir fiksheid nie. Saterdag weer vir die eerste keer gaan ry in twee weke, dit het gevoel of dit die eerste keer is wat ek fietsry, my hart jaag sommer as ek net 'n bult sien en dis maar baie plat hier by ons. Sondag beter gevoel maar nog nie reg nie, alles pla, my sak, my helmet, my skoene en ek sweet soos 'n vark, ek moes ernstig waak teen negatief raak.

Gelukkig het ek 'n voorryer alias Jongman August, hy het bietjie oorleg gaan pleeg met ons foutjie van verlede jaar voor Centocow, kan nie glo hoekom ons die fout begaan het nie, dis bykans alles afdraande na Centocow van ons foutjie. Hy gaan die pad vir my mooi merk met Milobars, hoop nie die anner manne eet dit nie. Jongman klink vir my baie fiks en gereed vir die race, hopelik raak ek gou weer gewoond aan die pas en kan ek hom dalk vang en weer so jaagsessie insit.

Today's Achievements are Tomorrow's Targets

En daar gaan Mike en sit 'n teiken op sy rug, ek praat net gister met Allan en sê ek sal maar kyk hoe ek voel, mik maar vir Centocow tewyl ek nog nie so lekker, lekker is nie en daar beplan Mike sommer my race vir my. Ek dink hy en die Commander is aan die konkel, ek kan al hoor wat die commander vir my gaan sê :
" As Mike dit kan doen moet jy net beter !!!!! "

Een ding is seker, my kop is reg, of is dit verkeerd ? Ek hoop net alles skop in en uit wat geskop moet word, en ek vertrou nou ernstig op daai muscle memory ding.

Hier kom 'n ding...........

Miles for Smiles DONASIES

http://www.milesforsmiles.co.za/component/content/article/101-freedom-challenge-.html

Ek sal die pyn op my dra, sit julle die Smiles op die Kinder gesiggies !!!!!!!

5/26/2011

Sani2C saam met my boet



So gebeur dit dat ek en my boet, eintlik 'n bergklimmer, aantree vir sy eerste stage race, die Sani2C. Nou kyk toe ek besluit het om saam met my boet te ry, het ek gedink dit gaan rustiger as tevore wees, die dat hy wat Werner heet net 'n jaar of wat gelede begin fietsry het vir so bietjie cross training vir die berge.

Werner bly in Richardsbaai waar dit net so plat is soos in Klerksdorp, hulle king of the mountain is blykbaar 'n suikerriet hoop. In Desember maak hy 'n draai en ons ry toe so ent saam net om die fiksheid te toets, en ek merk dis baie plat in Richardsbaai, sommer baie, baie plat. Ek verduidelik toe aan my boet dat hy so bietjie meer sal moet oefen, anders gaan ons die heel dag in die saal spandeer.

April maak hy weer 'n draai, ons ry so 70km draai met 'n klimmetjie hier en daar, en ek ry sommer met my Freedom kit en my tong hang uit om by te bly, neem toe maar aan dis die ekstra gewiggies wat ek saamry, maar kleinboet lyk heel oraait.

Dag 1 Sani2C

Ons spring weg met 'n lekker pas, nogal heel lekker sonder die Freedom kit, elke nou en dan vra ek vir boet hoe gaan dit en hy antwoord : OK
Op 'n kol vra ek hom wat sy heart rate is en hy antwoord toe "so 181" en dis toe wat wat ek die pas so bietjie stadiger maak. Ou Werries sê hy het die eerste dag bietjie getjop, so 4 valves gebrand en baie gesukkel met die hoogte bo die see, ek moes my boet maar die laaste drie bulte uitstoot. Gelukkig was ek glad nie haastig nie, die aand vra ek vir boet wat gebruik hy so op die race en hy antwoord toe :" Water en hy eet so ietsie by die waterpunte " Ek verduidelik toe die man van supplements en wat hy moet eet en drink en staan toe maar van my goedjies af vir die man, ek kan mos nie my kleinboet so laat suffer nie.

Dag 2 Sani2C

Met 'n krag kom ek kom toe agter, hoe goed my goedjies werk, daar is nie keer aan die man nie en ek moet jaag om by te bly, my boet is besig om my binne in my moer in te ry, en om die kersie op die koek te sit is my hanger gebuig en ek sit met net drie ratte, een grootte en twee kleintjies. Werries het Gummyberry juice by Asrix gekry en Obelix moet byhou selfs teen die lang afdraandes. Ek lyk soos 'n oos Iendies ingevoerde resies hoender soos ek spin om by te bly, en my boet ry, ek vermoed Commander Crous het iets in sy oor gefluister, daar is nie keer aan die man nie. Elke nou en dan vra hy my of ek OK is, gelukkig het ek die endurance en aan die einde van die dag het ons 72 plekke opgeskyf en my bene is lam.

