5/30/2015

'n Freedom Challenger gebed.

Dankie Here vir u wonderlike liefde en genade, dankie dat u ons toerus met talente en gesondheid en baie dankie vir die voorreg om aan die Freedom Challenge deel te kan neem.

Dankie Here dat u die wonderlike ervaring vir ons geskape het, dankie vir die wonderlike mense wat u op ons roete plaas, dankie vir die beeldskone aarde waaroor ons gaan beweeg en dankie vir die voorreg om die gansheid van u skepping te ervaar.

Here dankie vir die sportman wat u ons geskape het, dankie vir deursettings vermoë, dankie vir sterk spiere, durf en moed en help u ons om helder te skyn op die race.

Here help u ons om as ambasadeurs van u op te tree, help u ons om ander deelnemers te respekteer en lief te hê soos ons self, Here help u ons om gehoorsaam aan u te wees, en ook gehoor aan die reëls van die Freedom Challenge te gee. Here lei u elkeen van ons in ons ervaring en die soeke na ons self, help u ons om ons doel te bereik.

Here dankie dat u, U hand van bewaring oor ons gehou het in die maandelange voorbereiding vir die Freedom Challenge, Here dankie ook dat u ons geliefdes by die huis beskerm het in die tye wat ons ge-oefen het en nie by die huis kon wees nie. Here dankie vir die wonderlike liefde en ondersteuning van ons geliefdes, help u ons ook om die liefde en omgee opreg te waardeer en in veelvoud terug te gee na afloop van die ervaring.

Here bewaar u ook ons geliefdes gedurende die Freedom Challenge, hou u, U hand van beskerming oor hulle en oor elke deelnemer.

Here dankie weereens vir die groot voorreg om deel te kan neem, hou u ons oë op u grootheid en goedheid gerig, lei u ons met elke trap en tree op die roete en dankie dat ons kan weet dat u ons sal optel en dra wanneer ons val.

Here en laat u Naam geheilig word, laat U wil geskied, vergeef ons ons sonde en weerhou U ons van die Bose en die afdraai padjies.

Amen


5/22/2015

The reason behind the madness.....

After a lot of years and wanderings on the trails of the Freedom Challenge, I finally got to the reason behind my madness to compete in the Freedom Challenge !!!!

I've got a burning desire to satisfy the following needs :


  • To experience the people and the land
  • To explore my limits and to push my boundaries
  • To learn to appreciate life itself
  • To complete the route in the shortest possible time
  • To navigate only by means of a compass, maps and narratives
  • In a personal challenge against myself, facing and conquering my fears

By mountain biking non stop under my own power across remote parts of South Africa on unmarked off road terrain, through dirt roads, farm roads and tracks, footpaths and animal tracks, navigating only by means of maps and narratives, without the use of GPS devices. Doing it in an orderly and unsupported manner, experiencing the true splendor of the country and the warm hospitality of its people, while adhering to the rules of the Freedom Challenge under my own power without the aid of others, finishing in the shortest possible time.

The Soul of Mountain Biking !!!!



5/16/2015

Die Hyena's en Operasie Cycle Ops

Oor 'n maand trek die Hyena weg op die Freedom Challenge, die bene voel goed, die kop is reg, ek is versigtig maar nie bang nie. My pa het nie bang kinders groot gemaak nie, versigtig ja, maar glad nie bang nie.

Ons is die heel laaste batch wat wegspring, die sweepers of in Afrikaans die Hyena's, bly voor ons en jou kos is veilig, vang ons jou kan ons dalk die lekkernye in jou boks opvreet......




Dis die jaar van die Hyena's, ek glo die wenner gaan een van of dalk al die Hyena's wees, daar mag 'n donker perd iewers in die donker skuil wat dalk 'n opskudding in die trop kan veroorsaak, net tyd sal leer........

Al wat ek weet is dat ek my gat af oefen, 'n heel ander oefen program die jaar gevolg. Aan die begin van die seisoen wat vir my eers laat in Januarie begin het, het ek gefokus op lank en vrek ver, tyd in die saal, brei die boude en maak die spiere wakker ritte. Die vrek ver brei die boude oefeninge is gestaak na die 361 in Outshoorn, na die 361 was die boude leer en ek glo die spiere wakker en ek was so half gatvol vir lank en ver, dink die toestand van ons verkrummelnde paaie het ook iets daarmee te doen gehad.

My spanmaats het iets gedoen wat hulle HIIT noem, blykbaar klim jy op 'n fiets en bliksem jouself goed op vir so 3 of 4 sessies van 12 minute met 'n klein bietjie rus tussen in. Vir my het dit soos 'n goeie army opfok geklink, ek was in die army vir 'n lang tyd, gedurende die eerste jare was ek aan die ontvang kant en latere jare aan die uitdeel kan, en klink vir my ek was 'n baie vernuftige en bekwame uitdeler.

Ek het voor 'n keuse gestaan : Lank en ver op ons lank vergete opgeneukte paaie of ek reël  my eie army opfok vir myself, eintlik maar 'n maklike keuse gewees te kyke na ons paaie.......

Ek beskik oor 'n kapstok wat op 'n baie gelyk vloer staan, hulle noem dit 'n Cycle Ops of so iets, die ding staan stil op een plek, jy sweet verriklik op een plek en sonder om 'n tree te beweeg fok jy jouself lekker op. Ek besluit toe maar op Operasie Cycle Ops, die ander manne noem dit HITT's, stof die ding af en begin die watts maak. Ek trap die rook uit die aarde uit, kyk jy kan nie ophou trap nie, want as jy ophou bliksem die ding jou oor die handle bars vir jou straf, iemand praat iets van ek moet vir 'n uur lank trap en dan die gemiddelde Watts kry wat ek vir die load shedding opgewek het.

En ek trap die kapstok, en ek sweet 'n plas bloed wat my plankvloer wil oplig en na 'n uur kry ek 'n gemiddeld van 130 Watts, en ek vra die slim manne en hulle sê ek moet kyk of ek dit nie kan opstoot na 140 of einlik 160 Watts gemiddeld in 'n uur nie. Heel trots op myself besluit ek om meer kundigheid in te win oor my nuwe opfok Opersaie Cycle Ops oefen program en dis toe ek uitvind dat ek of heeltemal kak is of daar is groot fout met my kapstok.

Die hoog leraars beweer ek behoort baie maklik 500 Watts te kan trap met my piekante lyfie as ek net opstaan en trap, ek begin fout soek en vind uit die kapstok beskik oor batterye, wat seker nie meer goed werk na sewe jaar se kapstok werk nie en dan moet die kapstok nog gekalibreer word ook en dadelik weet ek hoekom die ding 'n kapstok geword het !

Ek kry toe nuwe batterye en leer hoe om die kapstok te kalibreer en walla Operasie Cycle Ops neem volle swang en op 'n gereelde basis fok ek myself op, Melanie en die kinders sê ek maak baie snaakse geluide tydens die sessies en ek verseker hulle ek was die meester van 'n army opfok, dit moet so klink.

Werk dit ? Ek weet nog nie, net die tyd sal leer en as dit nie werk nie, is ek besig om vir my 'n ordentlike opfok te reël tot in Rhodes waarna ek weer my normale self sal wees........

5/12/2015

2015 Freedom Challenge.....

Dis weer ek en Tim, ons het laas in 2011 saam gery en dit was 'n baie spesiale ervaring vir my.

Ons ry weer die Freedom Challenge, hoekom sal net ek alleen weet en ek weet nie, nog nie genoeg ervarings opgebpu vir my ou dag nie.

My Pa het my nou die dag gesê ek moet die dinge doen wat ek graag wil doen terwyl ek nog jong is en terwyl ek dit nog kan doen.

Ek lees nou die dag iets wat ek glo nogal betrekking op my lewe het :

Life's journey is not to arrive at the grave safely in a well preserved body, but rather to skid in sideways, totally worn out, shouting "Holy shit... What a ride!

en dis hoe ek my lewe wil lei !!!

Ek weet nie wat die jaar se Freedom Challenge ervarings vir my gaan inhou nie, ek het so vermoede dit gaan baie hard wees, om een of ander duistere rede het die Freedom Challenge komitee besluit om my in die laaste groep te plaas, volgens my hoort ek nie regtig daar nie, die manne wat saam met my wegspring is heeltemal te vinnig na my sin.....

Die grootste voorreg vir my is om weer saam met Tim te kan ry, oor die jare het ons baie groot vriende geword, ons deel dieselfde uitkyk oor die Freedom Challenge, dieselfde spoed, wel hy is heelwat vinniger as ek in die dag en ek dalk meer aanhoudend in die nag.