Dag 3 Sani2C

Na R400.00 is my fiets gefix en vandag gaan boet moet byhou, ek is reg vir hom, maar toe ek my ogies uitvee toe gaat hy alweer, ek wou nog waarsku oor die nukkerige links draai toe is hy lankal al deur, die stof het nog nie eers gaan lê van die 2 girls voor hom wat nie die draai gemaak het nie. Ek besluit toe maar dat ek hom by die Heartrate bulte bietjie staal sal wys en dalk so videoclip of wat van die man kan neem, maar nee, daar is hy ook voor my uit. By die waterpunt besluit ek dat ek darem net vir my boet sal moet wys ek kan ook ry en dis mos meer afdraende van daar na die einde, ek skraap my laaste kraggies bymekaar en daar trek ons weg en ek ry dat die rook op my draai.

Boet is vir 'n slag bietjie agter en ek voel baie beter, deur 'n lang afdraande kom die man weer verby my teen die opdraande en ek hoor die magic woordtjies " Nou's ek klaar " Ek beduie toe maar vir boet om bietjie agter my in te val en hy maak so. Teen so klein klimmetjie beduie hy iets van hy het nie ratte nie, ek dog eers sy bene is lam maar toe sien ek sy ratkabel het gesnewel en die bunch van 30 snel verby.

Vinnig besef ek dat ek baie vinnig moet planne maak vir daai laaste bult, en terwyl Werries weer die K@#$ uit die aarde ry met sy nuwe singlespeed soek ek 'n gegewe klippie om in die derailer te druk sodat hy darem 'n bietjie makliker rat teen die bult het. Op die teer posisioneer ek die klippie in die derailer en boet het darem 'n bietjie makliker rat en daar wil hy al weer gaan, ek verduidelik toe aan hom van die groot bult aan die einde en hy skaal so bietjie af. Ouboet kon darem weer vir so stukkie vir Kleinboet die opdraande uitstoot en so maak ons klaar.

Werries sê hy's baie bly dat hy nie die vorige dag soos ek net met 'n paar ratte moes ry nie, dis blykbaar nie baie lekker nie, maar dis darem baie lekker om vir Ouboet weg te ry.....

Ter opsomming

My boet was baie fikser as wat ek gedink het, ek is seker Carl het iets in sy oor gefluister, want hy haal dieselfde nukke as die man uit, ek het nou heelwat meer beenspoed as wat ek gedink het. My boet is 'n baie kompeterende donner, dit loop maar seker in die familie. Jy benodig Astrix se Gummyberry Juice as jy vir Obelix wil wegry.

Volgende jaar maak ons weer so !!!!!!!

5/10/2011

Pofmuis se maatjie Oom Pofadder




So ry ek toe mos Sondag om die agterstewe bietjie gewoond te maak aan die saal en vind toe vir Oom klein Pofaddertjie in die son lê en bak, ek dog eers een Oom Boer se bakkie het hom moertoe gery, want sy agterkant was maar baie plat. Ek toets hom toe so met die voorwiel en niks gebeur nie, toets toe maar weer en steeds niks nie, net toe ek hom wou optel ontwaak Oom Pofaddertjie.

Blykbaar baie die bliksim in omdat ek hom uit sy slaap gehaal het, dis toe wat ek hom toe maar afneem om vir die manne en vroue van die Freedom Challenge te wys hoe lyk 'n regte Pofadder, hulle praat mos altyd van die "snakes" racing snakes en Cobra's en Podadders en nog 'n paar DIK snakes.

Boys en Girls, hier is nou 'n regte, Freedom Pofadder, verradelik vinnig, tantjies nog so bietjie min vir my voorwiel, maar oorgenoeg om jou in jou spore te stop, wees maar op die uitkyk vir die outjies.

Ek hoor daar is 'n hele paar snakes op die Freedom

4/26/2011

Ons Pragtige land Suid Afrika !!!!

So gaan kamp ons die lang naweek, ja dieselfde lang naweek met die vooruitsigte van baie reën, sommer netso 30 km buite die dorp. Ek is opsoek na rus en vrede, 'n plek waar ek net na die bos TV kan staar en na plekke verlang wat ek nie ken nie, ek wil nie 'n radio hoor nie en ek gaan verseker mal word as ek enige telefoon hoor lui.