Ek bevind my in 'n drieman span saam met Stuart Roos ( die Ingelsman) en Ivor Jones ( die Boer ) en dit klink my hulle is baie goed voorbereid vir die Challenge, die "mix grill train" kan my dalk net aanspoor tot nuwe hoogtes en minder slaap........

Oor 'n maand en 'n bietjie sal ons egter weet wat gebeur, hoop dis net goeie ervarings !!!

7/21/2014

" Freedom Challenge 5 Jaar se wedervaringe " Die Boek


Ja julle lees reg en julle het my oortuig om die boek te skryf, dis blykbaar nie so maklik soos druk die knoppie en walla daar's 'n boek nie, toe nou nie.......

Die beplanning is om my blog te omskep in 'n boek met bykomende inligting.

Ek benodig inligting spesifiek oor die Freedom Challenge waaroor julle graag wil lees :


  • Wat wil julle graag lees ?
  • Die titel van die boek
  • 'n Unieke hoek vir die boek, en die inhoud
  • Waaroor moet ek skryf wat nie in my blog verskyn nie.
  • Foto's wat julle graag wil hê ek moet plaas.
Die boek gaan vir eers in Afrikaas verskyn, ek sal eers my Ingels moet opknap voordat ek dinge in Ingels probeer vaspen, Ingels rol nog nie so lekke van die tong nie.

Die boek gaan basies handel oor 5 jaar se wedevarings deur myself onderneem en daar behoort baie van die bestaande hoofstukke uit die blog gebruik te word.

Dankie vir julle insette.....

7/12/2014

5 Freedom Challenge's die vol sirkel.....

Van die begin het ek die gevoel gehad dat dit seker my laaste Freedom Challenge in 'n baie lang tyd gaan wees.........

Hierdie Challenge, my laaste een in 'n lang tyd moes dus sy merk maak, ek was nooit gepla oor wen of enige poduim posisies nie, die doel was net om my eie persoonlike beste 15 dae rekord te breek en daarom moes ek elke dag verder ry as wat ek in die verlede kon doen. Ek moet sê my pogings om voor die jaag duiwels Graham, Glenn en die res te bly was ook 'n aansporing, ek weet hoe voel dit om iemand te jaag, hom te ruik, sy vars spore te sien, die warm bed te voel waarin hy minute gelede geslaap het en hom net nie kan vang nie.

Daar was tog tyd in die dolle jaagtog om plekke te besigtig en kwaliteit tyd te spandeer op spesiale plekke om dit vir 'n laaste keer in te neem, een was die Maria Zell kerk, moet sê dit was regtig die moeite werd. 'n Ander een is bo-op Bontehoek, dis nogal 'n spesiale plek vir my, Klerksdorp is maar 'n plat plek, miershope is ons hoogste berge, afgesien van die mooi is dit vir my die skeiding tussen regte berge en platter wêreld vorentoe, baie makliker en vinniger vir my.

'n Ander baie spesiale ding vir my is die sterre, ek het regtig elke aand geniet wat ek buite geslaap het, dis wonderlik om jouself wakker te hoes, jou oë oop te maak en vir 'n oomblik die hemelse skoonheid van die sterreprag in te neem en dan verder te slaap. Die sterre op die Freedom Challenge is regtig so naby, jy kan hulle pluk, jy voel ook sommer baie nader aan die Hemelse Vader en die gerustheid dat Hy op jou neerkyk, bring 'n rustigheid in jou hart wat jy net op die Freedom Challenge kan ervaar.

Die sterre en die volmaan het my al baie per geleentheid na my slaapplek gelei, ek onthou spesifiek my 2de Challenge toe ons sonder ligte teen Lehana's uit is. Dit was 'n wonderlike ervaring, so asof jy met elke tree nader aan die sterre en die Here klim. Die sterre het my ook vyf keer in 'n ry na Elandsberg gelei.

Vuurwerk vertonings, die verskietende ster, 'n helse bol vuur wat die wêreld verlig is ook heelwat beter op die Freedom Challenge, dis so asof jy moet koes vir die vallende ster....

Dit het my 5 jaar geneem om te besef die Freedom Challenge gaan eintlik oor 'n baie hegte vriende kring, dis soos weermag, net die manne wat daar was kan saam praat en die ervaring oor en oor deel. Vriende ja, in tye van afkak word hegte bande gesmee en die Freedom Challenge is 'n baie warm yster, maar daar word nie net hegte bande tussen deelnemers gesmee nie, ook tussen die support stations, ek dink aan mense soos Christo Botha, die Freedom Challenge is half leeg sonder die groot man.

Dan is daar ook vriende wat familie geword het, Andrè en Joyce van Slaapkranz het my nuutste familie geword en het 'n baie spesiale plek in my hart. Dit was altyd 'n groot voorreg om by hulle oor te slaap, hulle was altyd behulpsaam, besorg en vertroosdend en genesend, ek het hulle altyd met 'n warm gevoel en nuwe lus verlaat. Dan is daar ook Danie van Moordenaarspoort, altyd gereed met 'n plan, Sandra en Diederick van Kranzkop, Geloof Hoop en Liefde is al wat ons nodig het. Stefnie en Wil van Roomansfontein, ek kon altyd op Wil staatmaak vir iets van sy fiets in 'n noodgeval. Amanda van Stuutgaurd geseles die Freedom Challenge borrelend aan die brand, Oom Gawie van Gansvlei in die Schufteberge, my lewensredder beskermer van 'n ontmoeting met Rageltjie de Beer.

Oom David en tannie Verity van Struishoek, dis nou wragtig spesiale mense, wag vir jou tot laat nag, jy mag eenvoudig nie verby sonder 'n kuier nie, oorslaap is eintlik 'n moet. Oom David het selfs per geleentheid terwyl hy in Suid Wes was vir my 'n oorslaap in sy Struishoek Hotel gereël, hulle is die mense wat my hart altyd baie warm laat klop het. My beplanning die jaar was om naby Gegun iewers onder die sterre te slaap, maar ek kon net eenvoudig nie verby Oom David hulle gaan nie, geweet as ek aanklop sou ek in my eie hotelbed by hulle moes slaap en kies toe maar die afdak langs die gerage. In my hart was ek naby hulle en het ek hulle liefde en ondersteuning ervaar, sal verseker weer 'n draai daar moet gaan maak.

Dan is daar ook mense soos Hestelle van Dam se Drift, waar in die lewe kry jy goeie kos en gasvryheid met 'n haarsny ? Die volgende baie spesiale mense is Johann Rissik altyd gereeld met 'n lekker koppie koffie al is dit in die baie vroeë oggend of laat aand ure van die Challenge, man so koppie koffie gee mens net weer nuwe moed vir die wind. Ria en Lindsey van Dennehof, in my oë die 6 Ster hotel van die Challenge, jy word op jou hande gedra vandat jy daar aan land tot jy weer vertrek, jy word letterlik vernuwe by Dennehof en dis met nuwe krag wat jy die laaste deel van die tog aanpak. Oom Gerhard en tannie Ronel van Rouxpos verdien ook 'n spesiale plek in my hart, altyd bly om ons te sien, gereed met lekker kos en die heel lekkerste waffels en roomys op die aarde !!!

Die  mooi van die Challenge, die eerste deel van die Challenge tot in Rhodes is altyd vir my die ergste, deels omdat ek van plat wêreld kom en jy in jou moer in klim en dan ook omdat alles al ewig afgebrand word, die enigste mooi deel is die deel van Blackfountain na Tinana en dan ook die sterreprag van Lehana's as jy dit in die donker aanpak. Dan volg die deel van Rhodes na die Baviaans waar die mense vir my die mooiste deel is, warm hart mense wat jou enige tyd sal in nooi vir 'n koppie koffie, 'n biertjie en selfs 'n skaap tjoppie, dis so asof hulle jou wil vashou en jou vol ware omgee mens wil prop. Sout van die aarde mooi mense en die mooi oorskadu die mooi van die naruur by verre.

En dan volg die regte mooi van die Freedom Challenge, die Baviaans en Gamkaskloof en net om dit baie meer aanliklik mooi te maak gooi David die Osseberg nou Modor genoem in, kyk om die mooi te geniet moet mens eers swaarkry en suffer en dis presies wat die osseberg doen, dog ook mooi in eie wese, maar dit bring 'n wildheid en vrees in baie challenger mee. Kyk daar wil jy nie verlore raak nie, al is dit hoe mooi, dis as die Osseberg jou verswelg, dit dreineer jou energie, vreet die tyd en dis ongenadiglik, die dorings verteer jou en dis so asof die plek jou siel opvreet, jy smag na lewe, na beskawing en al waaraan jy kan dink is dat jy daar wil uit.