Ons kamp by Buisfontein, so 30 km van my huis, tussen die Makwassie rante soos Oom Wessel Jooste ons vertel, dis asemrowend rustig en mooi. 'n Selfoon werk nie op die plek nie, dis net die natuur se eie geluide, die gekabbel van die buisfonteinspruit, gewoonlik 'n droë loop, nou 'n spruit in vloed, die gelag van die apies in die bome, wat wag om beit te maak van al die lekkernye is sig, so nou en dan 'n blaf van 'n bobbejaan in die rante net om te sê hulle is ook daar en dan die kersie op die koek, die brul van 'n leeu tot in jou binneste terwyl jy die bos TV binnestaar.

Man ek geniet die plek, net jy en jou gesin, 'n paar pêlle en die natuur, wat wil jy nou meer hê ? 'n Jong Njala bul kom peusel so 10m weg tewyl ons so om die vuur sit en gesels, nie eers in die minste gepla met wat ons aanvang nie, my jongste wil net weet of ons maar die bokkie kan huis toe vat. En so begin dit reën soos hulle voorspel het, en dit reën meer as wat hulle voorspel het, die manne voorspel mos, dis mos eintlik 'n skatting, dit kan minder of meer wees, hoe moet hulle nou eintlik weet wat gaan gebeur ?

Ek gooi nog nat hout op die vuur, dit reën nou al vir dae, net om seker te maak dat die vuur nie dood reën nie en loop lê in my tent. Vannaand het ek nie Klaas Vakie se sandjies nodig nie, ek het die geritsel van die reën op my tent en gou vergeet ek van die harde week agter die rug, die strawwe oefen sessies, die telefone wat nooit ophou lui nie, die gejaagde wêreld waarin ek leef, wat sal ek veruil om vir altyd in die bosveld paradys te kan wees ?

En dit reën, en nog 'n bietjie meer, en dis nat moddernat, maar dis lekker sommer moerse lekker. Saterdag oggend is ek vroeg op, pak nog so paar nat stommpe op die oorblywende rooi kole en ek sit en wonder, wonder oor hoe bevoorreg ons is om hier te wees, wonder oor hoe ons gaan fietsry in die modder, wonder oor alles wat ek gisteraand gesê en gedoen het, die vog van die wingerstok het weer gevloei en ek het nie baie nodig om verkleur mannetjie te speel nie en daar begin dit weer liggies reën, en ek dit aan Anton Goosen se song " Die perske reën van veertien dae in die Wes Transvaal, en dit reën bietjie , bietjie in die Wes Transvaal ....."

Vandag gaan ek nie ry nie, ek is nie lus nie en ek gaan nie, ek gaan net hier om die vuur sit en die niks geniet en so pak ek die ou keteltjie op die vuur vir 'n bietjie ou boeretroos. Eduard is dorp toe om 'n paar lorries se ruite te plak, Herman moet 'n tand gaan regmaak, wat nou al 40 dae neuk en vandag herstel moet word en Arlene moet die tent se dak loop soek van die nuwe karavaan, kyk'n tent kant twintig kante hê, maar sonder 'n dak is hy niks werd nie. En so sit ek en Wally om die bosveld TV en ek geniet 'n koppie of ses boeretroos, en die skonegeslag lê in, op 'n staduim wonder ek of hulle nie dalk vasgelê is nie. Wally stel voor ek diens my kreunende fiets, tewyl ons nou nie in die modder gaan speel nie, so gesê so gemaak en na 'n uur of wat het ek weer 'n spik splinternuwe fiets met 'n paar letsels van vorige skermutselings. Terwyl ek in die diens ding is diens ek sommer Danielle se oorgrote fiets, want die reën en die modder pla haar nie, sy wil ry, ry in elke modderplas en elke stroom wat sy kan kry, en so jaag sy en haar sussie Alison die hele plaas op hol en Danielle kry dit reg om niks raak te ry nie......

Uiteindelik trek ons Maandag oggend weg om 'n draai te gaan ry, deels omdat ons skuldig voel dat die kinders nou al meer as ons gery het en deels omdat dit in ons bloed is. Die twee dae van niks doen het my baie goed gedoen, die lug is skoon gereën, misbanke staan op en die pad wink en ek is weer lus om die Freedom te ry, ek smag daarna.....dis so asof ons 'n deeltjie van die Freedom ervaar, en ek weet weer hoekom ek so hunker na die Freedom en ek kan nie wag nie.