Net wanneer jy dink jy is verswelg verskyn die Baviaans, ongeskonde mooi en nuwe lewe borrel deur jou are en jy spons die mooi op en vernuwe jou aanslag en dan kom die winde van verandering tussen Prince Albert en Willomore, 65 km per uur winde laat jou gou van die mooi vergeet en jy nodig iets soos die Swartberg pas en Gamkaskloof om weer nuwe lewe in jou in te blaas en dis presies wat dit doen. Dit tel jou op en plaas jou op 'n nuwe " High " jy weet die einde is nie ver nie, dis eintlik oogknippe en oomblikke ver en dan vind jy jouself in Stetteyns....

Stetteyns die plek wat jy met 'n baie heilige ontsag betree, heilige grond sê ek jou, dit worsel die laaste emosie uit jou uit, bring jou letterlik op jou kniee, slaan jou oë op na die Hemel en jy vra die Liewe Vader om jou tog net krag te gee om jou deur te sien.

Terwyl jy worstel, wonder jy baie hoekom David die deel ingebring het, jy verwens en vervloek David, gaan sy nek omdraai as jy eendag Stetteyns oorwin en jy swoeg voort, stoei, breek gooi en ploeter en stadig kom die einde in sig. Huil soms van moedeloosheid, soms van woede en soms omdat jy weet die einde is in sig en wanneer jy eintlik bo uitkom wil jy vir David soen en omhels van vreugde en nou weet jy eintlik hoekom hy die verswelgende deel ingesit het. Stetteyns dreineer jou, wurg die laaste emosie uit jou uit om plek te maak vir die Freedom Challenge ervaring, met 'n knop in jou keel pak jy die laaste deel aan, en emosies spoel oor en oor in jou heen, trane vloei vrylik en jy het 'n nuwe waardering vir die wêreld........


Die Du Toit's Kloof pas louter die nuwe ervaring, emosies word gesmee in vlees en bloed en 'n hunkering word gebore, dalk nie dadelik nie, maar in die komende weke sal 'n soeke ontstaan om jouself weer te ondek op die Freedom Challenge........

,
 Hoekom jy wil terugkom weet jy nie, maar jy weet jy wil terugkom.....

Die Freedom Challenge verander jou, verseker ten goede, jy bekyk die wêreld met nuwe oë en waardering en jy hunker om terug te kom om verder in die hoogoond van die Freedom Challenge gesmee te word....

Dankie my wonderlike vrou en kinders vir julle ondersteuning, dankie dat julle in my vermoëns geglo het en dat julle altyd daar was vir my. Ek hoop ek het julle nie te veel afgeskeep in die soeke na myself nie, maar ek kan julle een ding verseker sonder julle ondersteuning en liefde sou ek dit nooit gemaak het nie. Altyd net 'n oproep ver vir vertroosting en liefdevolle motivering, baie keer was ek soekend na sein, smagtend net om julle stemme te kan hoor. Saam is julle in my Freedom Challenge ervaring in murg en been gesmee, Melanie het die jaar selfs met die ervaring van die jare vir my 'n werkende sub 15 dae plan opgestel en dit maak werk. Ek kan nie genoeg dankie sê vir alles wat julle vir my betekin het nie !!!! Ek dra julle in my hart, julle bruis deur my are en julle was altyd in my gedagtes, sonder julle kan ek nie.



Sonder die hemelse Vader sou niks vir my moontlik gewees het nie, dankie Here vir die voorreg om aan die Freedom Challenge te kon deelneem, dankie dat U altyd u beskermende hand oor my gehou het, dankie dat U ook my kosbare familie beskerm het tewyl ek weg was. Here dankie vir elke dag se krag, dankie vir die voorreg om in U paradys te kon deelneem, dankie dat ek U kon ervaar in die sterre prag, in die majesteuse berge, in die wonderlike mense op die roete en in elke stap en trap. Here dankie vir gesondheid en die voorreg om die Freedom Challenge herhaaldelik te kon geniet, neem U ook nou my hand in my soeke na 'n nuwe avontuur. Amen